UITDAGING! Baklei minder en lag meer

495
Desiré Gardner

“Met grappe, liedjies en karakters wat speels by ons huis kom kuier, word onnodige kindertrane gou afgevee.” – Desiré Gardner

Dis naby bedtyd en my jongste, Robin (3), huil omdat sy nog ’n paaseier wil hê. Sy wil dit nóú hê!

Dis nog nie te laat om haar aandag na ’n grappie te verskuif, weg van die ding wat haar ontstel nie. “Oh, Robin, did I tell you about the chicken in the road?” Die atmosfeer verander dadelik. “What chicken, Mommy?” “The chicken fell and then the donkey came…”

Só maak ek gereeld die vreemdste stories op om die situasie na ’n ligter luim te verander. Dis meestal die belaglikste stories, maar op daardie oomblik breek dit die emosionele uitbarsting.

Dit is nie dat emosies onder die mat ingevee moet word nie, veral nie as daar ’n ernstige saak is nie. As iets anders die kinders ontstel, maak ons doelbewus ’n keuse om daaroor te praat. Maar ’n paaseier is nie iets wat haar emosioneel gaan laat groei nie…

Ek en my oudste, James (7), is mal daaroor om saam te lag. Ons al drie het baie dieselfde humorsin. Selfs te midde van ’n tantrum, waar daar die grootste gille uitkom, laat ek hulle só lag dat hulle nie anders kan as om op te hou nie.

Dan is die situasie opgelos. Dit werk nie altyd nie, maar die kere as dit werk, is dit amazing!

Mense kan dalk dink ek is mal, maar my verbeeldingswêreld is groot. En hierdie kinderlike hart nóg groter.

Ek skep karakters wat die kinders kan vermaak of wat dissipline vereis, soos Mrs Cow. Sy is ’n Britse tannie wat graag tydens badtyd kom kuier. Robin is op die stadium waar die hele badproses ’n gestoei is.

Eers stap Mamma uit die badkamer en Mrs Cow kom terug met haar Britse aksent: “Hi, Robin.” “Oh hi, Mrs Cow.” “Robin, you are not allowed to waste water, my family needs it.” “Oh, sorry, Mrs Cow…”

Sulke tye wil ek eintlik net lag! Vir Robin is Mrs Cow baie geloofwaardig. Daar word eerder na “haar” as na my geluister. Daar is ook die Britse Mr Robot. Soms vra Robin na die karakters. Die karakter vra dan natuurlik dat sy haar mamma moet help met ’n liedjie of so. Dis groot pret!

Ek probeer om ernstige situasies ligter te maak, terwyl hulle nog klein genoeg is om dit te glo.

In die oomblik verlig lag al die seer. Daar is talle bewyse dat lag goedvoelhormone of endorfiene vrystel, wat aan ons emosies verbind is. Daar gebeur iets fisieks in jou liggaam, wat die krag van ’n lagsessie bewys.

Lag bring ook perspektief op die situasie of die probleem as jy weer daarna moet teruggaan om dit te hanteer. Dieselfde probleem lyk nie net vir my kind anders nie, maar vir my ook.

Soos die keer toe ons ’n bietjie laat was vir James se skool. Terwyl ons oor reënplasse hardloop en die klok lui, kies ons toe om liefs daaroor te lag. Sonder om regtig daaroor te dink, sê ek vir hom: “Ag toemaar, Seun, in die lig van die ewigheid, is dit niks.”

Tot my verbasing het hy saamgestem dat Jesus nie oor twee minute laat sou omgee nie.

Humor versterk ons gesinsband soos wat niks anders kan nie. Om te kan lag vir jouself is ’n groot geskenk. En om dit saam met jou kinders te doen, kan jou wêreld van uitdagings verander.