Twaalf keer die liefde

Toe Jaco my hierdie week vertel wat die Here alles moes doen om finaal sy aandag te trek en hom ‘n one-eighty te laat maak, toe besef ek:  soms vat my eie light-switchie ook maar lank om aan te kom.  Soos ‘n halfleë fluorescent in jou ma se kombuis.

En om net te bevestig, lees ek vanoggend in 2 Samuel 23 van Dawid se skille-van-die-oë af moment.

Terwyl Dawid op vlug was het hy op ‘n keer in die grotte bokant Spooklaagte, waar die Filistyne kamp opgeslaan het, skuiling gesoek.  Hy kon ook nie terug Bethlehem toe nie, want ook daar het die Filistyne ‘n klomp soldate op wag gelos.

En so nostalgies-emosioneel sug hy toe:

“Ai, ek wens darem iemand kon nou vir my water gee
uit die put van Betlehem, daar nes jy in die dorp ingaan.”
2 Samuel 23:15

Drie van sy dapperste vegters het hierdie versugting van Dawid gehoor en besluit om presies dit te doen.  En duidelik was hierdie manne nie sissies nie – hulle vroeëre magsvertonings spreek vanself:  In regte recce-styl het die een 800 man met ‘n byl hul einde laat sien. Die ander een het so geesdriftig aan ‘n geveg met die Filistyne meegedoen, dat sy hand krampagtig om sy swaard gekrul het en net nie kon los nie!  Die derde het man-alleen ‘n land wat ryp gestaan het met ‘n lensie-oes verdedig teen ‘n hele Filistyn-gebroedsel.

So waag hierdie drie manne hulle lewens, sluip hulle deur die Filistyne tot by die put van Betlehem, nes jy in die dorp ingaan, en kom terug met ‘n bekertjie vol koel lafenis vir Dawid se dorstige keel.

En op daardie oomblik gebeur dit. Dawid sien hoe onredelik en selfsugtig sy onnadenkende opmerking was en in watter mate dit sy drie vegters se lewens in gevaar gestel het.

Dit waarna hy so gesmag het, word waardeloos in die lig van die waarheid.

Dit kon slegs weer waardig gemaak word, deur dit as ‘n offer aan God bring.

“Hy het dit vir die Here op die grond uitgegooi en gesê: ‘Ek sal dit nooit drink nie, Here!
Dis so goed soos die bloed van dié mans wat hulle lewe gewaag het om dit te gaan haal!’ “

So ‘n paar weke gelede hou ons ringsitting hier in die Gamtoos.  Hierdie was ‘n eerste vir my en so ‘n wonderlike ervaring van vernuwing en herskepping wat ook binne ons kerkfamilie aan die gang is.  Want ons sprekers vir die dag, was twee Godsmanne van een van die meer charismatiese kerke op ons eie dorpie.  En die jong dominees en die ou dominees hang aan hulle lippe.

Een ding wat Hennie daardie dag gesê het, bly my by en dit sluit ook goed aan by vandag se boodskap.  Hennie vertel dat Jesus nooit AL Sy wysheid en AL Sy insig en AL Sy riglyne met almal gedeel het nie, met skares mense gedeel het nie.

Hy het 12 manne uitgekies en in hulle belê en ingebou en hulle gementor en gelei en vir hulle gebid.  En Hennie vra:  Het jy 12 vir wie jy besig is om te mentor en te lei en voor te bid?  Kan jy dink hoe die wêreld sal verander as ons elkeen net 12 het waarmee ons die pad stap en van wie ons die Godspotensiaal help ontgin en vir wie ons in liefde lei?

Maar toe vra een van die predikante ‘n baie relevante vraag, veral van toepassing op groter gemeentes:  “Hoe kies jy net 12?  Jy soek mos nou vir moeilikheid!”

Hennie se antwoord was so treffend in diep verborge waarheid, maar terselfdertyd so eenvoudig:  “Jy vra die Here om hulle vir jou te stuur.”

En Hy stuur dalk nie al 12 op een slag nie.  Hierdie jaar stuur Hy dalk een persoon oor jou pad, volgende jaar twee, die jaar daarna dalk nie eers een nie.  Maar uiteindelik is die visie dat ons almal 12 sal hê vir wie ons in liefde kan lei en dissipel soos wat Jesus Sy eie 12 liefgehad en gelei het.

Dawid se oë moes eers oopgaan voordat hy die waarde van die vrugbare grond rondom hom kon raaksien.

Wat moet gebeur voordat my eie oë oopgaan?

Temalied vir die week:

Vorige artikelDie Taal van Liefde
Volgende artikelDie Bedrog Van Onkunde
Blogger - Maxie Heppell
Vir baie lank het my lewe nie regtig rigting gehad nie. 'n Gekompliseerde kindertyd, verkeerde keuses en dan die ongelukkige gevolge daarvan, het my gevange gehou. Tot daardie dag dat die Here Sy kind uit die modder opgetel en haar voete stewig op Vaste Rots laat land het. Psalm 40 bly tot vandag toe 'n groot favourite! Dit het my baie jare geneem om uit te kom by dit wat Hy nog altyd vir my lewe bedoel het. Maar nou is ek hier. En ek glo in God Drie-Enig, in die maagdelike geboorte, in Jesus aan 'n kruis, maar meer nog - aan die opgestane Jesus in my eie lewe. Ek glo dat Hy ons weer gaan kom haal en dat ek tot dan die Heilige Gees het wat my lei en my denke help vernuwe. In 2009 behaal ek my B.Th graad in teologie en sedertdien preek ek, praat ek en deel ek oral waar ek genooi word. Ek en my eerste liefde en ons langhaar-vierbeen meisiekinders bly tans op Jeffreysbaai in die Oos-Kaap en ons getuig gereeld: Die Here is nie net goed vir ons nie, Hy bederf vir ons!