Uiteindelik die besef: “Ek is goed genoeg” vir Caroline-Grace Brüssow

0
990

Sy is mooi en slim, en het pragtige stem. Tog word CAROLINE-GRACE BRÜSSOW van The Voice-faam soms steeds gepootjie deur een ding waarmee ons almal dikwels sukkel.

Dis ’n vraag wat my al lank teister: Is ek goed genoeg? Ek droom lankal daarvan om sang my loopbaan te maak. Ek het min mense daarvan vertel, want ek het gereken die kans daarvoor is nie baie groot nie.

“Jy moet realisties wees, Caroline,” het ek die Celine Dion-prentjie in my kop probeer ignoreer: dat ek eendag mense se harte deur musiek sal kan bereik.

“Dink jy regtig jy kan daar uitkom? Sal jy ooit goed genoeg wees?” Die gedagtes was soos vurige pyle, en die maklike uitweg was om dit te glo en op te hou droom. Nogtans kon ek nie hierdie begeerte wat in my hart gebrand het, ignoreer nie.

Ons elkeen kry sekere geskenke – talente – wat in ons hart geplant word as ’n passie. Dis die sagte stem in ons binneste wat ons aanmoedig om nie tou op te gooi nie.

Ongeag my twyfel, kon ek daardie stem nie ignoreer nie.

Baie versigtig het ek hierdie geskenk in my hart begin oopmaak – geleenthede aangegryp om my talent te oefen en te ontwikkel. In matriek het ek ’n groot rol gekry in ’n skole-musiekproduksie, waarvan die hoofrolle deur professionele sangers vertolk sou word. Ek was heeltemal uit die veld geslaan. Ek het kliphard gewerk om almal wat gedink het ek was te jonk en onervare, verkeerd te bewys. Dit was een van daardie groot oomblikke wat my onsekerheid vir ’n rukkie laat wyk het.

“Dalk kan ek dit regtig doen,” het die besef begin insink. “Dalk is my droom nie so vergesog nie.”

Twyfel kom egter altyd terug en dwarsboom jou passie.

Om ’n sprong in geloof te waag verg baie moed, het ek geleer. My droom het al baiekeer momentum gekry, maar dan begin ek weer dink dat ek nie goed genoeg is nie. Dis asof ek telkens te bang is om my hart te volg, om werklik te vertrou dat my liefde vir sing deel van my roeping is.

’n Goeie voorbeeld was toe ek besluit het om eerder in die regte te gaan studeer. Dis mos ’n baie veiliger opsie as om voltyds aan ’n sangloopbaan te werk, het ek myself wysgemaak, want “wat as…?”

As ek nou terugdink, besef ek dat ek liewer na my hart moes geluister het. Dat ek die stemmetjie wat my aangemoedig het om op my droom te fokus, moes vertrou het. Ek sou baie verder gewees het in my loopbaan. Ons vrese en swakhede het maar die manier om ons te laat ontspoor.

Vandag weet ek ’n mens moet ligloop vir al die redenasies waarmee jy jouself oortuig om nie die droom in jou hart te volg nie. Myne het só geklink: “Ek moet myself eers bewys. Iets ‘ordentliks’ agter my naam kry. Eers dan sal mense weet ek is slim en innerlik sterk genoeg. Daarna sal die tyd reg wees om die singery weer ’n kans te gee.”

Alles net slimpraatjies. Die waarheid was dat ek eintlik net onseker was van myself. Te bang ek gaan misluk.

Een goeie ding wat uit die studie gespruit het, was dat my selfvertroue ’n hupstoot gekry het. As jy skaam, saggeaard en ’n people pleaser is, kan dit jou nogal pootjie. Voorheen het ek mense maklik toegelaat oor my te loop. Nou het ek darem die regskennis gehad om my man te staan.

Maar die hartskennis het steeds ontbreek.

[VIDEO] Caroline-Grace Brüssow gesels oor hoe sy kritiek hanteer

Soms kom ’n draaipunt op die vreemdste tyd en plek. Ek en my man, Heinrich, is sak en pak Japan toe, waar hy klubrugby gaan speel het. Dit was ’n warrelwindtyd wat my fokus weereens van my passie af weggedraai het.

Daar was eers die warboel van studeer, deeltyds werk en ’n troue reël. Toe volg die groot aanpassing by ’n vreemde land en kultuur, en baie ure se alleenwees. My eie grootste vyand was my geselskap – my twyfelgedagtes, wat nie lank gevat het om die oorhand te kry nie. Hier sit ek in ’n land waar ek nie kan werk of sing nie. Dit het my verskriklik waardeloos en depressief laat voel.

