“Tyd maak nie gesond nie”

0
3021

Dit is nou vyf jaar sedert Reeva op ’n wrede manier van June en Barry Steenkamp weggeneem is.

Hoe gaan jy aan met jou lewe? Hoe staan jy weer elke oggend op? Hoe begin jy weer te lag? Hoe vergewe jy? June deel haar reis van genesing met ons.

Waar was jy toe jy die nuus gehoor het?

June: Dit was net voor ses op ’n Donderdagoggend. Ek was ongewoon vroeg aan die gang en het uitgesien na nog ’n soel somersdag. Die honde was al om my voete terwyl ek vir hulle kos gegee het. Toe lui die telefoon.

Dis ’n speurder, Hilton Botha, aan die ander kant. ’n Beklemming kom lê in my hart. ’n Oproep hierdie tyd van die oggend van ’n polisieman kan allesbehalwe goed wees.

“Het jy ’n dogter met die naam Reeva?”

“Ja…”

“Daar was ’n verskriklike ongeluk. Jou dogter is geskiet.”

Ek sukkel om asem te haal terwyl ek die moontlikheid oorweeg. “Sê nou vir my,” eis ek die waarheid, “is sy dood of nie?”

“Ek is jammer…”

Om my begin alles draai.

“Sy het dit nie gemaak nie.”

Wanneer het jy vir die eerste keer besef sy is regtig dood?

June: Al het ons haar roudiens gehou, het dit my amper drie maande geneem om te besef sy is regtig dood.

Die Saterdag ná Reeva se dood het die realiteitsprogram Tropika Island of Treasure, waar sy een van die deelnemers was, met ons toestemming begin wys. Vir die volgende paar weke was ek vasgenael voor die kassie. Dit was vir my so vertroostend om haar te sien lag, praat, lééf.

“It is important in life not only how you live, but also in the way you exit it. As long as you live with truth, being yourself and with integrity,” groet sy die kykers toe sy uitgestem word. Toe sy ’n laaste soentjie na die kamera blaas, eers tóé was sy vir my dood.

Rou kan vernietigend wees. Verduidelik, asseblief.

June: Toe die realiteit my tref, het dae, weke, maande net verdwyn. Tyd het nie saak gemaak nie. Aan die begin het ek te skuldig gevoel om te eet. Hoe kon ek terwyl my dogter nie meer hier is nie? ’n Mens moet eet om te leef, maar ek het die wil verloor om myself op te pas omdat ek die kosbaarste ding wat ek besit het, verloor het.

Die dood van ’n kind is steeds die ergste ding wat ’n ouer kan oorkom. Vir my het dit gevoel of ek besig was om te verdrink en ek kort-kort onder die water verdwyn. Daar was dae dat ek nie wou opkom nie. My lyf was daar, maar ’n gedeelte van my hart, my siel, het losgeskeur.

Identifiseer jy met die woorde let it go?

Vir lank slaap ek met Reeva se kissie in my bedkassie. Ek wil hê sy moet naby ons wees, weet sy is veilig.

Na drie maande besef ons dis tyd om te laat gaan…

Tog is die halfuur na haar geliefde Summerstrand pynlik. Ons glo dit is ’n plek waar sy gelukkig sal wees. Dis hier waar sy een van Barry se gunstelingfotosessies gehad het. Ons kan hierheen kom as ons verlang.

Dis ’n lieflike dag. Rustig neem die see haar as en die roosblare dieper in. Die lewenskragtigheid van die see troos ’n bietjie.

“Go forth into the world in peace, be of good courage, fight the good fight of faith, that you may finish your course with joy,” is die dominee se boodskap.

Voel jy soms Reeva se teenwoordigheid aan?

June: Ek en Reeva het eendag gesels oor wat ons gaan doen as die ander een nie meer daar is nie. Sy het gesê sy sal vir my “tekens” in die vorm van veertjies stuur.

Tydens haar begrafnisseremonie vlieg die duiwe wat ons loslaat, nie weg nie. Hulle vlieg ’n draai oor die see en kom weer terug. Dis tóé dat ek haar belofte van veertjies onthou.

