Tussen oorlog, tuinmaak en woestyn

0
194
fox_van_coppenhagen.jpg

Dit is ’n maanlandskap. Net erger. Daar is suurstof en jy moet oorleef, of jy nou wil of nie.

Fox van Coppenhagen is ’n mediese dokter in die Suid-Afrikaanse weermag en was na Soedan ontplooi. Sy storie is egter nie een van bloed, verwoesting en oorlog nie. Dit is een van bou, plant en omgee.

“Niks kan jou ooit op daardie hitte voorberei nie,” vertel hy oor sy ervaring in die woestyn. “Die sweet loop letterlik in strale teen jou lyf af.” In die tyd wat Fox daar was, het hy negentien kilogram verloor. Dis nie dat hulle sleg geëet het nie, maar alles het nie altyd op tyd by die kamp aangekom nie, is eintlik al wat hy daaroor sê. Ja, daar was soms skote, maar dit raak deel van die agtergrondgeluide. Die hitte, dit was die ding. “Jy leer om alles stadig te doen. Stadig te beweeg, stil te sit. Daar is selde bedags enige kontak; saans, as dit koeler is en veral met volmaan, sal die partye mekaar aanval.” Water is ’n luukse, iets wat net twee keer per dag vir 45 minute lank beskikbaar is. Ook nie in krane nie, maar in emmers. Dan moet jy sorg dat jy genoeg water gaan haal vir jou wasgoed, stort en toilet.

Dis moeilik om opgewonde te raak oor die basiskamp wat sewe maande lank Fox se huis was. Daar is net klippe en sand. En êrens ’n yl boompie wat verbete vasbyt. Die plat stuk grond is hoog omhein, maar dit skep die gevoel van ’n tronk, eerder as sekuriteit. Al die geboue is vaal en vierkantig. Verbeeldingloos, soos die omgewing.

Maar wat doen jy nou as jy in die woestyn beland? Heel eerste begin jy skoonmaak. “Ek het omtrent geskrop aan die begin!” onthou Fox. Al moes hy nou in ’n boksie bly en op ’n smal bedjie slaap, dit sou skóón wees. Soos dit maar gaan, het ander gou sy voorbeeld begin volg. Stadig maar seker het die plek anders begin lyk.

“Ek het eendag na daardie verwese boompie gekyk en gedink: Dit groei. En as dít kan groei, moet ander goed ook kan.” So het die eerste tuin in die basiskamp begin lewe kry. Waar daar aanvanklik net plaveisel weerskante van ’n strook gruis was, het bietjies-bietjies groenigheid tussen die woonkwartiere begin uitloop. “’n Mens moet altyd iets hê om voor om te gee,” verduidelik Fox.

[Pagebreak] “En plante is so iets. As jy plant, glo jy in die toekoms.” Bo alles was dit vir die soldate en hulle ondersteuningspan nodig om in die toekoms te glo. “Die grootste lewensverlies daar is nie as gevolg van skietwonde nie, dis selfmoord.”

Die meedoënlose bestaan van wakker word, water gaan haal, wag, gaan slaap … en wag, is genoeg om enige mens kop te laat verloor. As jy heel anderkant wil uitkom, moet jy iets doen wat jou aan jou menslikheid herinner. Doodmaak is nie menslik nie. Tuinmaak wel. Op een van die foto’s wat wys hoe die plante groei, is drie groot, wit syfers met klippies uitgepak: 167. “Ons het die dae afgetel. Elke dag.” Dit was ’n manier om perspektief te behou, want, verduidelik Fox, daar verloor jy heeltemal enige besef van tyd. Miskien is dit beter so, want vyf minute kan soos ’n ewigheid voel as jy wag dat dit moet verbygaan.

Die heel beste ding van die tuin was dat dit “oorgespoel” het na ander woonkwartiere ook. “Baie mense het kom vra of ek hulle nie sal help nie, hulle wil ook graag tuinmaak. Nou ja, dis nie moeilik om met ’n vurk en ’n graaf te werk nie. Maar my hulp was voorwaardelik: As hulle nie moeite doen nie, hou ek op help. Elkeen moes na sy eie tuin kyk. In die kamp was daar nie luukses soos kunsmis nie. Alles het gegroei te danke aan water, sonlig en die grond waarin dit geplant is.” Fox het uitgevind wat in die omgewing groei en dit geplant.

Later het die tuine tussen die geboue amper soos ’n kwekery begin lyk. Die bome was groot en oortrek met groen blare. En die verwese boompie se top het nou bo die dakke uitgesteek. Onderlangs was struike, blomme en groente! Daardie mense wat gesê het hulle het nog nooit tuin gemaak nie, het binne ’n klompie weke hulle eie tamaties en spinasie geëet. Fox het al hoe meer plante en bome by die Verenigde Nasies “bestel” en so letterlik ’n oase in die woestyn geskep. “Dit was ons Prozac,” sê hy.

[Pagebreak] Saans het die inwoners gebraai. Gesels. Mekaar moed ingepraat. En vir elke boom ’n naam uitgedink. Tree of Justice. Dit was Justice se boom. En Dick Tree … “Die ou se van was Dick!” lag Fox. Nee, hulle het nie hulle humorsin verloor nie. Dis hoe hulle die woestyn oorleef het, en die Haboeb-winde ook.

“Dit is regtig soos in die fliek The Mummy … Jy sien van ver af hierdie stofmuur aankom – teen ’n spoed! Dan hardloop jy na jou kamer toe, maak alles toe wat jy kan. En daar bly jy tot dit verby is. Die woestyn is snaaks. Dit reën ook so skielik.” Sommige buie is vinnig verby, ander kere reën dit vir ’n paar dae aaneen, iets wat enige tuinier se hart warm laat klop.

Na ’n rukkie het die tuinmaakgier van die wooneenhede na die res van die kamp uitgebrei. In die een hoek, knus tussen twee skutmure, het Fox die vierkant voltooi deur langs die ander twee sye bome te plant. ’n Lagie riviersand het die vierkant ’n welkome kuierplek gemaak. “Saans het ons daar gesit, voete in die sand … Dan kon jy jou amper verbeel dat jy iewers op ’n strand sit. By ’n kusdorpie in jou geboorteland. Jy moet vir jou ’n oase skep, al is dit net in jou kop.”

Die tyd in Soedan is ’n bittersoet herinnering. Amper ’n onwerklikheid, al het dit beslis gebeur. Fox se groen spoor lê immers êrens in ’n woestyn waar mense oorlog maak, oor geld baklei en water in emmers aandra. Of die oase gaan oorleef is ’n vraag. “Ek hoop maar die mense kyk daarna. As alles tot niet gaan, wil ek dit eintlik nie weet nie. Dit was genoeg vir my solank ek daar was.” Iets in die manier waarop hy dit sê, verklap dat die woestyn ook vir altyd ’n spoor in hom getrap het. Asof daar iewers in hom ’n stowwerigheid is wat hy heimlik graag daar wil hê. Dit is hoe Fox is. Hy sal altyd potensiaal sien waar daar regtig bykans niks is nie.

Net voor hy groet, wys hy ’n foto van ’n klein krimpvarkie in sy hand langs ’n plassie melk wat in sy palm opgedam is. Die diertjie probeer ’n slukkie vat. “Een van die strukture by die kamp is geskuif, die ma en een van die kleintjies is in die proses dood. Niemand het geweet hulle bly daar nie. Ons het hierdie tweetjies probeer red.” Nog ’n storie wat tussen sewe maande se foto’s opgesluit lê. Van die stories sal nooit vertel word nie, maar een ding is seker: Oorlog gaan nie altyd nét oor baklei nie …