Vals nuus

0
1386

Die gesaghebbende vaktydskrif Science het pas ‘n artikel gepubliseer oor navorsing wat gedoen is op nuus wat op Twitter van 2006 tot 2017 aangestuur is.

Daar is bevind dat vals nuus 70% meer geredelik as waarheid gedeel is. Dikwels is die rede vir die aanstuur van vals nuus juis ook die feit dat mense die inhoud van die nuus vrees. Ons moet ook nie robotte vir die vals nuus verkwalik nie, want die meeste vals nuus is deur mense aangestuur.

Ek kry self ook dikwels sulke snert wat mense vir my per WhatsApp aanstuur. Dikwels gebeur dit ook dat hierdie selfde vals boodskappe van verskillende groepe mense vir my aangestuur word, wat vir my bewys hoe ver daardie vals nuus alreeds versprei is. Die afgelope week het ek byvoorbeeld van verskeie mense ‘n WhatsApp boodskap gekry waarin daar suspisie gesaai word oor die nuwe Afrikaanse Bybelvertaling. Die inhoud van daardie boodskappe is 100% onwaar – tog versprei goedgelowige mense dit sonder om enigsins te wonder of dit reg is of nie.

Eksodus 20:16 sê baie duidelik “Jy mag nie vals getuienis teen ‘n ander gee nie”. Dit is in die eerste plek seker van toepassing op ‘n hofsituasie, maar dit geld net soveel ook vir ons in ons alledaagse lewe. Maak seker dat jy nie vals gerugte en boodskappe versprei nie. Staan bekend as iemand op wie se woord ‘n mens kan vertrou.