Twee kinders later

608
Charmé Kriel

Charmé word onverwags met preëklampsie gediagnoseer toe sy 27 weke swanger is. Lisa  word met ’n noodkeisersnee gebore, weeg slegs  850 gram en veg elke dag om haar lewe. Charmé  is ’n plat–op–die–aarde ma. Tog, kan jy nie  anders as om te sukkel om die knop in jou keel  te sluk wanneer sy haar storie vertel nie…

Die Maandagoggend het ek ’n teksboodskap van ’n vriendin gekry. Dit was net ’n foto met die woorde: “Bly jy maar net kalm. Die Here sal vir jou veg.” Dieselfde middag kry ek ’n boodskap van ’n tannie wat sê ek moet Eksodus 14:14 gaan lees. Eksodus? Wie stuur ’n Bybelvers uit Eksodus? Nie Psalms of Efesiërs nie, nee, Eksodus.

Maar ek het die vers gaan opsoek, en sowaar! Daar lees ek dieselfde woorde wat ek daardie oggend van my vriendin gekry het: “Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg.” En daar was my antwoord.

Die Dinsdag het alles egter weereens gedraai. Dit het gebeur net toe ek Lisa wou optel. Eerstens was dit nogal ’n proses, want ek moes haar ontkoppel van die hittemonitor in die broeikas, vir haar ’n mussie aansit, ’n kombersie reghê en die broeikas op ’n ander stelsel oorskakel.

Dan moes ek haar onder my hemp indruk totdat sy rustig lê en boonop met een los hand die broeikas toemaak. Die verpleegsters wys jou net een keer hoe dit werk; daarna moet jy alles self doen.

Net toe ons begin rustig raak, gaan Lisa se SATS-monitor af. Ek het my boeglam geskrik. Daardie alarm dring deur jou brein en skuur net langs jou hart verby, tot binne-in jou siel. Dis die monitor wat die hoeveelheid suurstof meet wat deur jou baba se lyfie beweeg.

Normale mense s’n is tussen 95% en 100%. Prem babas se SATS is normaalweg enigiets tussen 80% en 90%. As dit tot onder 70% val, gaan daar ’n alarm af. Enigiets onder 60% word as gevaarlik gesien.

Die dokters het ook vir my verduidelik dat as prem babas langer as sewe tot agt minute onder 60% bly, die kans groot is dat hulle blind kan word.

Die suster het rustig na my toe gestap, al wou ek uit my vel klim en skree dat sy vinniger moet kom. Daar was groot fout. “Moenie bekommerd wees nie. Dit gebeur,” het sy gesê. “Kom ons kyk of dit stabiliseer. As dit nie regkom nie, sal ons haar net weer in die broeikas sit totdat alles normaal is. Dan kan ons weer probeer.”

Ná die vyfde keer het ek ’n bietjie om die hospitaal gaan stap, in die hoop dat die vars lug my kop sou skoonmaak. Maar my gedagtes het swaar en donker gebly. Hoekom moet dit so moeilik wees, Here? het ek gebid. Ek was sommer kwaad vir God oor die simpel SATS-monitor.

Ek is terug hospitaal toe, maar ná die sewende keer het ek moed opgegee.

Ek het nie kans gesien om alleen by die huis te wees nie. Toe sien ek die Wimpy-teken teen die muur van die mall.

Daar was min mense in die Wimpy en ek is vinnig gehelp. Maar binne sekondes was die vyf tafels rondom my vol. En sowaar … by vier van die vyf tafels was daar mammas met babas.

Vet babas. Babas met dubbelkenne en rimpels op hulle arms. Die een ma haal ’n bottel uit en voer haar baba. Ek skreef my oë en sien daar is 180 ml melk in die bottel. En skielik, sonder enige regte rede, verloor ek dit.

Bewerig haal ek ’n R50-noot uit my beursie om op die tafel te los. Sonder ’n slukkie milkshake storm ek kar toe. Ek maak net betyds die deur toe voordat ek begin tjank. Nie huil nie. Tjank. Dierlik en onbeheers.

Hier sit ek met ’n baba wat elke twee uur 4 ml melk drink, wat kleiner is as my TV se remote, wat ek nie kan vashou sonder dat sy ophou asemhaal nie … en vir die eerste keer vandat Lisa gebore is, kry ek myself jammer. Ek wil ook ’n normale baba hê.

Ek wil ook in die Wimpy kan sit en my vet baba vir almal wys. Ek wil ook ’n hele bottel melk vir haar kan gee. Ek wil ook saam met my vriendinne en hulle vet babas gaan koffie drink en lag en oe en aa. Ek wil ook net my babatjie kan vashou sonder om enige oomblik te dink sy gaan breek of blind raak of ophou asemhaal.

