Tyd alleen met elke kind

0
480

As vryskutaktrise en radio-aanbieder het MANDI BAARD ’n vol program. Sy glo ook dat kinders op individuele aandag floreer, maar hoe balanseer sy die skaal met twee kinders?

Om ma te wees vir Sumé (2) en Juandré (4) is vir my ’n wonderlike avontuur. Dis opwindend om hulle persoonlikhede te leer ken en te sien hoe hulle verskil en ontwikkel. Soos hulle ouer word, sien ek nie net hoe hulle in lengte groei nie, maar ook hoe hulle behoefte aan individuele aandag toeneem.

Dit is egter moeilik om ’n balans met twee of meer kinders te handhaaf. Ouers, en ekself, is geneig om meer op die jongste te fokus omdat hy of sy nog nie onafhanklik is nie en alles nog nie mooi verstaan nie. Met ’n besige program is dit vir seker uitdagend om jou aandag tussen jou kinders te verdeel en dieselfde hoeveelheid tyd met elkeen deur te bring.

Wat belangrik is, is om te weet waarvan jou kinders hou. Myne is mal oor speel. Of dit nou wegkruipertjie is of om mekaar op die mat te kielie, die fisiese kontak en lawwe speeltyd laat hulle geliefd voel. Ons ry ook graag fiets en koop gereeld draairoomys. Deur hierdie tyd saam met my kinders deur te bring, wys ek vir hulle dat ek betrokke wil wees en deel van hulle wêreld is. Dit is gelykstaande aan ’n uur se individuele tyd per dag.

Jy kan ook nog steeds individuele aandag aan jou kinders gee al is julle almal bymekaar. Die een kry dalk nou ’n beurt om ’n speletjie te kies en dan weer die ander een. Jy hoef nie noodwendig alleen saam met die kind te wees nie – deur net dáár te wees, betrokke, in die oomblik, dien dieselfde doel. Sit jou foon af, vergeet van werk en geniet die spesiale oomblikke met jou kind.

Hiermee beweer ek egter glad nie dat individuele tyd en aandag nie nodig is nie. Ongelukkig bly dit dikwels in baie huise in die slag, want tyd is ’n belangrike faktor. Vir my gaan dit oor beplanning en om die tyd te maak.

As Juandré drie dae lank vra of ek saam met hom Lego sal bou, besef ek dat hy individuele aandag nodig het en dat ek doodeenvoudig tyd sal moet maak om by hom op die mat te sit en die Lego-karakter klaar te bou. Ek maak dan seker dat ek elke stukkie wat hy bou, raaksien en hom prys en komplimenteer op wat hy regkry.

Vir Sumé sal dit wees om saam te teken of te dans. Dit hoef nie elke dag te gebeur nie, want dit gaan oor die gehalte van die tyd wat julle saam deurbring.

Met sekere dinge sorg ek dat elkeen die nodige alleentyd saam met my kry, soos wanneer Juandré swemles het. Ek en hy gaan alleen, terwyl Sumé by Josephine bly (dankie tog vir haar), want vir ’n kind is dit ’n groot ding om te leer swem en hy het my ondersteuning nodig. Hy wil weet dat ek hom raaksien en met toegewyde aandag kyk hoe hy vorder.

Dis vir kinders belangrik dat ons na hulle moet luister, al is dit ook oor ’n klein dingetjie. Ons moet saam met hulle opgewonde raak en hulle hartseer deel, ongeag hulle ouderdom. Ons betrokkenheid en toegewyde aandag vestig ’n onbreekbare band tussen ma en kind.

[VIDEO] Mandi Baard gesels oor roetine en dissipline