Trek is nie vir sussies nie!

Met 2018 wat aangebreek het, het ek ‘n paar dinge op my to-do list gehad, een van hulle was om te trek.

Ek het altyd gedink dis eenvoudig, maar ook bygesê, van kleinsaf moes ek altyd net my kamer oppak en uitpak – niks van die groot pakkery en trekkery nie. Totdat ek self moes trek.

En Eish! Dit is een helse werk – letterlik!

Met die inpak het ek besef, daar is meer aan ‘n trekkery as wat mens dink. Ek het opgemerk oor hoeveel werk dit is en wat dit aan jou as mens doen. Met so trekkery, moet mens natuurlik ontslae raak van sekere goed. Ons almal was al daar voorheen – besluitneming is moeilik, en dit kan dikwels emosioneel dreinerend, frustrerend en selfs pynlik wees.

Dit is moeilik om ontslae te raak van sekere goed van jou, van dit is kosbaar en het goeie herinneringe wat daarmee gepaard gaan, ander bring weer woede op in jou en dan is daar goed wat jou hartseer maak. Dis ‘n hele stoompot vol emosies.

My moeder het my geleer dat mens gereeld jou huis moet “spring clean” en alles wat jy opgaar en wat onnodig is, moet jy uitgooi om te skenk. Ek het besluit om dit te doen voordat ek trek na my nuwe plek toe. Ons het allerhande ingewikkelde verhoudings met die goed wat ons besit. Trouens, dit kan soms voel dat ons, aan ons goed behoort as andersom.

Toe ek besluit het om van my goed te verminder,het ek besef dat ons geneig is om enige ruimte vol te maak, veral die goed wat deel was van “retail therapy”. Dit is so maklik om gevoelens te koppel aan goed. Ek kan al aan ‘n paar goed versorgde verskonings dink aan hoekom ek sekere van my goed moet hou, veral as dit by klere en huis dekor kom.

Maar ek moet ook bieg, dit het wonderlik gevoel om van onnodige goed en klere ontslae te raak en te skenk aan organisasies wat dit meer nodig het as ek. En nou pas alles in my nuwe plek,

Ek dink mens moet gereeld goed uitgooi, dit doen jou siel goed, om ontslae te raak van die onnodige, veral as dit nie meer ‘n doel het in jou lewensreis nie. So uitgooi van goed laat jou besef wat jy werklik nodig het in die lewe en wat nie. Elkeen van ons is skuldig daaraan om aan te hou vasklou aan aardse besittings, veral as dit deel was van jou verlede of nie meer van toepassing is in jou lewe nie.

Ek glo vas mens moet laat gaan van dit wat jou terughou in die lewe, sodat jy jou vrede kan vind en aangaan met jou lewensreis. Sekere goed het eens op ‘n tyd saak gemaak, maar om vas te klou aan dit gaan nie altyd jou gelukkig maak nie. Ons is ook almal maar net mens wat al foute gemaak het, maar jy moet laat gaan van dit wat jy nie meer nodig het nie, dis dieselfde proses met goed in jou huis.  Die “spring clean” laat jou goed voel, dit laat jou groei, dit maak jou hart rustiger en jy vind jou vrede. Dis die beste gevoel ooit.

Ek kan met ‘n rustige hart sê, ek het die trek oorleef. En geniet elke oomblik van my nuwe begin in my nuwe plek.