Paniek het my beetgepak. “Ek moet sing… geld inbring… iets beteken…”.

Vir iemand wat ’n doener is, ’n baie doelgerigte persoon, was dit erg om skielik niks “belangriks” te hê om te doen nie. Of so het ek gedink.

As mense vir my gevra het: “Waarmee hou jy jouself besig in die vreemde?”, wou ek eerder in die aarde wegsink as om te antwoord, want wat het hulle verwag om te hoor? Dat ek aan ’n interessante projek werk? Dat ek daar in die vreemde op allerhande eksotiese plekke optree?

Dit was baie ver van die waarheid af. Die realiteit was dat die meeste van my tyd gebruik is om huis skoon te maak. Uitvee, was en skrop.

Omdat ek soveel tyd tot my beskikking gehad het en nie lief is vir uitgaan of om op my eie inkopies doen nie, was huis skoonmaak my vernaamste tydverdryf. Tussendeur het ek darem geoefen en geverf ook, maar my perfeksionistiese streep het die skoonmakery laat oorneem. Sodra ek daarmee klaar was, was die volgende taak om ’n ordentlike bord kos te kook. As Heinrich in die aand by die huis gekom het, was ons woonstel blinkskoon, die kos gereed en sy koppie koffie het reggestaan.

Dít was my dag. My nuwe doel in die lewe.

Maar ek was sielsongelukkig. Ek het baie geworstel. Hoekom het ek ’n talent as ek dit nie kan gebruik nie? Gaan ek ooit my passie uitleef? Wat is die doel met alles?

Helaas was daar ook die giftige gedagte: “Sien? Jy is toe nie goed genoeg nie.”

Dit het deur my kop bly maal sodat ek later in die gedagtes wou verstrik. Nes ek party dae in my trane verstik het. Die frustrasie oor die droom wat ek nie kon uitleef nie, het my byna-byna ondergekry.

Elke seisoen is ’n belangrike trappie op die pad na jou lewensdoel. Soms verg dit ’n desperate situasie om jou tot hierdie besef te laat kom.

In die vreemde was daar nie ’n kerk om aan te behoort nie. Boonop is ek van nature ’n private mens wat nie sommer vir ander sal sê as ek sukkel nie. Los dit eerder self op, is my filosofie, maar nou het selfs dít nie eers meer gewerk nie.

Ek was heeltemal uit my gemaksone geskud – en dít is die beste plek vir groei.

Vandag is dit vir my baie duidelik hoe ons persepsies juis afgebreek moet word sodat ons nuut kan dink en ons omstandighede anders kan beleef.

’n Wyse vriendin, wat kon insien dat my denkwyse moes verander, nie my omstandighede nie, het voorgestel dat ek op sosiale media Joyce Meyer se toepassing op my foon aflaai en na haar boodskappe luister.

Wat ’n openbaring! Ek wens het ek dit al lankal begin doen! Joyce se boodskappe het omtrent ’n nuwe wêreld van dink en verstaan vir my oopgemaak. Dit was asof sy net met mý gepraat het.

“Het jy ’n droom, maar jy weet nie hoe om daar uit te kom nie?” Jip.

“Voel dit of jou lewe nêrens heengaan nie?” Ja.

“Is jou emosies besig om jou onder te kry?” Beslis.

Die tema van elke preek was asof spesiaal op my gerig. Só het my manier van dink stadigaan verander. Hierdie is net ’n seisoen, het ek besef. Dis waar die Here my nóú wil hê. ’n Manier om my te leer om vas te byt, geduldig te wees en op die groter prentjie te vertrou.

Dit het my ook tot die besef gebring dat ek nog altyd eendimensioneel in my geloof was. Ek het die lewe net vanuit een hoek bekyk en beleef. My worsteling en frustrasie het egter die geleentheid geskep om my geloof, en perspektief, dieper en wyer te laat groei.

Alles waarmee ek gesukkel het, het anders begin lyk. Ons almal het spesifieke areas in ons lewe waar ons kleitrap. In my geval is dit my emosies wat maklik met my op hol gaan. My eiewaarde wat ek op verkeerde plekke en in verkeerde dinge gaan soek. En onderskeidingsvermoë – om te weet wie om te vertrou en wie nie.

