Van Atlantis na Egipte en haar drome

0
254
Keziah_Jooste.jpg

Jare gelede het Keziah Jooste se pad na sukses by die Mej. Suid-Afrika-kompetisie begin. Vandag leef sy haar droom.

Ek hoor hoe my naam uitgeroep word. “Mejuffrou Wes-Kaap, Keziah Jooste!” Maar ek reageer nie. Ek staan versteen. Ek was so seker die ander meisies het ’n beter kans gehad as ek. Hulle is fantasties, die een so mooi soos die ander. En dan is hulle nog nice ook.

’n Ander aand. My naam word weer uitgeroep. Iemand stoot my van agter af vorentoe. Dis nie ’n fout nie. Dit is van my wat daar gepraat word. Ek word sowaar gekroon as die tweede prinses in die Mej. Suid-Afrika-kompetisie!

My ma was toe reg. Sy het my aangemoedig om vir Mej. Wes-Kaap in te skryf. Dis waar alles begin het. Ek wou nie, ek was te veel van ’n rabbedoe om belang te stel in skoonheidskompetisies! Maar toe waag ek dit tog, eintlik om my ma te vrede te stel. Tot op die nippertjie wik en weeg ek nog en skryf net voor die sluitingsdatum in.

“Ek sien soveel meer in jou as waarvan jy self weet,” het my ma my verseker. Sy ken my, sy het geweet ek wou graag iets meer met my lewe doen as die loopbaan wat ek op daardie stadium gevolg het. Ek het nou wel my graad in omgewingswetenskap behaal en vir Eskom gewerk, maar my drome het baie verder gestrek.

Ons was nog altyd ’n baie hegte familie; my gesin se ondersteuning maak my sterk. Toe en nou nog. Daar is al na my en my sibbe verwys as die trots van Atlantis. Dis ook waaraan ek gedink het daardie dag toe ek met ’n knal in die kollig beland het. Dis dalk eerder my persoonlikheid wat die aandag van die beoordelaars getrek het as iets anders. My amper astrante houding. Ek wou tog wys wat ’n meisie van Atlantis kán doen! Dat, anders as wat deur stereotipering geglo word, daar iets goeds uit Atlantis kan kom. Dit was vir my ’n uitdaging om myself te bewys, maar die resultaat van my waagstuk het my verwagtings ver oortref.

Dit was ’n grootse dag vir my, ’n dag waarop my lewe sou verander. Maar ek is ook onseker oor wat op my wag. Ek bevind my in ’n wêreld wat ek nie ken nie. Gelukkig het die Skepper my geseën met ’n gladde mond en stel ek my lewe lank nog in drama belang. Ek het genoeg voor die spieël geoefen om my stem te laat hoor; daarom skrik ek nie toe ’n mikrofoon in my hand gedruk word nie.

Nou ja toe, besluit ek, laat ons sien hoe hierdie platskoenmeisie van Atlantis haar op hoë hakke gaan gedra. Ek weet mos ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. Dis my ma se geloof in my en haar geloof in die Een van Bo wat my dra. Tot vandag toe onderskraag sy my en laat my glo ek kan meer doen as wat ek dalk dink. ’n Ma bly ’n ma, dit maak nie saak hoe oud ’n kind raak nie.

Ons het baie tradisioneel grootgeword. “Ons is hier op aarde om God en ander te dien,” het my gelowige ma my van kleins af geleer. “Jy moet goed wees vir ander, maar jy moet ook in jouself glo. Weet dat God orals is, dat Hy altyd daar sal wees vir jou. Jy kan op Hom vertrou.” Daardie geloof dra ek nou aan my kinders oor. Ons Skepper hoef nie in ’n kerk vasgevang te wees nie, Hy is alomteenwoordig en elkeen van ons is hier op aarde om ’n rede. Daar is ’n plan met ons lewens en daardie plan sal tot uitvoer gebring word. Wees daarom genadig teenoor ander, maar ook teenoor jouself.

Dit is dié wete wat my die moed gegee het om verder te gaan op die pad wat voor my uitgestrek gelê het. Die deelname aan die Mej. Wes-Kaap en later die Mej. Suid-Afrika-kompetisie was vir my hoofsaaklik ’n pret-ervaring. Ek het dit nie té ernstig opgeneem nie en dit geniet, maar tog strek dit natuurlik verder as net glimlaggies uitdeel.

Ek dink nie ek het voorheen besef hoe belangrik skoonheidskompetisies werklik is of hoe hoog die verwagtings van my sou wees nie. Hoe baie het ek nie na die glans-en-glorie-geleentheid op televisie gekyk sonder die geringste idee dat ek eendag op daardie selfde verhoog sou staan nie. Niks kan jou werklik voorberei op wat vir jou wag nie. Al die funksies wat jy moet bywoon, die hande wat jy moet skud.