Die oggend waarop die hofverrigtinge begin, lê daar ’n pragtige groot, wit veer op die stoep van die gastehuis waar ons tuisgaan. Barry bou ’n sonkamer in ons nuwe huis. Terwyl hy nog met die fondasie besig is, dwarrel ’n veertjie stadig na onder…

Ek het nou al so baie vere. Vir my is dit nie toevallig nie.

Het jy ooit gedink sy sal jonk doodgaan?

June: Ek het nie, maar Reeva moes.

As ’n tiener het sy graag geskilder. Twee van haar skilderye hang al vir jare in die huis, maar ons het nooit regtig gesien wat dit uitbeeld nie.

Die een werk bestaan uit ’n man onder ’n boom met ’n geweer. Naby hom staan ’n meisie met bruin, golwende hare soos Reeva s’n van nature is. Sy het engelvlerke en agter haar is daar ’n leer wat na bo gaan.

Die ander skildery bestaan uit twee gedeeltes. Aan die een kant is dit ’n bukkende, vroulike figuur in ’n klein spasie. Die ander gedeelte is net rooi geverf, niks anders nie.

Hoekom sou ’n veertienjarige sulke prente skilder? Miskien hét sy een of ander voorgevoel gehad.

Hoekom wou jy by elke hofsitting wees?

June: Omdat dit veral emosioneel so uitmergelend is, het ons advokaat baiekeer vir my gesê ek hoef nie daar te wees nie. Dit het soms gevoel of ek myself doelbewus martel. ’n Mens kan net sóveel vat. Toe ek wel op ’n keer wegbly na ’n buitengewoon emosionele dag in die hof, was ek die volgende dag maar weer terug. Ek het net gevoel ek móét daar wees.

Vir my het dit daaroor gegaan dat ek Reeva se gesig moes wees sodat almal kon weet Reeva was ’n mens, een met ’n naam. Ek wou nie gehad het sy moet vergete raak tussen al die feite en tegniese detail van die saak nie. Sy was nie net nog ’n slagoffer, nog ’n statistiek, nie.

Jy is in daardie tyd as “emosieloos” beskryf…

June: Vir party was ek emosieloos, ander het my gevra hoe ek dit regkry om so “sterk te wees”. Die waarheid is dat ek nie sterk was nie. Ek het ’n paar keer ingegee. Dit het vir my gevoel of ek mal word. Ek moes ’n berader gaan sien en kon soms nie ophou huil nie.

Van nature is ek ’n baie privaat mens en al die mense se oë wat gedurig op my was, het my so weerloos laat voel. Die media is genadeloos. Foto’s is geneem selfs in daardie tye wat ek verwoes was, geskok was. In my gedagtes het hulle nie bestaan nie. Kom wat wil, wou ek te midde van al die uitdrukking van emosie rondom my my waardigheid behou.

Julle het hulp uit onverwagte oorde gekry?

June: Die ANC se vroueliga het ons nie net met logistieke reëlings ondersteun nie, maar ook deur saam met my die hofsaak by te woon. Hulle was saam met my daar, as vroue, as ma’s.

Een van die vroue was taamlik ouerig. Kort-kort sou sy indut. Eers het ek gedink dat dit darem baie onvanpas is, maar toe probeer ek my in haar skoene plaas. As versorger van haar kinders en kleinkinders sou sy waarskynlik douvoordag moes opstaan om vir almal kos te gee voor sy die lang stap na die taxi aanpak. Saans, nadat sy uiteindelik na ’n uitputtende dag by die huis kom, moes sy nie net kos maak nie, maar ook skoonmaak en klere was.

Dit was nie ’n maklike lewe nie, maar sy was daar.

Mense het julle egter ook baie veroordeel?

June: Dit was verskriklik! Die straat voor ons huis was so oorval met joernaliste, fotograwe, kameraspanne dat ons nie by ons huis kon uitkom nie. Mense het baie afleidings gemaak en oordele gevel oor ons as gevolg van mediaberigte.

Twee jaar voor Reeva se dood is ons bankrot verklaar nadat ’n kliënt Barry nie betaal het vir perde wat hy afgerig het nie. Ons het omtrent alles verloor. Toe die vrou by wie ons in daardie stadium gehuur het, van ons geldelike probleme lees, het sy ons twee maande kennis gegee.

