Totale vergifnis – ‘n ma se wit kruis langs die pad vir haar 18-jarige dogter

Het jy al langs ‘n grootpad gery en ‘n kruis langs die pad sien staan en gewonder wie dit was, hoekom daar ‘n kruis opgerig is en wat presies plaasgevind het?

Ek sien gereeld sulke kruise raak en een van daardie kruise se verhale het nou by my kom nesskop en deel geword van my gedagtes en my eie lewe. Ek sal nooit weer verby sulke kruise ry sonder om te dink aan die hartseer en tragedie wat daar afgespeel het en die impak wat dit op ‘n familie of families gehad het nie. Dit is veral ook in lydingstyd voor Paasfees waar kruise altyd vir my meer opmerklik is, juis omdat dit my elke keer herinner aan Jesus se massiewe opoffering en redding wat deur so ‘n kruis gekom het, vir almal wat Hom wil aanvaar en innooi in hul lewens.

Vir ‘n hele ruk lank maal die hele konsep van vergifnis in my kop en die sirkel van vergifnis bly by my opkom vir geen menslik verklaarbare rede. Ek vind egter nie duidelikheid rondom my vergifnis storie nie en los dit by malende gedagtes sonder enige werklike oplossing of iets wat tot ‘n blog kan lei. Ek sien wel die drie kruise op die pad tussen Upington en Keimoes konstant raak en dink elke keer aan wat ook op daardie klein draai in die pad plaasgevind het en die grootste gedeelte van ‘n familie so vinnig weggeruk het. Dit bring egter steeds nie duidelikheid tot my sirkelbeeld en die vergifnis komponent daarvan nie en ek los dit by malende gedagtes.

My antwoord kom later na vore toe ek myself in Kimberley bevind in die laat-somer van 2019 vir ‘n werkswinkel wat meeste van die Stadsbeplanners van die Noord-Kaap byeengebring het. Soos dit met meeste werkswinkels gaan, breek ons vir teetyd die oggend en ek maal tussen die bekende gesigte van my beplanningswêreld rond. Ek land langs ‘n klein groepie mense waarvan ek twee individue glad nie ken nie. Stel myself voorbarig voor en begin heerlik gesels oor die normale dinge van my beroep. Een van die mense in die groep, Corrie Burger vermeld op die een of ander manier van ‘n boek wat sy geskryf het. Onmiddellik is my aandag by hierdie interessante vrou en natuurlik begin ek uitvra oor haar boek en wat dit behels. Of ek gereed was vir die gesprekvoering wat gevolg het, sou sekerlik net ons hemelse Vader geweet het, Hy wat ons langs mekaar geplaas het vir wat sou volg.

Corrie vermeld in my navraag aan haar dat sy ‘n boek geskryf het na haar dogter oorlede is en ek maak vinnig die som in my kop, dat Corrie se dogter nie te oud kon gewees het met haar dood nie. Sy vertel kortliks vir my dat sy die boek moes skryf bloot omdat dit haar vorm van heling was en dat sy ander ouers wil help wat deur dieselfde beproewing gaan as wat sy deur is. Die proses van heling, om weer die stukke van jou lewe bymekaar te sit, ook om te vergewe en die pad wat so ‘n ouer stap, is nie ‘n maklike pad nie en net daar kom my antwoord op die sirkelvorminge beelde in my kop.  Soos in my, Len Fourie se aard, praat Corrie in 10 minute my reeds tot trane en ek noem aan haar dat ek baie graag haar boek sal wil lees. Haar dogter is in haar matriekjaar oorlede in ‘n motorongeluk in omstandighede wat vir seker vergifnis na die tyd sou verg, ‘n vorm van vergifnis wat baie dieper is as wat meeste van ons in ons lewens te make mee sal kry.  Terug in die saal sit ek en verwonder my aan die weë en werking van ons Hemelse Vader en die feit dat Hy hierdie formidabele vrou oor my pad sou bring presies op die tyd wat Hy weereens bepaal het.

