UITDAGING! Liefde is kleintyd ’n aksie-woord

Danielle de Villiers

“Ons seuntjies leer dat omgee en liefde gewys kan word sonder die gebruik van moeilike woorde.” ‒ Danielle en AB de Villiers

“Mamma gaan gou boontoe om iets in die kamer te kry.”

Klein AB (3) weet dit is nou sy beurt om ’n ogie oor sy boetie, John (18 maande), te hou. My een oor bly nog op die grond. Dit voel altyd veiliger onder as op die boonste verdieping.

’n Rukkie later hoor ek die stemmetjies. Wat doen die twee? Ek loer tussen die gaping van die trappe af.

Dit is sulke oomblikke wat hierdie moederhart net laat glimlag.

AB leer sy boetie om versigtig by die trappe op te stap: “John, sit een voetjie op die trap, dan eers jou ander voet op die trap, dan stop, dan weer een voet op die trap, dan ander voet op die trap, dan stop, ek sal jou handjie vashou…”

Met soveel omgee het AB sy bababoetie tot bo gehelp. Dit is presies hoe ons met ons jongste praat as hy by die trappe wil op.

Ouboet is John se held. AB probeer hom lei waar hy kan. Op dié ouderdom dra woorde nog nie soveel krag soos aksie nie. Elke beweging van ons word fyn dopgehou, omdat dit hulle enigste voorbeeld vir groei en vordering is.

Selfs tydens Bybelstudie kies ons om die kleintjies te leer hoe Jesus liefde gewys het. Op dié manier daag ons hulle uit om liefde te demonstreer. Van my eie kinderdae af is Lukas 6:27-31 ’n kompas vir my: Behandel ander mense soos jy self behandel wil word.

Geleenthede om gaaf teenoor ander te wees, duik gereeld op. Nou, in hulle kleutertyd, sal hulle sommer kliphard in die winkel uitvra oor ’n oom wat “funny” loop. Met ’n rooi gesig sal ek die oomblik benut om vir hulle meegevoel teenoor ander te wys.

Dit gee hulle groot vreugde as hulle sien hoe vreemde mense se gesigte ophelder wanneer hulle goeie maniere het. Dié oomblikke bring net plesier vir my siel, al kos die aanleer baie oefen.

Om hulle op goeie gewoontes te komplimenteer spoor hulle aan om dit meer gereeld te doen.

Soos by die skool wanneer ’n maatjie “nie mooi is nie,” weet hulle dat dit nie vir jou toestemming gee om terug lelik te wees nie. Ek moedig hulle aan om altyd, en in enige situasie, gaaf te wees en in liefde te antwoord.

Maar dit begin alles tuis. Ek en my man, AB, moet weet ons is hulle maatstaf. Selfs in ’n oomblik van konflik moet ons kies om kalm en met die regte woordkeuses rustig deur sekere situasies te praat, in hulle teenwoordigheid.

Mededeelsaamheid is deel daarvan om in liefde op te tree. Elke paar maande sorteer ons hulle speelgoed en kies ’n paar goedjies om aan minderbevoorregte kindertjies te skenk. Ons het dit nou al ’n paar keer gedoen om die konsep hiervan vas te lê. Wanneer hulle oud genoeg is, sal ek hulle saamneem na die kinderhuis.

Vir die huidige probeer ons vir hulle verduidelik dat dit ander maatjies se harte baie bly maak as hulle hierdie geskenkies kry.

Tydens Paasfees kon hulle deel in die blydskap van wat dit beteken om vir ander liefde te wys. Met ’n bietjie trane het hulle ingestem om van hulle paaseiers te deel met die “ooms” wat ons woonbuurt veilig hou. Hulle het gou-gou besef hoe baie dit vir die wagte beteken het en dat dit ’n manier is om te wys dat jy omgee.

Die sekuriteitswagte se vreugdevolle reaksie sal hulle altyd bybly. Dit is genoeg aanmoediging vir dié tweetjies om aan te hou om liefde te wys.