Ek het onmiddellik besluit ons bly nie ’n dag langer daar nie. Gelukkig kon ons geholpe raak op ’n kleinhoewe buite die dorp, ’n bestiering, want veral Barry het die ruimte om hom nodig.

Jy sê jy het lankal reeds vergewe?

June: “Voor jy jou pen of jou stem lig om kritiek te lewer, neem eers die ander persoon se omstandighede, hulle journey, in ag.”

Ek probeer baie hard om een van Reeva se twiets kort voor haar dood toe te pas. Met alle eerlikheid kan ek sê dat ek al lankal vergewe het. Ek moes. Dit word nie net van my verwag nie, maar ek het ook besef dat ek dit juis vir myself moes doen. Dit was die enigste manier waarop ek kon aangaan.

Vergifnis beteken egter nie dat iemand nie gestraf moet word nie. Of dit nou vir vyf of vyftien jaar is, die oortreder moet gestraf en uit die samelewing verwyder word. Op die ou end, glo ek, het reg geskied.

Hoe voel jy regtig oor Oscar Pistorius?

June: Nog een van die aannames wat mense maak, is dat ek negatief teenoor hom moet wees.

Ek haat hom nie. Ek haat dit wat hy aan my kind gedoen het. Eintlik het dit nie saak gemaak hoe lank hy tronk toe gaan nie, hy is die een wat vir die res van sy lewe moet saamleef met dit wat hy gedoen het. Al daardie talent en potensiaal wat hy gehad het, is weg.

Ek het ook simpatie met sy familie. Hulle kry net so swaar. Reeva en sy sussie, Amy, was vriendinne. Sy het tydens die hofsaak gevra of sy een of ander tyd met my kan praat, maar tot nou, terwyl die saak steeds aan die gang was, was dit nog nie gepas nie.

Het daar ’n oomblik van aanvaarding gekom?

June: Met die hofsaak was ons so gefokus om net die waarheid en geregtigheid te kry dat ons steeds nog nie heeltemal begin rou het nie. Alles het in die lug gehang, maar met die uiteindelike uitspraak van strafbare manslag is ons gedwing om aanvaarding te kry.

Barry het van die begin af gesê dit maak nie saak wat die uitspraak is nie, ons gaan ’n manier moet kry om aan te gaan met ons lewe. Dis in daardie tyd wat die werklikheid neergedaal het op wat presies deur vier koeëls van ons weggeneem is: haar troue, haar kinders, haar loopbaan, haar drome, haar reg om bed toe te gaan met ’n gelukkige hart en ’n verwagting na die toekoms, haar kans om ’n verskil te maak.

Wanneer het jy besef dat jy moet aanbeweeg?

June: Al die emosies, beelde, dinge wat ek in die hof gehoor het, was verskriklik. Iets was nodig sodat ek hierdie tragedie kon oorleef. Ek het voor ’n kruispad gestaan waar ek moes keer dat Reeva “verniet” gesterf het.

Dit is waar die idee vir die Reeva Rebecca Stigting begin het. Hiermee wil ek en Barry iets konstruktiefs doen om mense te help. Een van die projekte is ’n beurs wat aan ’n vroulike regstudent gegee word wat in familiereg gaan spesialiseer. Saam met bewusmakingsveldtogte probeer ons sin maak uit iets wat sinneloos was. Die tyd vir trane was verby. Ons moet klaarmaak waarmee Reeva begin het.

Vir my is dit die silwer randjie rondom ’n tragiese wolk van gebeure.

Droom julle nog partykeer van haar?

June: Daardie eerste aand na haar dood het ek gedroom dat sy na my toe kom in ’n lang, wit rok. “Mamma,” sê sy, “ek hoop nie hy skiet my weer nie.” Dit was die enigste keer dat sy ’n volwassene in my drome was. Nou is sy altyd ’n klein dogtertjie wat ek moet versorg.

Sedertdien word ons elke oggend drieuur wakker, die tyd wat sy weg is. Dis nou al deel van ons innerlike ritme. Barry sal buite op die stoep gaan sit terwyl die trane oor sy wange loop en ek probeer my gedagtes met iets anders vul.