In die week wat volg, ontvang ek honderde boodskappe en oproepe van geliefdes. Dit was vir my oorweldigend hoeveel mense vir ons omgee. Vir iemand wat lief is vir gee en nie juis goed is met ontvang nie, was dit nogal iets om aan gewoond te raak.

Iets wat my egter gereeld getref het, was hoe min mense regtig besef het waardeur ons gaan. Mense, ook mense vir wie ek baie lief is, het soms vir my dinge gesê wat my diep ontstel het.

Dit was so moeilik, want ek het geweet hulle bedoel dit goed, dat hulle nie regtig oor hulle woorde gedink het nie.

Maar steeds het dit my soms kwaad en seer gemaak.

“Waar is jou baba? Kan ek haar ’n bietjie vashou?” Nee, jy kan nie, want ek het haar nog skaars vasgehou.

“Ag, ek is so bly vir jou dat julle babatjie vroeg gebore is sodat jy nooit soos ’n walvis gevoel het nie.” Ek wou graag soos ’n walvis voel. En ek wou graag die hele swangerskap deurgemaak het, dankie.

“Eintlik is dit great dat jou baba nog in die hospitaal is. Nou kan jy van die keiser herstel terwyl jy nie vir ’n baba hoef te sorg nie.” Ja, want gewone keisermammas herstel mos deur self hospitaal toe te ry en melk uit te pomp, trappe te klim en kilometers ver te stap.

“Gelukkig hoef jy nie nou elke aand op te staan en jou baba te voed nie. Rus nou lekker.” Want as jy elke twee uur opstaan om melk uit te pomp rus jy mos vreeslik lekker.

“Dis so nice dat jy nie oor enigiets hoef te worry nie. Sy is in die hospitaal en jy kan net by die huis ontspan.” Want wanneer jou baba elke dag vir haar lewe veg, is ontspan presies wat op jou brein is.

“My baba was ook prem. So ek weet presies waardeur jy gaan. Sy is drie weke te vroeg gebore en het 3,2 kg geweeg.” Nee! Nooit! Seriously?

Ek het geweet dat hierdie mense nie kwaad bedoel nie. Ek het hulle geselsies waardeer. Ek was dankbaar vir die omgee, maar, sjoe! Dit was moeilik om nie die dinge wat ek gedink het te sê nie. Ek het ook geweet as ek in hulle skoene gestaan het, sou ek dalk ook iets verkeerds gesê het.

Tussen Lisa se eerste en tweede verjaarsdag was daar baie goeie en baie slegte dae. Ek onthou een dag net voordat sy twee geword het.

Dit was een van daardie dae wat alles net verkeerd geloop het.

Daardie dae wanneer jy, dis nou te sê as jy nie kinders het nie, ’n bier moet drink of moet terugklim in die bed. Maar as jy ’n kind het, moet jy maar jou jammer-kry-gesiggie in jou te groot doekesak of handsak prop en aangaan.

My man was aan diens. Dus was ek alleen met Lisa by die huis.

Sy het sesuur wakker geword. “Barney kyk, Mamma!” Terwyl ek vinnig deur die stort spring – want Barney hou haar gewoonlik net vyf minute stil – besluit sy skielik Barney is vervelig en dit sal baie lekkerder wees om met haar hasiepajamas en Tony, die teddie, en Apie saam met my in die stort te klim.

Nadat ons vir Apie en Tony gewas het, maak ek vir haar pap, die soort wat ’n mens actually moet kook, en wat daarom vyf minute langer kos om te maak as die kitspap wat sy gewoonlik eet. Lisa hang die hele tyd ongeduldig aan my broek, en toe die pap uiteindelik reg is, gee sy dit een kyk en dop die hele bakkie op die bank uit.

Gelukkig is daar ’n mark in ons area en ek weet sy sal lekker daar speel en kan besig bly. Ek trek haar gou aan en ons klim in die kar. Ek moet net eers gou winkel toe gaan om geld te trek.

“Gou” word toe effens stadiger omdat Lisa met haar hoë vlak van intelligensie haar ma se ongeduld raaksien en ekstra stadig sélf wil stap. Sy groet elke oom en tannie in die winkel en sê “tata, Mamma” as ek haar hand wil vat.

Met die geld getrek, dink ek dalk het ek net ’n lekker koppie koffie nodig. Dit sal alles beter maak.

Ek gaan staan in die ry by Woolies en terwyl ek wag om te betaal, haal Lisa elke pakkie van die rak af en vermaak die mense met haar sjarme en cute gesiggie.