Dis dinge waarmee ek daagliks gesukkel het. Omdat ek lang tye alleen by die huis was, het ek baie ontsteld geraak as Heinrich in die middag huis toe kom en nie dadelik al sy aandag aan my wy nie.

Hou wou dalk eers ’n paar selfoonboodskappe beantwoord of net ’n rukkie rus na ’n lang dag,

maar ek het dit vreeslik persoonlik opgeneem. Baie simpel en onvolwasse, as ek nou daaraan dink!

“Is jy nie bly om by my te wees nie? Het jy my nie ook gemis nie?” sou ek neul, vreeslik afgehaal en vol selfbejammering.

In sulke tye het Joyce se stem opnuut in my hart weerklink: “It’s not all about you.” Dit gaan nie net oor my en hoe ek dinge gedoen wil hê nie.

Toe ek eers leer om die selfsugtige eie ek uit die prentjie te haal en objektief na ’n situasie te kyk, om dinge in konteks te sien en te onderskei tussen waarheid en persepsie, het alles meteens anders begin lyk. Hoe meer ek dit begin doen het, hoe makliker het dit geraak om nie so kleinlik op te tree nie.

Ek moes dit ook ten opsigte van my gebrek aan eiewaarde doen. Dit help nie om jou waarde te soek in dinge of mense, suksesse of prestasies nie. Jy gaan elke keer teleurgesteld wees.

My waarde as mens is net te vinde in wat Hy van my dink en sê. Ek moes leer om my omstandighede te aanvaar en te vertrou dat dit deel is van die groter prentjie om my te vorm en skaaf vir wat voorlê.

Ook wat onderskeidingsvermoë betref, moes ek nuut leer dink. Wanneer is ’n ding bedoel vir my en wanneer nie? Wie kan ek vertrou en wie nie? Ek het ontdek die antwoord lê in stil raak en diep luister. Om die vrede in my hart as ’n maatstaf te gebruik en nie meer my eie kop te volg nie.

Die regte ding op die regte tyd is toe nie ’n cliché nie. Waar my ledige ure in ’n vreemde land voorheen die oorsaak van my ongelukkigheid was, het dit uiteindelik een van die kosbaarste tye van my lewe geword.

Dit het my in staat gestel om tyd te maak vir my man en ons huwelik. Tyd vir stil word en tyd vir mekaar. Waar kry ’n vrou immers die kans om uitsluitlik op hierdie dinge te fokus? Boonop is Japan een van die beste plekke dit te leer, want hulle hele kultuur is daarop ingestel. ’n Tyd vir elke ding. Vir werk, ontspan, kuier en rus. En wanneer jy iets doen, doen jy dit goed en reg.

Die Japannese is verskriklik hardwerkende mense. Hulle bestee lang, intense ure op kantoor. Dit wat jy na-uurs doen, doen jy met net soveel oorgawe. Hulle fokus en strewe na perfeksie is ongelooflik.

Ons het dit gesien by die plaaslike ouens wat klubrugby speel. Hulle werk van vroeg tot laat, en dan word daar rugby geoefen. Ure aaneen. As jy nie die bal ordentlik kan skop nie, dan oefen jy – vier, vyf uur elke aand, tot jy dit ordentlik kan doen.

Net so bestee hulle gehaltetyd saam met familie en vriende.. Daar is nie ’n ding soos gou gaan uiteet of ’n vinnige koppie tee saam met jou vriendin nie. Hulle maak tyd vir ure se kuier en gesels. Selfoon en ander dinge wat jou aandag kan aftrek, word weggepak. Niks word halfhartig gedoen nie.

Dit het geleidelik ook deel van ons lewe geword: om ’n ding met oorgawe te doen.

As ek nou terugkyk, verstaan ek my frustrasie om nie te kon werk of sing nie, maar dit het my die kans gegee om met oorgawe ’n goeie vrou vir my man te wees. Dit het ’n wonderlike fondasie vir ons geskep om op voort te bou.

Noudat my sangloopbaan wel op koers is, en ek en Heinrich dikwels op twee afsonderlike kontinente moet woon, het ons ’n verhouding wat op ’n hegte vriendskap en begrip vir mekaar gebou is. Sonder daardie moeilike tye sou dit dalk heelwat langer gevat het om by hierdie punt uit te kom.

Moeilike tye is skaaftye, en as jy volhard, sal jy altyd vorentoe die vrugte daarvan pluk.