Ons rou op verskillende maniere. Soms is die een op en die ander een af, maar na vyf jaar ondersteun ons mekaar al beter.

Hoe het jy weer begin om te lag?

June: Ek dink dis maar net my persoonlikheid. Ek sal in die oggend opstaan en vrolik wees vir ’n rukkie tot ek onthou wat gebeur het. Aan die begin het ek gesukkel om te glo dat dit regtig gebeur het. Ek was so deurmekaar. Nou nog word ek wakker en dink dit is net ’n nagmerrie tot iets gebeur wat al die herinneringe weer aanskakel.

Dis dan dat ek moet keer om in daardie diep afwaartse spiraal van negatiewe gedagtes te tuimel. Kinders het my baie gehelp om troos te vind. Grootmense weet nie altyd wat om te sê nie, maar die knus fisieke nabyheid het my baie gehelp om weer op te staan en aan te gaan. Eintlik het mens nie regtig ’n keuse nie.

Vertel ons ’n snaakse staaltjie of twee…

June: Ek was nog nooit ’n goeie huisvrou nie en een van my swak punte is om te vergeet om kos na ’n ruk uit die yskas te haal. Hierteenoor was Reeva pynlik netjies. As sy uit Johannesburg kom kuier het, het sy gewoonlik heel eerste na die yskas gestap om te sien of dit netjies is. Aan die einde van ’n kuier sou sy ’n lysie gemaak het van alles wat ek volgens haar nie skoon genoeg gemaak het nie. Die yskas was altyd op daardie lys.

Wanneer ek my hare reguit maak, kan ek nie help om aan Reeva te dink nie. “Moenie van agter vergeet nie,” sou sy my altyd herinner omdat ek gewoonlik ’n gedeelte mis.

Watter invloed het Reeva op ander gehad?

June: ’n Vrou het my ’n rukkie terug gekontak om te vertel hoe Reeva se dood haar laat besluit het om uit die verhouding waarin sy was, te kom. Alhoewel sy dit nie toe besef het nie, sou Reeva daardie oggend by die skool waar sy ’n onderwyseres was, juis oor geweld onder vroue kom praat het.

“Toe ek daardie Valentynsdag die nuus hoor, het ek geweet ek moet uit. Net die week tevore het my kêrel my gestamp en met ’n glas gegooi. Hy het ’n klomp gewere in sy kluis en kon nie sy humeur beteuel nie,” het sy my vertel. Daardie middag het sy uitgetrek en ’n ander blyplek gaan soek. Reeva het indirek die vrou en haar seuntjie se lewe gered.

Glo jy dat jy Reeva eendag weer gaan sien?

Absoluut!

Toe sy as agtjarige gedoop word en die dominee haar vra of sy in God glo, het sy kliphard uitgeroep: “Ja, natuurlik glo ek!”

Kyk jy deur haar sosialemedia-inskrywings waar sy haar op Twitter onder andere beskryf as Child of God, gee dit my die vertroosting dat sy tot aan die einde naby aan Hom geleef het. Op 25 Desember 2012: “Merry Christmas everyone and Happy Birthday to the greatest man that ever walked the Earth! Sending love and light to you all.”

’n Paar dae in die nuwe jaar: “I am who I am by the grace of God. Nothing more. Nothing less. If He can love me as I am, then so should you, I guess. Me”

Ek kan nie wag vir daardie dag nie.

Hoe het jou verhouding met God verander?

June: My vrae sal seker nooit ophou nie. Wat beteken die lewe en hoe werk dit? Was Reeva spesifiek hiervoor “gekies”? Sou geweld onder vroue ooit soveel aandag gekry het as dit nie sy was nie?

Ek het lank terug opgehou om antwoorde by mense te soek. Net God weet hoe diep my seer is. Ek glo steeds, maar na alles wat gebeur het, het my verhouding met Hom tog verander. Dis vir my deesdae swaar om kerk toe te gaan – nie omdat ek nie meer glo nie, maar omdat dit vir my moeilik is om stil te word tussen soveel mense wat my herken.

Diep binne glo ek beslis steeds in God. Ek sukkel net ’n bietjie om Sy weë te verstaan.