Van eerstes, laastes en alles tussenin

Ek besef toe, seker bietjie stadig vir my ouderdom, dat daar ’n laaste vir elke eerste is.

Die eerste pasgebore baba skreetjie en die laaste tipiese babatjie huil voor die peuter jare begin. Die eerste tandjie wat sny, die laaste tand wat wissel. Die eerste glimlag, (wat party as babakrampies beskou). Ek dink steeds dis ‘n glimlag. Die eerste skooldag, die laaste laerskooldag. Die eerste tiener-oogrol.

Jy huppel, loop, kruip, kreun en sluip deur die babatyd, kleutertyd en laerskooltyd. Dan skielik, met die aanbreek van hoërskool, kom die waarskuwing: Tyd gaan nou vining vlieg.

Maak nie saak hoeveel jy rem nie. Tyd staan regtig vir niemand stil nie. Al remme wat werk, is gelukkig die van jou kar. Want, jul is somtyds, eintlik meestal laat vir skool en moet dan so hard rem voor die skool, dat die stof uit die teer opwolk.

Jy wag nog vir die laaste tiener-oogrol.

En skielik tussendeur, nog ‘n tydverbonde werklikheidsbesef. In ‘n onbewaakte oomblik, met die son van die verkeerde kant af, bestudeer jy jouself in die kar se truspieëltjie. Dis onmiskenbaar. Jou vel begin, wel… kreukel. Nie net om jou oë nie, maar by jou mondhoeke ook en daardie jaarringe om jou nek! Die besluit word sonder teëstribbeling aanvaar. Moenie die vordering van jou ouderdom in jou kar se truspieëltjie bestudeer nie. Wat die oog nie sien nie, kan die tyd nie wegneem nie.

So sommer net eendag, breek die eerste dag van jou kind se laaste jaar op skool aan. Dit hét vinnig gebeur.

Byna tydloos gou daarna, bewonder jy haar moederlik trots en bietjie emosioneel, terwyl sy opgewonde in die rondte draai in haar matriekafskeid rok.

Omtrent agtien jaar van jul lewe saam onder een dak is amper verby. Sy is op pad grootmenswêreld toe.

Aan die een kant is dit ‘n skok. Maar, wanneer daar een of ander opregte tiener-ouer geskil uitbreek, dink jy: Dis tyd dat jou voëltjie vlieg. Julle is gereed daarvoor.

Net om in die volgende oomblik, jou nie ‘n lewe sonder haar onder jou dak te kan indink nie. Jy gaan alles mis. Haar lekker giggel, selfs die buie en interessante musiek smaak. Haar daar wees, haar gesiggie, haar bekende reuk, haar onderstebo kamer en die goedjies wat sy altyd bak en brou.

Die vraag is nie net: Wat gaan van haar word nie, maar wat gaan van jou word?

Sekerlik gaan daar meer tyd wees om jou eie dinge te doen. Maar, dit was lekker om haar rond te karwy, met haar te stry en saam met haar te lag. Daardie uit-die-bloute drukkies en die lang diep gesprekke oor sieldsdinge en kwessies van die lewe.

Dis nie die eerstes of die laastes wat altyd die heel kosbaarste is nie. Dis die tyd tussenin. Daardie middel tyd wat die pad vorentpe bepaal en die herinneringe bou.

Dit maak nie saak tussen watter eerste en laaste jy tans loop nie. Die tussenin tyd is die tyd wat die volgende eerste gaan inlei.