Tussen die rotspoele in Kommetjie

rotspoele in Kommetjie

Ter ere aan Ouma Anna: Sy was die ouma wat soos ‘n tannie was, want dit is eintlik wat sy was.

My regte ouma het ek nooit geken nie, sy was oorlede toe my pa nog kind was, en ouma Anna was die vrou wat deel gehad het aan my pa se kinderlewe.

Hy het haar ma genoem, en sy was goed vir my oupa. Ek het hom ook nie geken nie, hy is oorlede voor my geboorte. Dus het ek ‘n laslappie Oupa en Ouma leer ken.

Alhoewel ons nie ‘n verhouding gehad het as ouma-kleinkind nie, is sy iemand besonders gewees. Sy was baie lief vir die natuur en om te stap. Sy sou op al wat ‘n padjie uitklim oral om Kommetjie en Silvermine natuur reservaat en so ver sy kon toer.

Sy was lief vir reis en het altyd interessante plekke besoek. Sy het eendag vir my ‘n poskaart terug gebring van Spanje. Ek was mal oor die Spaanse danser een wat uitgewerk is met borduurgare op die lyf se rok en regte kantvalle onder die rok aangewerk.

Die mooi meisie het soos ‘n Spaanse danser kan, haar hande in die lug gegooi en ‘n lae bolla in haar nek. Sy was pragtig. Dit was baie spesiaal vir my omdat dit so mooi en blink was!

As ons gaan kuier het, was dit altyd lekker om die silwer messegoed op te vryf en die tafel te help dek vir haar met fyn servette wat blommetjies op het en kantelrandjies.

Terwyl die lekker kosgeure deur die voorhuis trek van soet pampoen en boudvleis met gebraaide aartappels, het ons die langspeelplaat aangesit. Dit was my gusteling van die kuier, want ek kon “Tap dance” en ballet draaie maak op al die mooi musiek. Die een bekende plaat kon ek oor en oor luister en dit sal my altyd aan haar laat dink. Dit neem my weer terug na toe ek 10 jaar oud was. Ek het gedans, saam met my broer in die vertrek, wat eerder deur die tydskrifte blaai wat op die koffietafel lê.

Ek het gedans op “Nicklelodium”. Al die ouer gardes sal die lied ken “… Put another nickle in, in the nickelodeon, all I want is loving you and music, music, music…la…la…closer, my dear come closer…”.

Dan het ons aangesit by die eettafel en sy het vertel van allerande intersante dinge wat sy en oupa Danie gaan doen het of waar hulle gereis het. Ook die probleme wat die bobbejane is in die omgewing en die skade wat hulle kon maak kon haar ure laat gesels en my laat giggel.

Maar dan het ons poeding opgeskep, my mond water nou nog as ek daaraan dink, dit was daardie Italiaanse roomys wat lyk asof hulle sulke fêncy draaie maak en jy kon dit sny met ‘n mes, met chocolate en neute in.

Dit was darem ‘n treat vir ons kinders. Dan het ons die middag kossie gaan afstap tussen die rotspoele in Kommetjie. Visstokke is ingepak vir baie mislukte visvang pogings, maar ons kinders het dit geniet in die buitelug en die klouter op die roste.

Oupa Danie het ook ‘n groot boot gehad, maar ek kan nie onthou dat ons ooit op daardie boot gery het nie. Hulle albei was lief vir die see. Die huis in Kommetjie het sulke dakkamers gehad met ‘n grys dak.

Die dubbelverdieping het getuig van goedversorgde mense en netheid en die uitsig was iets om te onthou. Hulle was gelukkig getroud. Sy het gelyk na ‘n lekker vriendin om te hê, maar nie eintlik ‘n ma wat kon troos nie. Sy was nie die emosionele soort nie, sy sou kon sorg en positief wees oor die lewe sonder om te na te kom.

Om die waarheid te sê ek het baie stories gehoor van Ouma Anna se “Acting” talente. Sy kon altyd ‘n heks/lelike eendjie/die skelm rolle goed speel, sy was nie bang vir avontuur nie en sy het nie omgegee nie, sy kon die lewe leef.

Nou na amper 35 jaar vanaf hierdie herhinneringe, is Ouma Anna oorlede, en ‘n stukkie van my pa se kinderdae, …en myne ook, is weg saam met haar in die tyd van jonkwees en gesond wees en kindwees tussen die rotspoele in Kommetjie.

Daardie buitelug, aktiewe lyf moes uiteindelik groet as iemand oor die 90 met haar beentjies opgetrek, fisies broos maar sy was ‘n sterk vrou … tot die einde. Groet jou, Ouma Anna.

Vorige artikelStap ʼn pad met God
Volgende artikelPearl, hou vas!
Blogger - Adri Marais
Adri Marais is sommer net ’n kaalvoet gedig. Haar liefde vir mense en stories vertel, meestal haar eie stories, het ’n passie begin word en pad gevat na miljoene woorde wat maats soek om te inspireer. Hierdie stories vertel van hoop, geloof, liefde, swaarkry en vreugdes. Sy is tans ’n kommunikasiebestuurder en ’n enkelma wat kreatief die lewe liefhet en wil deel om ander op te bou en te bemoedig. Sy hou van die reuk van nat grond na die reën, vars blomme, skoon bedlinne en die gesuis van die wind tussen die grootste bome. Om haar droom uit te leef beteken om ander te kan inspireer deur stories wat leef en ’n nalatingskap los by gewillige lesers. Hierdie stories wat die lig laat sien deur ander se oë en ervaringe om te verstaan waar ware hoop, geloof en moed lê. Stories wat ons uitdaag, meer leer van onsself en te beïnvloed om te verander sodat ons beter mense wil wees. Nie dat sy al die antwoorde het nie, maar deur geloof in Jesus Christus, wil sy meer wees as om deur die lewe loop sonder om ’n verskil te maak. Verhale kleur die lewe in en oral is daar karakters met stories om ons wat die reis interessant maak. Kom saam en vind dalk net jou inspirasie in ’n storie van ’n invloeder. Haar blog se naam is #Rooimat stories.