Maar skielik, sommer uit die bloute, val die koppie koffie uit my hand uit. Dis asof my hand se spiere net ophou werk het. Die hele plek is vol koffie en almal staar na my. Ek probeer met wet wipes die vloer skoonvee – baie onsuksesvol, maar ek het te sleg gevoel om net daar te staan en wag vir die werker met die mop.

Die hele tyd sê Lisa vir elke mens, wat steeds na my staar: “Mamma Charmé mors koffie.” En: “Oops-a-daisy, Mamma.”

Ek buk af om die vloer nog ’n keer te vee, en ek hoor net girts! En daar skeur my broek! Voor almal. Sommer lekker lank tussen my boude af. Seriously?! Die starende mense staar nog intenser na hierdie spektakel van ’n ma, wat dinge skynbaar net-net bymekaar kan hou.

Vir ’n oomblik wonder ek wat sal gebeur as ek net daar tussen die koffie op die vloer gaan sit en huil, maar ek lag toe liewer vir myself, laat sak my kop in skaamte, betaal vir my koffie, wat steeds op die grond gelê het, en stap Mr Price toe vir ’n nuwe broek.

Toe ons uiteindelik mark toe ry, dink ek aan my oggend en ek kry myself vreeslik jammer. By die mark loop ek ’n vriendin raak wat saam met ’n ander vrou daar is. Ek het die vrou by haar nog nooit ontmoet nie, maar ek ken haar storie goed en ek dink so vreeslik baie aan haar.

Sy het haar baba wat op 28 weke gebore is ná twee maande in die hospitaal verloor. Sy moes ná twee maande se gesukkel huis toe gaan sonder haar baba. En daar staan sy toe voor my. Ek het soos ’n hond gevoel, soos ’n weggooi-straatbrak. Die hele oggend het ek gekla oor my kind. My gesonde kind. My woelwater-kind. My lewende kind. En die vrou staan voor my, alleen.

Ek wens ek het woorde gehad om vir haar te sê. Ek wens ek kon haar pyn wegneem. Ek wens sy kon weet ek ken haar storie sodat sy kon weet hoe my hart vir haar breek. Maar sy het nie, en ek het te sleg gevoel om iets te sê.

Met nuwe perspektief het ek daar weggestap. En toe Lisa later die middag deur ’n by gesteek word en dit my ongewoon rowwe dag moes kroon, het ek vrede in my hart gehad en haar styf vasgedruk. Dank die Vader vir Lisa en vir die voorreg om ’n ma te wees. Elke dag.

Toe Lisa twee en ’n half was, het ons dapper dogtertjie wat teen die hoogste tralies wou uitklim en vol selfvertroue met ons groot honde gespeel het, skielik bang geword.

Dit het alles begin by die akwarium toe sy haar boeglam geskrik het vir die lewensgrootte “Nemo” wat tussen die kinders rondloop en vir almal ’n high five gee. Weke daarna nog het Lisa vir my gesê: “Lisa is bang vir Nemo.” Sy het ’n paar nagte wakker geword en selfs nagmerries oor Nemo gehad.

Daarna was dit die swembad. Eers was sy mal oor water en wou nie uit die bad klim nie. Skielik het sy ’n vrees vir water ontwikkel. Dit het ons maande gekos om haar weer in die swembad te kry.

My dapper dogtertjie was skielik bang vir alles. Sy was altyd mal oor die pikkewyne. Nie meer nie. Sy was bitter lief vir by die see gaan speel. Nie meer nie. As sy iets nuuts moet doen, was sy sommer daarvoor ook bang. Bang vir die toilet, bang vir die water, bang vir Oupa, bang vir die vlieg. Bang, bang, bang.

Dit het my laat wonder hoe dit gebeur dat ’n mens op ’n dag net bang raak vir goed.

En dit het my oor my eie vrese laat nadink. Waarvoor is ek bang? Hoekom is ek bang? En hoekom is ek nie meer bang vir dinge waarvoor ek as kind bang was nie?

Dit het my ook herinner aan watter vrééslike ding vrees is. Dat dit jou weghou van soveel lekker dinge.

As Lisa maar net vir Nemo ’n high five wou gee, kon ons langer na al die mooi vissies gekyk het. As sy maar net wou swem, sou sy ook heerlik koel gevoel het. As sy maar net iets nuuts wou probeer, sou sy uitvind hoeveel lekker dinge daar buite in die wêreld is.

Maar kindervrese het tog ook hulle plek. As sy nie bang was vir die swembad nie, sou sy dalk kon verdrink. As sy nie vir Nemo bang was nie, sou sy dalk nie eendag uit ’n gevaarlike situasie kon vlug nie.

TWEE KINDERS LATER DEUR CHARMÉ KRIEL (Lux Verbi) aanlyn te koop op voelgoedboeke.co.za teen 10% afslag. R180 R200