UITDAGING! Leer jou kind om selfstandig te wees

2612

“Ek glo kinders moet van jongs af vertroue in hulle eie vermoëns hê om dinge vir hulleself te kan doen.” – DEBBIE ENGELBRECHT

Met groot oë en bleek van skok besef Ousus dat vandag dié dag is. Sy het vergeet van die gedig! Ons is op pad skool toe. Al die ander huiswerk is van die bord afgeskryf. Alles is gedoen, maar nie dié gediggie nie…

Dit moes tuis geskryf word, sodat sy dit in die klas kan opsê. Angs pak my beet. My hart wil haar net van die gevolge red. Ek wil haar beskerm!

Ons beraam toe ’n plan. Sy gaan aan die begin van die periode na Juffrou toe en vra om verskoning dat sy vergeet het. Dan vra sy of dit reg sal wees as sy dadelik een skryf en dan laaste kans kry om dit voor te dra. Genadiglik het Juffrou haar eerlikheid waardeer en haar ’n tweede kans gegee.

Ousus is tans in graad 4, en vanjaar is alles nuut. Van nuwe vakke tot by nuwe onderwysers aanmeld elke keer as die klok lui.

Nietemin, ek het geleer dat ek steeds ’n goeie ma is, al laat ek toe dat my kind die gevolge van haar dade dra.

Elke keer as ’n mens oorneem en dinge vir hulle wil doen wat hulle heel bevoeg is om self te doen, sê dit eintlik dat jy as ouer nie in hulle vermoëns glo nie. Op dié wyse glo hulle ook nie in hulleself nie.

Die moeilikheid kom wanneer die mammahart net goed bedoel. In die verlede het ek dit as ’n bietjie bederf beskou. Hulle klere was altyd reg op die bed voor ek hulle wakker maak met ’n skinkbord ontbyt.

Ek het hulle egter allermins ’n guns bewys. Dit ontneem hulle eerder die kans om selfstandig en vol selfvertroue te word.

Dinge is veral soggens uitdagend as Sussie die tandepasta teen ’n slakkepas op die tandeborsel sit en ons minute tevore al moes gery het. Die tyd loop dan vinniger as gewoonlik uit. Mamma se geduld ook.

Ek moes op die harde manier leer dat vyf voor sewe dalk nie die mees geleë tyd is om nuwe takies te leer nie. As die tydsdruk hoog is, is daar nie ruimte vir misluk, afskud, opstaan en wéér probeer nie. Ons span nou naweke en vakansies hiervoor in.

Takies aanleer het van jongs af begin. ’n Mens wil nie te moeilike takies gee wat veroorsaak dat hulle soos ’n flop voel nie. Dien iets eenvoudigs, soos om die blokkies wat by mekaar pas, in die regte houer te sit, anders is dit volgende keer ’n soektog. Hulle leer dan dat ’n mens die lewe vir jouself makliker of moeiliker kan maak.

Daar is ook ’n verskil tussen voldoende ondersteuning gedurende die leerproses en helikopterouerskap. Ek moes leer om met gerustheid terug te staan en te kyk hoe my kind iets nie regkry nie. Dít, sonder om oor te neem.

Die rol van versorger verander dan na dié van afrigter. Jy speel nie saam op die veld nie, maar jy moedig van die kantlyn af aan.

“Mooi probeer, Sussie, Mamma kan sien jy raak met elke probeerslag beter.” Ek moet myself gereeld daaraan herinner dat perfektheid nie die einddoel is nie.

Vandat ons ons dogters met meer take vertrou, kan ek sien hoe hulle beter raak in probleemoplossing. Hulle dink oor hulle dade én die gevolge daarvan. Die motivering is ook groter om nuwe dinge te probeer en te presteer. Bedagsaamheid word ook nou aangeleer.

Hierdie moederhart glo dis beter om hulle van jongs af die nodige vaardighede te leer. Op dié wyse kan die lewe en sy uitdagings met oorgawe aangepak word.