Middag-ete maal ek deur die eetsaal van die uiters deftige Hotel op soek na Corrie en alhoewel dit aanvanklik nie lyk of ek naby haar sal kan sit nie, gaan daar op die regte oomblik ‘n plek aan haar tafel oop en ek vind my plekkie vir die invul van my legkaart. Om die waarheid te sê, verwonder ek my so aan Corrie gedurende ete dat ek na die tyd nie veel van die ete kon onthou nie. Op die een of ander manier het Corrie ook intussen ‘n kopie van haar boek in die hande gekry wat sy aan my oorhandig en op daardie oomblik stap Chara van Zyl in my lewe in (sien foto van die oomblik van oorhandiging). Chara was pas 18 toe sy op 11 Julie 2014 in ‘n motorongeluk net buite Kimberley oorlede is en Corrie verduidelik die sirkel van vergifnis aan my soos geen ander mens dit nog ooit verduidelik het nie (later meer hieroor). Ek en Corrie groet en ek stap alleen daardie middag uit die glasdeure van die Hotel met ‘n boek in my hand wat ek weet vir ‘n rede op my pad gekom het.

Corrie se boek, ‘As die son se strale weer vir jou deurbreek’ is geensins geskryf om simpatie te ontlok nie, ook nie vir die emosionele konteks daarvan nie en die fokus is op heling, herstel en baie spesifiek vir die pad wat ‘n ouer moet stap na die verlies van ‘n kind. Terwyl ek lees kan ek nie eens begin om myself voor te stel wat alles gebeur het die aand van die 11de Julie 2014 nie. Corrie maak nie veel melding van die presiese gebeure van daardie aand nie en ek sit en wonder wat deur haar en haar familie se koppe moes gaan toe hul daardie tyding gekry het. Daardie oproep of boodskap wat nuus dra wat nie een van ons aardse wesens sterk genoeg is om te hanteer nie: Jou kind is dood.

Ek probeer my die absolute verbysterende chaos en hartverskeurende tonele voorstel wat Corrie nie in haar boek beskryf nie, maar wat vir seker in so ‘n huis moes plaasgevind het na so ‘n tyding. Die dood van énige geliefde is skrikwekkend emosioneel uitmergelend vir die meeste van ons, maar die ontydige dood van ‘n kínd is op ‘n ander vlak wat ek vir seker nie kan begryp nie. So ‘n oproep verander mense se lewens vir ewig en stuur families en mense op ‘n ander pad as wat hul was of ooit kon dink. Deur die lees van haar boek leer ken ek vir Chara deur haar ma se oë en kruip hierdie dierbare mense-mens kind met die lang bene en lang hare, met die blink toekoms diep in my hart in. Ek leef saam met Corrie deur die fases, die stappe van rou en die lang proses wat volg nadat die laaste blomme van die begrafnis weggegooi is en ander mense aangaan met hulle lewens terwyl jy as ouer voel jou lewe het geëindig.  Ek stap die pad saam met Corrie en haar familie na die ‘nuwe’ eerste jaar van alles – Chara se eerste verjaardag in die Hemel, ‘n moeder se eerste moedersdag sonder haar lieflingdogter, die eerste alleen vakansie en dan, daardie groot dag van die jaar wat meeste van ons op een of ander manier na geliefdes laat verlang… Kersfees. Corrie se boek bring my meer as eenkeer tot trane, nie omdat sy dit vir die emosies geskryf het nie, maar omdat ek hierdie indrukwekkende vrou ontmoet het en ek myself in haar diepe wroeging en hartseer kon verplaas.

Vir my is die grootste en diepste impak wat die boek op my maak die pad van vergifnis wat so ‘n familie moes stap. ‘n Kind wat onskuldig in ‘n motor beland wat onder bedenklike omstandighede in ‘n aaklige ongeluk, tot Chara se dood lei. Vir my wat so sukkel om te vergewe bring hierdie kosbare verhaal van die pad wat gestap moet word, so baie duidelikheid dat ek skaam kry vir my eie onvermoë om maklik te vergewe. ‘n Moeder wat die mens moet vergewe wat haar kind se dood veroorsaak het, sonder dat daardie mens ooit self om vergifnis kom vra het of ooit die woord ‘jammer’ verwoord het. Daardie kant van vergifnis wat ek nie verstaan het nie word duidelik soos daglig vir my en raak skielik deel van my menswees en my eie gedagtegang.

