Totsiens vir die groen monster

0
788

Jy het nie jou vriendin se slim kinders, jou sussie se lyf of jou kollega se verhoging nodig nie. Raak dus ontslae van jaloesie en wees gelukkiger!

Stel jou voor dat jou gedagtes soos ’n radiostasie is. Jy kan ingeskakel wees op ’n stasie met opbouende boodskappe of jy kan na gemors luister. Laasgenoemde sal iets soos die volgende speel: “Ek sou kon doen met (haar) miljoen.”

Die groen monster slaan sy kloue in jou wanneer jy bang is dat jy iets kan verloor wat vir jou kosbaar is. Jy sal ook afgunstig voel as jy meen dat jy op iets geregtig is. Dink maar hoe suur jy gevoel het toe jou kollega die bevordering waarvoor jý so hard gewerk het, voor jou neus weggeraap het.

Afguns maak jou onredelik en minder objektief . Dan sê en doen jy dinge wat verhoudings kan vernietig. Jy verlaag ook jou eiewaarde deur jouself gedurig met ander te vergelyk. Jy benadeel net jouself!

Die slegte nuus is dat “jaloesie op die lug” nie gaan ophou uitsaai nie. Die goeie nuus is dat jy nie daarna hoef te luister nie.

Toets jouself en erken dat jy jaloers is

Omdat jaloesie baie vermommings het, is dit soms moeilik om dit uit te ken. Hier is ’n paar vrae wat jy vir jouself kan vra: Is die versoeking soms groot om iemand te saboteer wat jou minderwaardig laat voel? Raak jy ontsteld as ’n kennis presteer? Kraak jy ander se talente, prestasies, gelukskote of voorkoms af? Voel jy leedvermakerig as ’n vriendin of familielid ’n terugslag beleef?

Miskien steek jy jou afguns weg agter ’n masker van kritiek, selfbejammering of selfs vals komplimente. Erken nou hardop teenoor jouself: “Ek is jaloers.”

Jy kan dit selfs oorweeg om met die persoon te gaan gesels wat jy beny. As jy haar leer ken, besef jy dalk sy mag nou wel ’n groot salaris kry, maar sy het ’n kind met spesiale leerbehoeftes.

Moenie jou lewe met ander s’n vergelyk nie

Wees eerlik. Wil jy meer omtrent ander weet sodat jy in hulle geluk kan deel of om jou situasie met hulle s’n te vergelyk?

As laasgenoemde waar is, wees dan ten minste gebalanseerd. Moenie net jou middelklasmotor met ’n vriendin se sportiewe blits vergelyk nie, maar gaan ry ook ’n slag in minder gegoede buurte. Dan besef jy dalk jy kan dankbaar wees jy het ’n ryding!

Die Here het dit goedgedink om net een soos jy te maak. Wie is jy om met Hom te stry? As jy heeltyd konsentreer op wat jy nié kan doen nie, verkwis jy waardevolle energie wat jy eerder kan gebruik om die beste van jou gawes te maak.

Mense sal ook gemakliker voel by jou as jy gelukkig is met jouself en nie gedurig ander probeer naboots nie.

Vier ander se sukses saam met hulle

Uiterlik staan jy met ’n glimlag op jou gesig, maar van binne stoom jy: “Gmf, haar kind mag dalk eerste staan in sy klas, maar hy is glad nie ’n engeltjie nie!”

Toe Charlize Theron die Oscar gewen het, was jy saam met haar bly. Maar laat jou vriendin nou net “verslanker van die jaar” wees en jy voel asof jy haar oë kan uitkrap. Dit is omdat die mense wat naby aan ons is en vir wie ons omgee, se prestasies die seerste maak, meen kenners. Dit laat ons aan ons eie vermoëns twyfel.

Dit is moontlik om jou negatiewe gevoelens om te swaai in ’n positiewe krag. Laat die vriendin wat haar middeljarige lyf weer ferm geoefen het, jou motiveer om saam met haar te oefen.

Wees bewus van jou beperkings. Aanvaar wat jy nie kan verander nie en onthou: Jy hoef nie goed te wees in alles nie.

As ons maar net kan leer om opreg te sê: “Ek is so bly vir jou”, word jou vriendin se oorwinnings ook joune. Volgende keer is dit dalk haar beurt om dit vir jou te sê.