Trek slank aan wat jou figuur pas

0
683
ligaamsvorm.png

Elke vrou se lyf het iets wat pla. Hoe trek jy stylvol aan as die kurwes van jou lyf nie saam speel nie?

Aanpashokkies kan klein tronke van trauma wees vir ’n vrou. Vollengtespieëls omring jou en sterk beligting beklemtoon elke boep en bult. Dit is genoeg om enige vrou te dryf om haar gekneusde ego met ’n rojale sny sjokoladekoek te troos!

Die kettingwinkel City Chic spits hulle toe op modes wat ’n gewone vrou se figuur vlei. Hulle winkelassistente het FINESSE se ’n Nuwe Jy-finaliste gehelp om die regte klere vir hulle liggaamsvorm te vind. Hoewel die vroue al baie gewig met die CSN-dieet verloor het, is daar steeds areas waaroor hulle selfbewus voel. Jy kan kyk watter finalis se lyf die meeste soos joune lyk en dan die advies volg wat sy gekry het. Voorkomskonsultant Tracy Gold gee advies oor styl wat jou sal bemagtig volgende keer as jy by daardie gevreesde aanpashokkie ingaan.

As jy ’n peerfiguur het

Ansu Leahy (40), Ellisras
BEROEP bestuurder by ’n spysenieringsmaatskappy

ansu.jpgANSU SÊ My groot boude kry my onder. Die proporsies van die klere in die winkels en my lyf is net nie dieselfde nie. Teen die tyd dat ’n broek amper pas, is ek so afgetakel dat ek dit nie meer wil hê nie. Ek koop deesdae net klere omdat ek dit nodig het vir ’n geleentheid, nie omdat ek dit graag wil hê nie.

TRACY SÊ As jou heupe groter as jou borsmaat is, het jy, net soos Ansu, ’n driehoekige oftewel peervormige lyf. Dit is die mees algemene liggaamsvorm van vroue in Suid-Afrika. En hoewel hierdie tipe bou eintlik goed is vir jou gesondheid, omdat jy minder vet om jou middellyf en organe het, is dit nie altyd ʼn vreugde wanneer jy aantrek nie. So maak maar seker jy spog met jou beste bate – ’n goed gedefinieerde middel. Jy is ook geseën met ’n elegante nek terwyl jou arms en skouers mooi in proporsie is. Jy is geneig om eerste om jou dye en bene gewig aan te sit, gevolg deur jou maag en bolyf. Aangesien jou middel jou beste bate is, moet jy nie skaam wees om dit te beklemtoon nie. Die pers jas wat Ansu op die foto dra, pas fantasties by haar. Dit het skouerkussings en is ingetrek om die middel, wat die grootte van haar onderlyf balanseer. Dit skep ook die illusie van sagter, vroulike rondings.

Die toppie wat Ansu dra, eindig bokant haar heupe se breedste area. As die soom op die wydste area sou val, sou dit net haar heupe groter laat vertoon het. Die helder kleur van die uitrusting laat haar vars en jeugdig lyk.

[pagebreak]

As jy ’n figuur soos ʼn onderstebo driehoek het

Michelle Malan (32), Danielskuil
BEROEP Opleiding by myn

michelle.jpgMICHELLE SÊ Dit was maklik om klere te koop voordat ek kinders gehad het. Deesdae jaag die beligting in die aantrekhokkies wat my bulte beklemtoon, my huis toe. Ek neem liewer klere op sig sodat ek dit in vrede tuis kan aanpas.
My breë skouers is my grootste probleem. Ek probeer dit onder groot bloese wegsteek, maar dit laat my slordig lyk.

TRACY SÊ Michelle se liggaamsbou is die onderstebo driehoek. Dié liggaamstipe het breë skouers en is groot oor die rug. As jy so lyk, is jou heupe smal en jou boude plat. Jy sal geneig wees om ’n groot maag te kry. Jou bene is jou beste eienskap.

