Uiteindelik is ek “DAAI OU”

0
1167

JO BLACK het lank aan homself getwyfel. Nou is hy die man met die welige baard en tatoeëermerke wat die Afrikaanse musiekwêreld aan die gons het!

JO BLACK WIL GRAAG ’N KUNSTENAAR WEES WIE SE MUSIEK HOOP BRING EN ’N VERSKIL IN mense se lewens maak. Weg van die verhoog is hy net Jo Engelbrecht. ’n Pappa wat oneindig lief is vir sy twee dogtertjies, Dinieke (8) en Miané (5), en sy vrou, Debbie.

Ons is al nege jaar getroud. My gesin is my alles.
Mense vra gereeld waar die naam Jo Black vandaan kom. Na skool het ek deur die wêreld gereis. In ’n stadium was ek ’n uitsmyter by ’n nagklub in die Midde-Ooste.
My kollegas daar het gesukkel om my van uit te spreek. Een van hulle wou my op ’n dag aan iemand anders voorstel en skielik kon hy nie my van onthou nie. Hy sê toe net: “Meet… uh… Jo… Black.”

Die naam het gebly en dit is selfs op die naamplaatjie by die hotel aangebring!
Na ons troue het ek my eie besighede gehad. Om lang ure op die pad en by die werk deur te bring en nooit my gesin te sien nie, het my gesondheid begin benadeel. Op ’n dag het ek die deure van die besigheid doodeenvoudig net gesluit. Dit was nie die lewe wat ek vir myself of my gesin wou hê nie.

Tot vandag toe is ek oneindig dankbaar vir Debbie se reaksie op daardie skielike besluit. Sy het vir my gesê sy hoop ek is tevrede daarmee. Sy het my gekies en sy sal my volg – of ons in ’n motorhuis of in ’n mansion bly. Wat ’n steunpilaar!

OMDAT EK ’N ALLES-OF-NIKS OU IS, WOU EK AANVANKLIK NIE ’N ALBUM UITGEE NIE. MISKIEN omdat ek aan my eie vermoëns as kunstenaar getwyfel het. In my kop moet jy eers ’n sekere standaard as kunstenaar bereik voordat jy ’n album kan opneem – en ek was vir seker nog nie daar nie. Myns insiens, in elk geval.
Dit was egter ’n geweldige moeilike tyd in my lewe. Ek het nie net aan myself as kunstenaar getwyfel nie, maar ook aan my vermoë as pa vir my dogtertjies en man vir my vrou. Daar was geen vaste inkomste van my kant af nie. Saans sou ek iewers gaan optree, enige plek, net om geld in te bring. Musiek was egter net ’n stokperdjie.

’n Mens vra maar gereeld vrae oor jou geloof as jy vir deurbrake bid en dit voel of dit nooit gaan kom nie. Deurentyd het ek jongmense by skole probeer inspireer om positief te bly met ons Be That Guy-beweging.

Ek het hulle aangemoedig om nie toe te laat dat hulle omstandighede hulle definieer of minderwaardig laat voel nie. Maar eintlik was ek besig om met myself te praat!

Een aand het iemand van die Inhoudshuis een van my vertonings bygewoon. Dit was ook maar goed dat ek nie geweet het daar was iemand van die platemaatskappy in die gehoor nie. Dit sou my heeltemal uitgeboul het!
Ná die vertoning het hulle my gekontak. Dit was die deurbraak waarvoor ek so lank gewag en gebid het. My geduld en geloof is beloon!

’N DEURBRAAK GEBEUR NIE ALTYD OORNAG NIE, MAAR AS ʼn MENS TERUGKYK, BESEF jy dat jy toe al die tyd nooit alleen was nie. Dit is gewoonlik in die moeilike tye dat jou karakter en geloof die meeste getoets word.
Om positief te bly en jou gedagtes positief te hou is nie altyd maklik nie. Een oggend het ek wakker geword met ’n swaar hart. Dit het vir my gevoel soos die laagtepunt van my lewe.
Op 34-jarige ouderdom was ek werkloos en depressief en het soos ’n totale mislukking gevoel. My gesin was van donasies en ’n voedselskema afhanklik vir kruideniersware. Gedagtes dat my vrou en dogtertjies sonder my beter daaraan toe sou wees, het my heeltemal oorweldig.