Ek ontmoet meer mense as ooit, beleef dinge waarvan ek nooit kon droom nie. En kry die geleentheid om my gedagtes met ander te deel, selfs al het ek geen formele opleiding in openbare optrede nie. Dis egter ook ’n groot verantwoordelikheid om ’n rolmodel vir ander te wees. Daar word eintlik van my verwag om taamlik prim and proper te wees, terwyl ek nie van nature so is nie. Ek is ’n spontane mens, lekker gemaklik met myself.

Soms wou dit amper vir my te veel raak. Die sosiale blootstelling, die gesig wat jy na buite moet wys, die eise wat aan jou gestel word. Met tye is dit vreesaanjaend en oorweldigend, maar dis ook wonderlik. Ek onthou daardie tyd van my lewe met groot dankbaarheid. En altyd is ek bewus daarvan dat God daar is om my te help om my boodskap uit te dra. Dit hou my staande waar ander moontlik sou val. Waag dit om te droom, is wat ek vir elke vrou wil sê. Drome kán waar word.

Dit ervaar ek weer toe ek genooi word om ’n oudisie te doen vir die televisiereeks, Lied van die Lappop. Glo my, daardie dag het ek van pure vreugde op en af gespring. “Here, dis wat ek wíl doen,” bid ek stil. “Dis my plan vir my lewe, maar ek weet nie of dit ook U plan vir my lewe is nie. Dis in U hande. As dit in U wil is, laat dit asseblief gebeur. Ek wil ten volle vertrou op die regte uitkoms.”

Toe kry ek ’n rol in die reeks. En daarna weer en weer. Soms klein rolletjies, soms groter. Genoeg vir my en my man om te besluit om alles wat ons het, te verkoop en Johannesburg toe te trek na waar ons hoop daar meer geleenthede vir my sou wees om my talente uit te leef. As ek dit nie nou doen nie, sal ek dit nooit doen nie, het ek besef. “Ek staan by jou,” belowe my man, wat in die ingenieursbedryf werksaam is, maar tog die siel van ’n kunstenaar verstaan.

Ek probeer vir my ’n agent kry, maar niemand stel regtig belang nie. “Jammer,” hoor ek keer op keer, “jy is nie bekend genoeg nie.” Ek gaan vir dosyne oudisies, waar ek een van baie ander is. Soms voel dit vir my daar is duisende ander meisies wat vir dieselfde rol opdaag, almal mooi, almal talentvol. Waar pas ek as groentjie nou juis in? Maar ek onthou wat ek geleer is en waaraan ek glo.

Natuurlik is daar terugslae, tye wat ek vir oudisies gaan wat op niks uitloop nie. Aanvanklik klink dit of dit goed gaan en is die reaksie oënskynlik heel positief. “Jy was fabulous,” word ek verseker. “Presies waarna ons op soek is. Ons sal jou bel.” Ek loop op die wolke daar uit, gaan huis toe en wag vir die oproep. Ek en manlief saam. Dag na dag, week na week. Totdat ek besef – hulle gaan nie bel nie, daardie oproep gaan nooit kom nie. Een van die ander meisies was ook fabulous, een van hulle het die rol gekry.

Ek sluk swaar aan die teleurstelling. Dis ’n taai bedryf dié en met sulke tye wil my moed breek. “Dalk het ons ’n fout gemaak om hiernatoe te kom,” sê ek vir my man. “As ek nie raakgesien gaan word nie, moet ek maar weer vir Eskom gaan werk.”

“Sal jy gelukkig wees om weer in die korporatiewe wêreld te werk?” wil hy weet.

Nee, besef ek, ek sal nie, ek wil nie. Ek is onseker en paniekbevange. Het ek dan die Here se beloftes vir my verkeerd verstaan? Daar kom selfs dae dat ek kwaad is vir die Here. Wat moet ek nog meer doen? Wat wil U van my hê?

Dan bid ek en die volgende dag voel ek beter.

Hier en daar doen ek oorklanking of stemwerk, maar dis nie genoeg nie. My man is my steunpilaar en ek weet ek sal net weer moet opstaan van moedverloor se vlakte af. En aangaan. Weer probeer. Toneelspel en filmwerk is hierdie platskoenmeisie van Atlantis se passie, ek kan dit nie sommer so laat gaan nie. Om deel te wees van die televisiereeks op kykNET, Vlug na Egipte, het dit weereens aan my bewys.

Terwyl ons in die Karoo daaraan skiet, praat die natuur opnuut met my. Die heuwels om my bekoor my. Dis droog, die aarde is dor, maar selfs in sy dorheid is die natuur vir my mooi. En weer besef ek – God is nie net in Johannesburg nie, Hy is hier ook, Hy is orals en sy heerlikheid en teenwoordigheid manifesteer op verskillende maniere. ’n Mens moet net dieper kyk. Geduldiger wees. En die boodskap van geloof, hoop en liefde aan die wêreld uitdra.