Tweede (en derde) huwelike kán werk

0
12
liefde.png

As jy jou aan die statistiek steur, is die kanse dat tweede (60%) en derde (75%) huwelike in die skeihof gaan beland, taamlik groot. Gelukkig hoef syfers nie julle kans op geluk te bederf nie.

Besluit van die begin af dat dit gaan werk. Moenie eens egskeiding as ’n agterdeur oophou nie. Praat eerder oor julle verwagtings en behoeftes – en maak seker julle is bereid om dit wat vir elkeen belangrik is, vir mekaar te gun.

Hou in gedagte dat niemand ooit by jou profiel van ’n perfekte huweliksmaat gaan pas nie, maar dit is juis waaroor ware liefde gaan – om die ander persoon se uniekheid te leer ken en te verstaan, en te besluit om daarmee saam te leef.

Pyn en krisisse is deel van die liefde. Julle gaan soms stry en mekaar verwyt. Tog is dit belangrik om ook slegte goed te ervaar, want daardeur ontdek jy jouself, leer julle mekaar ken en verdiep julle verhouding.