Tweede kanse en ‘n dankbare hart…

Ek is seker dat almal van ons al tweede kanse (selfs dalk derde of vierde kanse, of meer) ontvang het… Hetsy in werk, met siekte, finansies of die liefde…

As jy nou net daar waar jy sit, terugdink aan jou grootste tweede-kans-oomblik, kry jy heel moontlik, soos ek, trane in jou oë.

My beste verwysingsraamwerk is my eie lewe, daarom deel ek graag ‘n paar getuienis-stories oor tweede kanse…

My EERSTE, tweede kans was toe ek as baba aangeneem is. My aanneem Ma kon nie kinders hê omdat sy kanker gekry het op 12 en sy ‘n histerektomie moes ondergaan. Hulle wou baie graag kinders hê en het hul ‘bestelling’ ingesit by die CMR (Christelike Maatskaplike Raad).  Na 7 jaar se wag kon hulle my gaan haal. Vandat ek hulle baba was het ek geleer, gehoor, gevoel, AANNEEM IS VIR ALTYD. Ek en my broer het so oulike boek gehad waarin diere spesies dit uitgebeeld het. Die zebra gesin het byvoorbeeld ‘n haas-baba aangeneem. So ek was soos ‘n bobbejaan-baba in ‘n kameelperd huis.

My Ma en Pa en broer is dus nie bloedfamilie nie, maar dis my familie, en ons is met liefde en ‘n ander tipe ‘gom’ aanmekaar verbind. Diegene wat my ken sal weet hoe verknog ek aan my ouers is. Dankie Pappa en Mamma vir die beste EERSTE kans in die lewe. My twee kinders is my enigste bloed wat ek hierdie lewe kan instuur, hulle twee saam met my ongelooflike man, Pieter, is my gesinnetjie… My hartklop. Dit beteken vir my meer as wat julle ooit sal besef.

Ek het al eenkeer voor in die kerk getuig dat ek een sondagoggend ‘n dreigende  miskraam gehad het met Emma… en hoe ek ons Pastoor Dekker gevra het BID BID BID hierdie kind vas asseblief! God het deurgekom vir my en ek het my tweede kans gekry om nog ‘n dogtertjie te kon hê.

Genade onbeskryflik groot.

Ek was in 1998 in ‘n groot motorfietsongeluk. Nadat ek regtig amper dood was en vervoer was vanaf Luderitz in Namibië na Panorama hospitaal in die Kaap en ek my oë oopmaak, staan beide my ouers by my bed.  ‘n Tweede kans. Soos ek nou praat en getuig oor tweede kanse bewys ook dat daar dalk, nee nie dalk, verseker, ‘n plan met jou op aarde is wat nog nie voltooi is nie.

Dalk word jy kanse gegun soms keer op keer sodat jy moet besef jy moet doen wat God in jou hart plaas om te doen, OF om jou ‘ways’ te verander. Moontlik om jou kans op die ewige lewe te verkry, jou sake met geliefdes of selfs ‘on’geliefdes reg te stel. Daarom is ernsitge siektes (al is dit hoe bitter swaar en seer)deels genade omdat jy tyd kry om te groet, vrede te maak, of dalk te bekeer? Dalk.

Want ‘n skielike heengane soos ‘n motorongeluk ruk jou eenvoudig uit die samelewing sonder enige waarskuwing. Jy sou dalk nog wou jammer sê,  daardie blomme koop, die drukkie wou gaan gee. Daarom, en ek weet ons almal weet dit, moet jy elke dag so leef dat jou geliefdes geliefd voel, jou familie soos familie, nie soos vreemdelinge. Tel die foon op. Gaan drink daardie koppie koffie. Gee daardie drukkie. Maak die vrede. Gee jou aandag. En hou op jaag. Weet jy hoe baie verloor jy as jy jaag?