My broer Willem het gebel en gevra of ek vir hom sou instaan by een van die Gear for Life-kampe. Jy kan raai wat die antwoord was: Kry liewer iemand anders, ek is op ’n baie slegte plek in my lewe. Watter inspirerende boodskap kon ek dan nou eintlik vir iemand gee?

Hy het ’n klomp ander mense gebel en niemand was beskikbaar nie. Hy het teruggebel en gevra dat ek dit asseblief moes doen. Ek kon nie anders nie as om maar in te stem.

My boodskap aan die jongmense was dat ons in ons grootste storms moet aanhou om met integriteit en karakter op te tree. Dit het soos ’n veldbrand versprei. Dit was die begin van die Be That Guy-bediening. Binne ’n jaar het ek 242 skole besoek. Ons gedagtes kan vir seker ons grootste vriend of vyand wees!

MY GELOOF SPEEL ’N GROOT ROL IN MY LEWE. AL HET EK NIE SPESIFIEKE LANG STILTETYE NIE, is my verhouding met my Pa ʼn werklikheid. Dit het my staande gehou in die donkerste ure en dit hou my dankbaar in die seisoen waarin ek nou is.

Die kern hiervan lê in die bekende drie woorde: geloof, hoop en liefde. Ons moet in elke seisoen die geloof behou dat niks vir Hom onmoontlik is nie. Ons moet die hoop hê dat selfs die donkerste tyd of situasie in iets positiefs omskep kan word. En ons moet te alle tye in liefde teenoor ons naaste probeer optree.

Dit waarin ek glo, het tog onbewustelik ’n invloed op die liedjies wat ek skryf. Wat my telkens onkant betrap, is as aanhangers nie sê dit is ’n “mooi” liedjie nie, maar eerder dat dit hulle lewens verander het. Meestal het ek nie gedink dat dit die effek sou hê die oomblik toe dit neergepen is nie. Dit maak my nederig en oneindig dankbaar.

Vir soveel jare het ek gehoop en gebid vir ’n deurbraak in my lewe. Met die vrystelling van die lied Skepe (wat al meer as ’n miljoen keer op YouTube gekyk is) was dit of die hemel se sluise uiteindelik vir my oopgegaan het.

Dit was amper asof ek die karaktertoets geslaag het. Asof die stryd gewen is. Is ek nou perfek? O, nee, glad nie! Maar ek weet dat wonderwerke kan gebeur en dat daar regtig niks is wat onmoontlik is met God aan jou kant nie.

EEN VAN MY PASSIES IS OM TE SIEN DAT MENSE GELUKKIG IS. DAT PA’S VIR HULLE kinders en mans vir hulle vroue lief is. Dit is ook ons Vader se hart.

Liefde is die belangrikste eienskap van enige gesonde gesin. Dít het ek reg deur my lewe beleef. Ek spot dikwels dat ek moet wag dat my dogtertjies eers slaap voor ek hulle kan opsoen.

Omdat ek hulle reeds reg deur die dag duisende soene gee, kan dit dalk ’n bietjie te veel vir hulle raak!

My ouers is geskei toe ek nog baie jonk was en ons vier kinders het nie altyd in dieselfde ouerhuis gewoon nie. Dit het egter nie verhoed dat ons almal steeds ’n baie goeie verhouding met mekaar het nie. My oupa het wel ’n groot invloed op my lewe uitgeoefen en ons het baie daar gaan kuier. Sy kinders en kleinkinders was die heel belangrikste deel van sy lewe.

Min mense weet dat ek my baard al na skool laat groei het. Toe Oupa kanker gekry het, het ons twee saam besluit dat hy syne ook moes laat groei. Dit sou hom daaraan herinner om elke dag teen die siekte te bly veg.

Ek het geleer dit maak nie saak hoeveel sukses of teëspoed ʼn mens beleef nie; solank jy probeer om die beste man moontlik vir jou vrou te wees en die beste pa vir jou kinders, is jy suksesvol. Dít is al wat eintlik blywend is. Dit was die voorbeeld wat my oupa gestel het en iets waarna ek daagliks streef.

VRYDAGOGGENDE VROEG HET ONS ’N MANNEBEDIENING BY ʼn WINKELSENTRUM IN MONTANA, Pretoria. Dis bekend as die Be that Guy Breakfast-braai. Die doel is om mans te bemoedig om goeie pa’s vir hulle kinders en mans vir hulle vrouens te wees.