Tydens ons eerste en enigste ontmoeting tot dusver daardie dag in Kimberley, verduidelik Corrie die onvermoë om te vergewe as volg: “Om nie iemand te vergewe nie, is soos om self gif te drink en te hoop die ander mens gaan dood”. Hierdie beeld en haar getuienis van vergifnis maak my nederig en skaam vir myself. Corrie verduidelik dat alhoewel totale vergifnis ‘n volle sirkel is, jy as mens net die een helfte daarvan kan voltooi, jy kan net jou gedeelte doen. God verwag van jou as mens om heeltemal, totaal en al te vergewe en al vra die ander persoon nooit self om vergifnis nie, of verwoord nooit dat hul jammer is nie, moet jy jou helfte van die sirkel voltooi. Of die ander persoon ooit die ander helfte voltooi, moet nie vir jou belangrik wees nie en dis ‘n saak tussen daardie mens en ons Hemelse Vader. Dit is nie óns voorreg om te oordeel of wraak te neem nie. Die verhaal van die verlore seun is die mooiste voorbeeld waar die sirkel voltooi is, ‘n seun wat in diepe berou en opregte nederigheid teruggekom het na sy pa, ‘n pa wat reeds lank voor sy seun teruggekeer het, sy seun vergewe het en net op die uitkyk was vir sy terugkoms. Pa en seun het hul helftes van die sirkel voltooi en ‘n wonderlike pad van genesing en heling kon daardeur plaasvind.

In Corrie se geval moes sy en haar familie hul helfte voltooi en nou, amper 5 jaar later, is die seer en die hartseer steeds deel van hul lewe, maar die gif van onvergewensgesindheid is weg. Dit is die rede hoekom sy en haar familie kon herstel, hoekom hul weer voluit kan leef, hoekom hul weer kan lag, kan lewe sonder verwyt en ek glo, ons Hemelse Vader laat glimlag. Chara leef tevrede voort deur hulle en sy leef in die hemel op ‘n plek wat ons almal smag om op die einde te wees. Sy is net vroeër as die res van haar familie reeds daar en dis die grootste vertroosting wat ons op aarde kan verkry.

Vir jou as leser en vir myself is die vraag of jy steeds met die gif in jou botteltjie rondstap, so elke nou en dan weer ‘n slukkie daarvan neem en dophou of die ander persoon nie dalk iets oorkom nie. Ek daag jou uit om in hierdie lydingstyd jou botteltjie gif weg te gooi, dit vir Jesus te gee en jou helfte van die sirkel te voltooi, want Jesus het reeds die volle sirkel vir ons almal op Golgota voltooi.

Chara van Zyl, ek kan nie wág om jou eendag in die hemel te ontmoet nie en elke jaar op 27 Mei sal ons ook jou lewe vier, want jou lewe het ‘n doel gehad, jy het ‘n onvergeetlike impak gemaak op mense wat jy nooit ontmoet het nie en jy maak steeds deur jou familie elke dag ‘n impak op ons wat agtergebly het. Dankie dat jy so geleef het dat 18 jaar genoeg was, die res van ons vat baie langer om te voltooi wat jy in so ‘n kort tydjie vermag het en mag jou storie vragte mense inspireer en na God lei.

Vorige artikel10 redes hoekom diëte misluk
Volgende artikelMy Laslappie-eed
Blogger - Len Fourie
Len matrikuleer in 1992 te Hoërskool Upington en behaal 5 jaar daarna sy Magistergraad in Stads-en Streeksbeplanning (1997) aan die Universiteit van die Vrystaat. Len begin reeds in 1995 as student werk by Macroplan Stads-en Streeksbeplanners in Upington (dieselfde Firma waar hy permanent aansluit as Stadsbeplanner in opleiding einde 1997), na voltooiing van sy M-Graad studies. Len is bevoorreg genoeg om in 2006 Hoof Stadsbeplanner te word en die Firma Macroplan se bestuur oor te neem. Len het ‘n absolute passie vir sy Hemelse Vader wat hom die gawe gegee het om sy talente in die lewe uit te leef, ‘n groot liefde vir sy geboortedorp Upington, sy gemeenskap en die Noord-Kaap Provinsie in geheel. Die aspekte wat Len se hart vinnig laat klop sluit in enige vorm van toer, verkenning van ‘n nuwe plek, nuwe land, hetsy in Afrika of enige land oorsee, die neem van amateur foto’s en veral die bestudering van die klimaat. Die lewe bid soveel skoonheid en hy wil dit vasvang en dit met mense deel.