Die strepe op Michelle se bostuk lei die aandag weg van haar maag. Die oranje streep fokus die aandag op haar borste om haar vroulik te laat lyk. Die watervalstyl van die toppie bedek haar boarms. Die deursigtige chiffon en insetsels van nagemaakte leer in die bostuk is hoogmode en weerspieël haar jeug asook modebewuste ingesteldheid. Die golwings van die watervaltop trek die oog na onder. Dit is die belangrikste detail van die uitrusting, want dit vestig die aandag op Michelle se heupe en boude, sodat dit lyk asof sy meer kurwes het. Michelle moet kort lengtes by broeke en rompe vermy, want dit sal haar bolyf bonkiger laat lyk.

[pagebreak]

As jy ’n uurglasfiguur het

Shelley Carrie (39), Roodepoort
BEROEP gesondheidskonsultant

shelley.jpgSHELLEY SÊ As ek inkopies vir klere doen, verlaat ek gewoonlik die winkel met ’n gekrenkte ego omdat niks my pas nie. Dan gaan sit ek by die naaste koffiewinkel en probeer myself met ’n stukkie koek troos. Ek sukkel om klere vir my groot borsmaat te kry. Ek besef my borste is ’n bate en wil graag weet hoe om hulle elegant te beklemtoon.

TRACY SÊ Ag jouself gelukkig. Die meeste vroue streef na hierdie liggaamsvorm. Jou borste en heupe is in verhouding tot mekaar en jou middel is kleiner. Jou skouers is nie te groot nie en jou bo- en onderlyf se proporsies is ook eweredig. Jou boude en heupe het sagte, grasieuse kurwes. Jou profiel is die toonbeeld van balans.
Dra klere wat jou uurglasfiguur ten beste vertoon. Jy kan klere dra wat ekstra volheid aan jou borste en heupe gee sodat jou middel selfs nog kleiner lyk. Breë gordels of detail om jou middellyf help hiermee. Jou bene is mooi, so, moenie hulle altyd toemaak nie.

Die koningsblou rok wat Shelley dra, bewys dat ’n helder kleur wondere verrig vir ’n mens se gelaatstrekke. Omdat jy nie rietskraal hoef te wees om kleur te kan dra nie, moet jy nie daarvan wegskram nie. Die V-vormige halslyn tem Shelley se boesem sonder om die mooi vorm weg te steek. Aangesien die moue ’n bietjie uitklok, lyk haar boarms slanker.

[pagebreak]

As jy ’n regaf figuur het

Abigale du Sart (49), Johannesburg
BEROEP finansiële opleidingsinstrukteur

abigale.jpgABIGALE SÊ As ek inkopies doen, koop ek gewoonlik nommer-16-klere. Sedert die ’n Nuwe Jy program het ek tot ’n 14 gekrimp.
Party dae voel ek nog tamaai groot. Ek pas niks in die winkels aan nie. Ek dra selde helder kleure; ek dra eerder swart broeke om my dye te verbloem. Ek wens iemand kan my help om my klerekas te beplan.

TRACY SÊ Jou heupe en borste is in verhouding, maar jou middel is nie duidelik nie. Jy sit gewig om jou bolyf aan asook aan jou boarms en dye. Jou proporsies is mooi, maar maak ’n plan om jouself ’n middellyf te gee met klere en bykomstighede. Hou op wegkruip onder sakkerige of donker klere. Dra iets noupassends met ’n breë, donker belt om jou middel. Daar is nou heelwat sulke gordels in rekmateriaal beskikbaar. Jy kan ook jou middel beklemtoon deur bostukke en broeke of rompe in kontrasterende kleure te dra. Dit werk egter net vir vroue wat nie kort is nie.

Die swart insetsels in hierdie rok help om Abigale die illusie van ’n uurglas te gee. Dit laat haar middel smal lyk. Die wye gordel is ’n rigtingwyser om die perfekte verhouding tussen haar heupe en borste uit te wys. Wanneer jy jou middel beklemtoon, help dit dat jou bene langer lyk, want jou oog word gekul. Dit lyk dan sommer asof jou bene by jou middel begin!

Is jy nog steeds onseker oor wat jou liggaamstipe is?

Besoek www.voelgoed.co.za/nuwejy en kliek op Wat’s my liggaamsvorm? Volg die aanwysings en ons liggaamsvorm-meter bepaal in ’n japtrap jou presiese figuur. Sodoende weet jy sonder twyfel watter styladvies in hierdie artikel jy moet onthou wanneer jy nuwe klere gaan koop.

Geskryf deur Carla Lewis-Balden en Ryno Mulder