Ek het altyd baie gejaag, altyd op ‘n drafstap.  ‘n Propvol tot oorlopens toe vol dag. A tot by D, dan terug tot by C, en o ja, moenie vergeet van G. So het ek jag-jaag beland by ‘n neuroloog in Bloemfontein. Hy was vol. Vir lank vooruit. Pastoor Dekker bid toe vir my ‘n plek oop. Ek het prikkels in my hande en arms, voete en bene gevoel vir ongeveer twee maande. Ek het myself gek ge’google’. Vas geglo ek het ‘n ernstige neuron siekte. So sien ek vir Joost van der Westhuizen op die voorblad van die huisgenoot. Op die TV. Ek val amper flou. Jip. Ek het dit ook. Ek huil. Ek bid. Ek smeek. Asseblief ek kan nie nou doodgaan, ek moet nog my twee dogtertjies groot maak.  Na die neuroloog sy toetse gedoen het (ek het ‘n MRI scan vrygespring prys die Here, want o jinne ek het baie erg entevrees) het die sagmoedige dokter na my gekyk en gesê:  Wat gaan jy doen om aanpassings in jou lewe te maak, want as jy so aangaan soos jy aangaan (dit sluit in verkeerd of te min eet, te veel oefen of te min slaap ens.) gaan jou dogtertjies jou in elk geval verloor. Jy is besig met uitbranding. Spanning het ook sy tol geëis na veranderinge in ons gesin se lewe.

Kry balans. My handrem was dalk opgetrek. Ek glo vas dat God soms jou spreekwoordelike handrem optrek om jou te laat halt. “H” staan vir HOKKAAI! Om jou te laat besef dat jy die wêreld om jou moet raaksien, beleef. Die beste beskrywing hoe ek my punt wil oordra is, as ek met my nou-nie-meer-‘n-baba-Emma gaan stap in die stootwaentjie. Ek kyk letterlik na die mooi bome en die groen grasperke, ek hoor die voëls, ek ruik die vars oggendlug, of as ek laat namiddag gaan stap ruik ek die braaivleisvure.

“STOP and stare…”

Ek het eendag ‘n baie waar ding raakgelees, en julle het dit tien teen een al gehoor:

Niemand lê eendag op hul sterfbed en vra om hul bankstate te sien sodat hulle die bankbalans kan sien nie, nee, almal wil hul familie by hulle hê.  Maak werk van jou tweede kanse, en “consider yourself lucky” as jy al  (soos ‘n kat, 9 lewens het) jy by jou negende tweede kans trek.

So gaan drink ek een middag koffie by my Ma. Sy laat my lag en ek spoeg die koffie oor my dagboek, oor die tafel, oor my spierwit uniform, oor die vloer, maar ek lag dat die trane loop. O lag bly darem maar net die beste medisyne….Ek besef toe ook dat ek so lanklaas so gelag het.

Geniet jou lag oomblikke.

Dit bring my by my laaste storie.  So word daardie motorfiets ongeluk van twintig jaar gelede se skroewe wat destyds in my been gesit was uitgehaal, want dit het begin probleme gee.  Voor ek ingaan teater toe luister die narkotiseer na my hart en vra dringend ‘n hartsonar aan.  Daar is iets fout met my hartklep, of iets…..AORTA SCHLEROSE is die diagnose. Ek moet van nou af op chroniese medikasie gaan.  Pille. Wat?  Ek? Hart moeilikheid? Wel, nou is ek deel van die SUN MON TUE WED THURS FRI SAT brigade wat weekliks hulle pille moet uittel. Maar as dit ‘n ou pilletjie of twee vat om nog koffie-uitspoeg-lag-sessies te beleef, nog pajamadril aande, nog klein bollatjies maak vir ballet, nog klein mieliepit tandjies borsel, nog lekker lê en fliek kyk in my man se arms, nog Sondae kan gaan boud eet by my ouers of skoonouers….B R I N G  I T  O N!

Soms is jou “life-line” van tweede kanse aanmekaar gesit. Bloot God se genade.

Luister dalk hoekom jy tweede kanse gegun word. God probeer dalk vir jou iets sê. Leer.

Laat jou tweede kanse VIR jou werk, deur jou werk, vir ander.

Beteken meer.

En moenie wag tot more, want jy leef dalk reeds in jou tweede kans…

 – Het die geleentheid gehad om te preek by die Volle Evangelie Kerk in Upington