Trappe van vergelyking

Ek onthou nog hoe my Laerskool onnie ons die trappe van vergelyking laat hardop sê het soos ‘n papagaai.

Vir ‘n elf jarige dogtertjie het die reëls van Afrikaans min sin gemaak en ons het dit maar net geleer sonder om die begrip agter die konsep te verstaan. Nou dat ek ‘n ma is het die trappe van vergelyking heeltemal ‘n ander betekenis vir my; dis die vergelyking tussen ma’s.

As ‘n mens doelloos deur sosiale media soos Facebook, Instagram en Pinterest blaai, kom die vergelyking van goed, beter en beste dadelik na vore. Ek wil nie net ‘n goeie ma wees nie, ek wil die beste wees. Ek voel dadelik skuldig wanneer ‘n mamma haar resepte vir veselryke smoothies plaas wat allerhande gesonde groente en vrugte bevat.

“My kleinding is mal oor die een omdat dit groen is” voeg sy by die spinasie- en avokadopeer resep, en dadelik dink ek by myself dat my dogtertjie dieselfde gesig sal trek as ek so iets vir haar voorsit, soos wat sy gedoen het toe ek in my onkunde vir haar pap ertjies wou voorsit toe sy begin vaste kos eet. Ek wil ‘n goeie ma wees wat vir my kind groen smoothies gee as ‘n tussen-in happie, maar word dadelik terug gebring realitiet toe as ek onthou dat kinders net soos ons, smake en voorkeure het.

Ek wil ‘n beter ma wees as ek lees hoe ander mamma’s hulle kinders se slaap roetine onder die knie het; rustig bad, lees ‘n storie en deel drukkies uit voor sy haar liggie af sit en omdraai om te slaap, sonder n geveg. Ek dink ek sal ‘n beter ma wees as ek nie ingee en weer opstaan vir ‘n glasie water en om haar handjie vas te hou soos sy aan die slaap raak, want sy is bang vir die dapper muis nie. Ek wil ‘n beter ma wees, maar nie ten koste van die hegte band wat ek en my dogtertjie het nie, juis omdat ek haar beskerm teen die dapper muis.

Ek wil die beste ma wees, want niemand anders kan haar mamma wees soos wat ek kan nie. Ek het haar immers vir 9 maande in my gedra, haar leer ken, haar beweings en haar slaap patrone. By my voel sy veilig, want by my kan sy heeltemal haarself wees, al sug ek so nou en dan dat sy die stoutse by my is.

‘n Goeie ma is nie noodwendig die een wat natuurlik geboorte gegee het nie, ‘n goeie ma is die een wat haar voorbeplande geboorte plan los en doen wat ookal nodig is om die veiligheid van haar baba te verseker gedurende geboorte, ‘n beter ma is nie noodwendig die een wat geborsvoed het totdat die kind een jaar oud was nie, ‘n beter ma is die een wat doen wat nodig is sodat haar kind die nodige kos inkry vir groei en ontwikkeling, al moet sy aande om sit en weggesteekte groente resepte soek op Google. Die beste ma is nie noodwending die een wat alles reg doen, al die regte kos gee en wie se huis skoon en netjies is nie.

Nee, die beste ma is jy! Die Here het daardie kind toevertrou aan jou, want Hy het geweet net jy kan die kind groot maak en ontwikkel vir die planne en drome wat Hy vir die kind het. So wanneer jy weer afkom op ‘n artikel of ‘n Facebook foto van ‘n ma wat lyk of sy alles onder beheer het, onthou, daar mag dalk tien ander smoothies in die asblik wees wat haar kind nie wou drink nie.

Daar mag dalk ander probleme wees waarmee sy worstel en die res van die huis mag dalk lyk of ‘n orkaan dit getref het en nie so perfek soos sy probeer opruim het vir die foto nie. Kom ons ondersteun mekaar eerder op hierdie moeilike pad van ma-wees as om te vergelyk wie is goed, beter en beste.

Vorige artikelSpanwerk, die sleutel tot sukses!
Volgende artikelWat as ek my drome moet prysgee?
Blogger - Izelle Joubert
Ek is ‘n mamma van 'n vrye gees en lawwe dogtertjie van drie jaar oud en het 'n passie vir skryf en ma wees. Nadat die Here my hart aangeraak het om die korporatiewe wêreld en gejaag te veruil vir ‘n deeltydse werk, het ek my passie vir skryf herontdek. Ek het 'n honeurs graad in Bedryfsielkunde en is 'n geregistreede Psigometris by die HPCSA, maar die mees vervullende werk vir my is dié van vrou en ma wees. Ek is al 9 jaar getroud met Donavan en ons het wortels geskiet in Kempton Park. Ek het 'n hart vir ander mammas omdat dit ‘n lekker, maar moeilike taak is. Ek is baie lief vir die Here en is mal oor die talent van skryf wat Hy vir my gegee het. Sodoende wil ek graag eerlik met mamma’s kan praat oor die moeilike en lekker dele van mamma wees, niemand is die perfekte ma nie en ons almal kan by mekaar leer.