Twee Harvard-ekonome fouteer

0
18
prof.png

Ek is baiekeer so moedeloos met myself wanneer ek ‘n fout maak. Ek sal byvoorbeeld ‘n werkstuk oor en oor proeflees, en dan, lank ná die tyd, sien ek dat ek ‘n ooglopende tikfout misgekyk het. Of ek sê iets teenoor iemand wat ek nie moes gesê het nie. Of ek skryf ‘n epos aan iemand waaroor ek later baie spyt is. Ek het eenkeer ‘n polis gekanselleer waaroor ek nou nog my hare uit my kop kan trek. Dit gaan my nog duur kos. Ek het al baie gewonder waarom ek soveel foute in die lewe maak. Maar vandag toe lees ek in die koerant van twee beroemde Harvard-ekonome wat ook ‘n fout gemaak het. Proff. Carmen Reinhart en Kenneth Rogoff het in 2010 ‘n verslag uitgebring wat sedertdien deur talle beleidmakers oor die wêreld heen gebruik is. Rogoff is so beroemd dat hy al herhaaldelike kere vir die Nobelprys vir Ekonomie benoem is. Maar ‘n span navorsers van die Universiteit van Massachusetts het nou in ‘n nuwe studie gewys dat hierdie twee navorsers êrens ‘n fout in hulle berekeninge op hul spreiblad gemaak het. Die Harvard-navorsers het nou gesê dat dit ontnugterrend is dat daar so ‘n fout in hulle berekeninge is. Maar Seneca die Jongere het al in die 1e eeu gesê: Errare humanum est, perseverare autem diabolicum. Dit kan vertaal word met “dit is menslik om te fouteer, maar dit is diabolies om daarmee aan te hou.” Alhoewel ‘n mens daarna moet streef om voortreflik op te tree, moet ‘n mens onthou dat dit inderdaad menslik is om te fouteer. Ons hoef nie onsself te verguis vir die foute wat ons maak nie. Erken dit as jy gefouteer het, maar dan stap jy aan. Moenie daar bly vassteek nie. Selfs Saul het sy eie foute so erken: Maar Saul het gesê: Ek het ’n fout gemaak. Kom terug, my seun, Dawid, want ek sal nie meer verkeerd teenoor jou optree nie omdat jy vandag my lewe gespaar het. Ja regtig, ek het dwaas opgetree en ’n growwe fout gemaak (1 Sam 26:21).