Trek aandag met gevormde kuite

0
87
kuite.jpg

Mooigevormde kuite is ’n bate vir enige vrou, maar is van die moeilikste spiere om te vorm en te bou. Jy kan hierdie oefening enige tyd, enige plek doen, maar doen dit gereeld, drie tot vyf keer per week. Kuitoefeninge werk die beste as jy dit op ’n trappie doen.

1 Staan op ’n trappie

Hou met een hand liggies aan iets stewigs vas om te keer dat jy jou balans verloor. Staan op die rand van die trappie. Lig jou linkervoet op sodat jou gewig op jou regterbeen rus. Lig die hak van jou regtervoet op totdat jy op die bal van jou voet staan.

kuite_1.jpg

2 Laat sak jou hak

Laat sak nou jou hak totdat dit laer is as die trap se rand. Jou kuitspier moet dus nou harder werk om jou op te lig totdat jy weer op die bal van jou voet staan. Doen 3 stelle van 15 herhalings met elke been.

kuite_2.jpg

3 Albei voete op die trappie

Vir groter kuite, gebruik swaar weerstand in die vorm van hand- of enkelgewigte. Dit moet so swaar wees dat jy net 8-10 herhalings kan voltooi. Doen 3 stelle. As jy net jou kuite mooi wil vorm sonder om die spier te bou, gebruik ligte of geen gewigte nie sodat jy 15 herhalings kan doen.

kuite_3.jpg

Geskryf deur Linda Kriel

Volg Linda op Twitter by @linda_kriel