Trots en fier met ’n voller figuur

0
38
melissa.jpg

Melissa McCarthy is trots op haar voller figuur en stry teen Hollywood se beeld van volmaaktheid.

“’n Regte seekoeikoei” – dis hoe Melissa McCarthy onlangs beskryf is. Woorde wat seermaak, woorde wat kan verpletter. Daar is min vroue op aarde wat nie intens bewus van hulle figuur is nie en baie voer ’n stryd teen die skaal. Maer is nie noodwendig mooi nie, maar om vet te wees beteken jy voer ’n opdraande stryd, veral in ’n bedryf waar voorkoms alles is. Om oorgewig te wees is om kritiek te verduur en gereeld teen skraler vroue te verloor.

Wanneer jou vorm so ver van die norm af is soos Melissa s’n, moet jy leer om daarmee saam te leef. Dit vra ’n sekere mate van volwassenheid om jou figuur te aanvaar.

“Ek was heelwat maerder in my jong dae,” vertel Melissa, “maar ek het dit nie waardeer nie. Ek was net nooit tevrede nie. As ek ’n nommer 6 rok gedra het, wou ek in ’n nommer 4 pas.” Sy erken ook prontuit dat sy toe geensins gelukkiger was as tans nie.

Toe haar kinders gebore is, het haar prioriteite verander. “In jou twintigerjare het jy geen verantwoordelikheidsin nie. Jy is selfbehep en narsisties. Niks en niemand anders maak saak nie. Ek wou graag langer wees en ek wou natuurlik maerder wees. Verder was ek ook nie tevrede met my hare nie. Niks was goed genoeg nie en ek het my daaroor verknies. Vandat ek kinders het, het ek nie meer die energie om my oor sulke beuselagtighede te bekommer nie.”

Dis nie ten spyte van haar figuur dat Melissa sukses in haar loopbaan behaal nie, dis dikwels juis as gevolg daarvan. Vet vroue bestaan wel en kan dus ’n rol in ’n lewensgetroue film vertolk. Vet vroue en meisies word egter nie altyd met dieselfde respek behandel as ander vroue nie.

Die kritiek teen Melissa gaan gewoonlik nie oor haar spel nie, maar oor haar gewig. Sy is trots op haar kurwes en geensins van voorneme om gewig te verloor nie. Dit behoort nie vir haar baie moeilik te wees om slanker te wees nie. Alles wat haar daarmee kan help, is beskikbaar, soos ’n persoonlike afrigter en ’n dieetkundige. Chirurgie is ook nie uitgesluit nie.

Lees ook: Eerder vet en vrolik, as maer

[pagebreak] Maar sy wil juis ’n positiewe beeld skep vir oorgewig meisies wat dikwels aan ’n gebrekkige selfbeeld ly. Dalk sal sy later in haar lewe wil verslank, om gesondheidsredes, maar op die oomblik is sy doodtevrede met hoe sy lyk. “Ek is verheug dat my positiewe uitkyk oor my lyf ander aktrises inspireer. Ek kry gereeld bewonderaarspos wat my daarvoor bedank.

Dis ook nie net plus-grootte aktrises wat vir haar skryf nie. Baie aspirantaktrises verloor moed omdat hulle nie inskakel by die voorgeskrewe Hollywood-voorkoms nie. Soms is ’n alternatiewe voorkoms egter juis wat verlang word.

Dit was ná haar rol in Identity Thief dat ’n resensent Melissa beskryf het as groter as ’n trekker en haar ’n seekoeikoei genoem het. Hy het ook gemeen sy is nie ’n wafferse komediant nie, dat haar hele lewe uit eet bestaan en dat sy haar onaangename karakter tentoonstel. Sy resensie is wêreldwyd oor die internet versprei.

Melissa was geskok toe sy die eerste keer daarvan hoor. Vir ’n oomblik was haar sonnige geaardheid daardeur verdonker. “Hoe is dit moontlik dat hy toegelaat kan word om sulke haatlike dinge te skryf en dit gepubliseer te kry?” wou sy weet. “Ek kry hom jammer,” het sy ook laat hoor. “Want hy dra soveel haat met hom saam. Ek het na hom geluister en gedink dit moet iemand wees met wie dit nie op die oomblik goed gaan nie, terwyl ek ’n wonderlike man en twee kinders het wat vir my lief is, my gelukkig maak en my laat lag.” Sy maak ook haar twee dogters groot met die gedagte dat ’n vrou se waarde nie deur haar figuur bepaal word nie.

“As ek jonger was, sou dit my heel moontlik platgeslaan het om te hoor wat hy oor my sê,” erken sy. Wat onrusbarend is, is dat jong meisies se selfbeeld deur aanmerkings soos hierdie totaal vernietig kan word.

Lees ook: Wat jy nie van Nicole Kidman weet nie