Ons gesels saam oor wat dit beteken en beraam planne hoe ons die ouens kan wees wat lig bring waar ons rondbeweeg. Daar is soveel uitdagings wat ons minderwaardig kan laat voel in hierdie kompeterende wêreld. Ons praat dus oor hoe ons elkeen ’n baken van hoop vir ander kan word.

As mans het ons soms die simpel gewoonte om, as ons nie weet wat om vir mekaar te sê nie, te vra: “So, wat doen jy vir ’n lewe?” Die antwoord hierop is hoe ons iemand dan definieer – nog voordat ons hom leer ken het.

Tydens hierdie byeenkoms het ons dus twee reëls: Almal stel hulleself net volgens voorname aan mekaar voor, en niemand vra mekaar uit oor watter beroep hulle beoefen nie. Met dié twee reëls word die braai ’n plek waar mans net hulleself kan wees. ’n Plek waar elke ou kan voel dat hy goed genoeg is.

Wat jy dóén, moet jou nie definieer nie, maar eerder wie jy ís. Jou karakter is tog wat tel. Die terugvoer wat ons kry, is dat mans al hoe meer daarna begin streef om ’n beter weergawe van hulleself te word vir die mense naaste aan hulle. Dis lekker om te hoor dat dié tipe braai nou ook in ander streke aangebied word.

MY HUWELIK MET DEBBIE IS EEN VAN DIE GROOTSTE PRIORITEITE IN my lewe. Sy is my beste vriendin en steunpilaar. Ons ken mekaar al twaalf jaar en ontdek nog elke dag iets nuuts van mekaar. Dit is ’n heerlike avontuur om ’n lewe, en nou ook ’n loopbaan, saam te bou.

Omdat ek gereeld weg is van die huis, moes ons planne beraam om te verhoed dat ons uitmekaar groei. Nou en dan het ons ’n date night wanneer ons net weer inhaal en mekaar spesiaal laat voel. Aan die begin van die jaar het ek ook al vooruit sekere naweke en dae bespreek wanneer ons as ’n gesin saam kan weggaan. Só bou ons spesiale herinneringe.

My gesinnetjie is vir my die grootste geskenk wat ek kon kry.

In die donkerste tyd in my lewe het Debbie my onvoorwaardelik aanvaar, ondersteun en liefgehad. Sy het nooit opgehou om aan myte glo nie.

Nou, met my deurbraak in die musiekbedryf, is sy steeds my grootste ondersteuner. Ons sien dit nou as óns sangloopbaan omdat dit ook haar lewe raak.

Haar ondersteuning is vir my van onskatbare waarde.

Ons het my werk en persoonlike lewe geskei. By die huis is ek Jo Engelbrecht, my vrou se liefie en my kinders se pappa. Dit is waar hulle op my skoot sit en ons saam lag.

Sodra ek by die hek uitry na ʼn vertoning toe, word ek Jo Black, die musikant. Hulle verstaan dit en ondersteun dit.

ALMAL WIL GRAAG ʼn NALATENSKAP HÊ. Ek sal graag wil hê my nalatenskap moet wees om stereotipes nek om te draai.

Mense verwag nie dat iemand met tatoeëermerke en ’n lang baard ’n boodskap van hoop en liefde kan bring nie. Maar dit is wie ek is, omdat Hy binne my woon en werk.

As my kinders oor 20 jaar by ’n plek instap en mense vind uit wie hulle pa was, hoop ek hulle sal praat oor die liefde wat Jo Black uitgedeel het. Nie oor hoe mooi hy gesing het of hoe lank sy baard was nie. Eerder oor hoe lief hy sy vrou en kinders gehad het.

Die karakter waarmee ’n mens leef, is veel belangriker as die sukses wat jy iewers behaal het.

My dogters sal elkeen eendag ’n man moet kies met wie hulle gaan trou (dit sal ’n spesiale man moet wees!). My hoop is dat die hoeveelheid liefde van my kant af ’n positiewe rol in hulle keuse sal speel.

My wens vir Debbie is dat sy sal onthou dat elke besluit wat op hierdie pad geneem is, primêr gegaan het om haar en die kinders. My eie roem, voordeel of gewin was nooit voorop in my gedagtes nie.

Mag my aanhangers my altyd onthou as iemand wie se musiek met die hart gepraat het en lewens verander het – eerder as net ʼn kunstenaar met mooi liedjies.

As my lewe só sal wees dat dit ’n glimlag op my Vader se gesig plaas, sal dit my dolgelukkig maak.