Tussen aanvaar en verander

0
110
Elizma Theron

Vir Elizma Theron is dit bevrydend om sommige hindernisse sonder verset te aanvaar, maar die eintlike geheim is om te weet wanneer jy moet aanvaar en wanneer jy moet verander.

Vir Elizma Theron is dit bevrydend om sommige hindernisse sonder verset te aanvaar, maar die eintlike geheim is om te weet wanneer jy moet aanvaar en wanneer jy moet verander.

Die ding wat vir my nog die moeilikste was om te aanvaar, is dat ek nooit die beste in iets sal wees nie. Daar sal altyd iemand wees wat beter is as ek. My eerste kennismaking met dié duiwel op my skouer was op 14 en ek oorsee begin modelwerk doen het. Jy word daagliks gekonfronteer met verwerping, wat jou selfvertroue knou.

Jy vergelyk jouself gedurig met ander meisies in plaas van om net te fokus op wie jy is. En jy vergeet dat elke kliënt iets spesifieks soek en dat dit nie persoonlik is nie. Later het dit oorgespoel na my sangloopbaan, waar jy weer jou talent en vermoëns met ander s’n vergelyk. So dit het my ’n goeie 13 jaar gevat om te besef dat daar altyd iemand beter gaan wees.

Die keerpunt het in 2010 gekom, toe ek besef het dat daar geen ander opsie as aanvaarding was nie. Ek het na ’n preek van Joel Osteen op TV geluister. Hy het gesê dat die Here vir elkeen sy eie unieke pad het; dat dit nie saak maak wat in ons pad staan nie, die Here kan doen wat jý nie kan nie. Jy is perfek en haarfyn beplan nes jy is. Dit het my laat besluit om te fokus op wat ek wel het, eerder as om energie te verkwis op wat ander gekry het. Alhoewel dit ’n groot las van my skouers af was, verdwyn so iets ook nie oornag nie. Dit is nog steeds ’n wilsbesluit, want jy word nog elke dag daarmee gekonfronteer.

Kyk na die video om te sien wat Elizma Theron nostalgies maak.

Ek dink tog wel dat hoe meer ’n mens aan ’n slegte ervaring bly dink, hoe pynliker word dit. ’n Mens bly maar mens, maar ek het al gesien dat wanneer ek aanhoudend oor iets tob, dit baie aspekte van my lewe beïnvloed. Dit steel jou vreugde en verander niks. Om so iets te aanvaar en op die regte goed te fokus en jou denkwyse ’n skuif te gee kan baie dinge ten goede verander.

Aan die ander kant moet jy ook nie net elke terugslag in die lewe gedwee aanvaar nie. Aan die begin van my loopbaan was daar baie stemme wat gesê het hoe moeilik die bedryf is. Op daardie stadium het die manlike sangers heeltemal oorheers. Dit was net my ouers wat my ondersteun en aangemoedig het.

Dit het erger geword nadat my eerste album uitgereik is en ek vir twee jaar sonder enige vertonings of inkomste moes klaarkom. Ek was ’n meisie van Kuruman, alleen in die groot stad, met net my klere, my kar en ’n droom. Die Here het hierdie belofte, hierdie droom, in my hart gesit en ek het net geglo en geweet Hy gaan ’n deur oopmaak. Ten spyte van almal en alles om my het ek vasgehou aan daardie belofte. Vandag is ek bly ek het daarop bly fokus eerder as om net na ander se opinies te luister.

Die punt is dat sekere dinge optrede nodig het, en ander kan bly soos dit is en moet net aanvaar word. Om alles altyd te wil verander is nie goed nie, en om alles net te aanvaar ook nie. My reaksie hang gewoonlik van die spesifieke situasie af, maar ek het nog nie die balans gevind tussen die twee nie.

’n Mens se instink is gewoonlik om terug te veg en ek is nie iemand wat daarvan hou om net terug te sit nie. Dis nog ’n daaglikse stryd. Maar selfs wanneer ek ongeduldig is vir ’n antwoord, weet ek waarheen ek al hierdie probleme, onsekerheid en vrae kan vat. En dit maak my rustig.