Om skuldig te voel oor die foute in die verlede is tydmors. In my jare se onsekerheid het ek baie dinge verkeerd hanteer. My emosionele uitbarstings, die wroeging, die depressie, die vrae… dit was heeltemal onnodig. Dit het my in ’n nuwe groef laat verval waar ek skuldig gevoel het en vasgehaak het by wat ek nié moes doen nie.

Dankie vir die genade dat dit ook verander het.

’n Sagte kant. Dís wat ek intussen van die Here ontdek het, iets waarvan ek nie vroeër bewus was nie. Ek het gedink ek moes net heeltyd werk aan die gebiede waarop ek moes verander. Maar eintlik is daar ook baie genade.

By die lees van die boek Unmerited Favour het ek besef dat Jesus juis aarde toe gekom het om vir my te sterf sodat ek nie meer veroordeel hoef te voel nie. Oor niks nie. Nie die foute in my verlede of my tekortkominge nie. Dis verby. Elke dag is ’n nuwe begin.

Daar was al tye dat ek net nie die krag gehad het om te bid of die Bybel te lees nie, en dan het ek vreeslik skuldig gevoel.

Dis oukei, weet ek nou. Hy verstaan my omstandighede en ken my hart. Ek hoef nie myself heeltyd te verduidelik nie. Ook nie vir ’n lat uit die hemel te koes of krom onder skuldgevoel te staan nie. Dis alles verdraaide, mensgemaakte persepsies.

Die Here is sag en geduldig, nie iemand wat hoë standaarde stel waarby ek in elk geval nooit kan uitkom nie.

Hierdie besef het my denke handomkeer verander. Omdat die gevoel dat ek heeltyd geoordeel word, nou weg is, is alles makliker. Dis nou uit liefde, nie skuldgevoel nie, dat ek meer tyd aan hierdie verhouding wil bestee. En as dit nie gebeur nie, is dit ook nie meer die einde van my wêreld nie. Dan doen ek dit volgende keer.

Om genade te ontvang en uit te deel het nuwe betekenis gekry… iets wat ek vorentoe nodig sou hê.

Elke ervaring het my voorberei op die droom wat ek nou leef. Dis ’n droom wat nie altyd maklik is nie.

My deelname aan The Voice het my ’n goeie vastrapplek in die musiekbedryf gegee. Uiteindelik kan ek sing en elke dag aan my passie werk! Dis so ’n voorreg om my eerste album op die winkelrakke te sien: Eindelose Liefde – want dit het my tot hier gebring. ’n Eindelose, onmeetlike liefde wat alles soos ’n goue draad aanmekaar verbind.

Elke ding tot op hierdie punt het my gebrei en sterk gemaak vir wat ek nou beleef, al is my vertwyfeling nog nie heeltemal weg nie. Tog hanteer ek dit baie beter as in die verlede.

Met The Voice was dit erg om te ervaar hoe snedig party mense ná ’n program gereageer het, waar ek niks anders as net my bes gedoen het nie.

Ek het nie doelbewus mense se reaksie op sosiale media gaan volg nie, maar partykeer kon ek dit nie miskyk nie. ’n Kots-gesiggie emoji. Of aanmerkings soos: “Gaan eerder huis toe”, “Jy kan nie sing nie” of “Jy’s net ’n poppie wat hier is omdat jou man rugby speel.”

Eina.

Mense maak maklik aanmerkings as hulle jou nie ken nie en nie weet watter pad jy tot hier gestap het nie. Gelukkig het ek geleer om elke ding in konteks te sien. Om te vergewe en nie vas te haak by oppervlakkighede nie. En om nie my waarde in mense se opinies en goedkeuring te gaan soek nie.

As ek nooit hierdie lesse geleer het nie, sou ek vandag seker geknak gewees het. Selfs my vierde plek in The Voice sou nie veel kon troos nie.

Nou nog, as ek ’n verhoog opstap of voor ’n kamera staan, kom die gedagte by my op: “Die mense is net hier om jou te oordeel. Hulle is hier om kyk of jy goed genoeg is… Is jy?” Nee, hulle is hier om te wys hoe smart hulle is.

Sulke gedagtes bring my nie meer van stryk nie. Dit moedig my eerder aan om my skouers reguit te trek, my kop op te tel en te doen wat ek weet in my hart geplant is.

Ek is wie ek veronderstel is om te wees. Op die regte tyd, op die regte plek.

Vir my is dit genoeg.