Tyd, my goeie vriend

tyd

Tyd maak my soms kwaad, want soms neem tyd maar sy tyd. Dit toets my geduld, my geloof en my deursettingsvermoë.

Tyd maak my soms uitgeput, haastig en hoe stadiger dit draai, hoe haastiger wil ek beweeg. Ek en tyd is meeste van die tyd net nie op dieselfde bladsy nie. Soms wil ek hê dit moet bietjie uitrek en ander tye wil ek dit oor en verby kry. Want mens wil nou, mens wil gou of mens wil weet.

Maar wanneer jy besef tyd is jou vriend, jy die waarde sien in elke sekond wat aftik dan sit jy agteroor langs tyd en geniet elke oomblik met die wete dat sy vir jou net voordeel inhou. Tyd gee perspektief, bou geloof, karakter en wysheid.

Tyd gee resultate, laat groei of doodloop. Tyd gee hoop, al kan dit soms uitstel. Tyd gee rigting, beplanning, visie en bepaal doelwitte. Tyd gee dieper liefde, intimiteit en bou verhoudings en genees wonde. Tyd maak memories wat ons laat terugblaai.

Tyd gee beleggings wat waarde gee en rus in jou oudag. Tyd maak kinders groter, langer en volwasse. Tyd neem jou tyd, raak alles aan en verander jou, selfs jou gladde vel kry lyntjies en jou hare word grys as bewysstukke.

God noem selfs dat tyd is genade om reg te maak, te vergewe en bou vertroue om ‘n verskil te maak en te besluit. Tyd is ons beste vriend en hoe min omhels ons haar nie.

Sy, wat ons so nodig het… en tog soms bitter teenskop. Tyd is my beste vriend en wat ek daarmee doen bepaal selfs my ewige tyd se lewe voorentoe.

Daarom verkies ek om op jou skoot te kom sit, te kuier op jou stoep, jou te omhels en van jou te leer… jou rustigheid deur te stap, tog staan jy nooit stil nie. Jy loop altyd al moet ek soms wag terwyl jy dinge uitsorteer. Tyd, sowaar, jy is ‘n goeie vriend.

Vorige artikelWanneer vroue roep
Volgende artikelNie in mense se hande nie
Blogger - Adri Marais
Adri Marais is sommer net ’n kaalvoet gedig. Haar liefde vir mense en stories vertel, meestal haar eie stories, het ’n passie begin word en pad gevat na miljoene woorde wat maats soek om te inspireer. Hierdie stories vertel van hoop, geloof, liefde, swaarkry en vreugdes. Sy is tans ’n kommunikasiebestuurder en ’n enkelma wat kreatief die lewe liefhet en wil deel om ander op te bou en te bemoedig. Sy hou van die reuk van nat grond na die reën, vars blomme, skoon bedlinne en die gesuis van die wind tussen die grootste bome. Om haar droom uit te leef beteken om ander te kan inspireer deur stories wat leef en ’n nalatingskap los by gewillige lesers. Hierdie stories wat die lig laat sien deur ander se oë en ervaringe om te verstaan waar ware hoop, geloof en moed lê. Stories wat ons uitdaag, meer leer van onsself en te beïnvloed om te verander sodat ons beter mense wil wees. Nie dat sy al die antwoorde het nie, maar deur geloof in Jesus Christus, wil sy meer wees as om deur die lewe loop sonder om ’n verskil te maak. Verhale kleur die lewe in en oral is daar karakters met stories om ons wat die reis interessant maak. Kom saam en vind dalk net jou inspirasie in ’n storie van ’n invloeder. Haar blog se naam is #Rooimat stories.