Van kokaïen tot konsertina!

0
171
Morne_Goosen.jpg

Morné Goosen se pad het deur ’n verslawingshel reguit na musiek geloop. Van dwelmslaaf na konsertinaspeler!

Hy is in sy eie wêreld. Die man wat so intens oor die konsertina in sy hande buig. Sy vingers gly oor die klawers soos die instrument op sy bevel rek en strek. Niemand in die gehoor roer nie. Nou en dan hoor jy hoe die konsertina lug insuig voor die volgende unieke progressie. Jy kan amper vir Elvis hoor saamsing. En ’n bietjie later vir Amy Winehouse. Dis die perfekte vermenging van uitheemsheid met eg Suid-Afrikaanse klanke. Dit voer jou weg na ’n wêreld wat jy nie ken nie, maar wat jy weet bestaan. Die man en sy instrument vertel ’n storie…

“Ek was nog altyd versot op musiek,” sê Morné. “Op skool was ek useless met sport en het altyd weggehol saal toe waar ek in die koor, revue of een of ander drama-ding kon wees…” Hy lag. So het hy ook sy kadetorkestrompet as verskoning gebruik om uit driloefeninge en liggaamsopvoeding te kom.

Niemand het regtig Morné se musiekdrome ernstig opgeneem nie. ’n Mens kan mos nie ’n bestaan daaruit maak nie, is hy vertel. En hy het dit geglo. “Ek het half toevallig op grafiese ontwerp afgekom. Dit was ook maar moeilik om te glo dat ek iets op ’n rekenaar vir iemand kon teken waarvoor hulle bereid was om my te betaal! Maar nou ja.” Na ’n paar los werkies, het hy ’n permanente aanstelling gekry en later sy eie onderneming begin. Dit het goed begin gaan. Maar iewers agter hierdie passievolle man se lewenslus, skuil die onthou van ’n baie donker tyd. ’n Tyd wat so amper-amper die wêreld beroof het van iets wat gehoor móét word.

“Ek het ’n intense gevoel van verwerping gehad. Almal voel seker maar op een of ander stadium verwerp, asof hulle nie inpas nie. Nie aanvaar word nie. Ek glo nie mense probeer mekaar noodwendig aspris seermaak nie, maar dit gebeur. Dan gaan lê daar ’n growwe rots in jou hart.

“Toe kry ek ontvlugting met my eerste trip. Skielik was die pyn weg. Dit het betreklik onskuldig begin, maar dinge ruk gou handuit.” Ek het al meer spertye begin mis. En toe droog die werk op.”

Baie van Morné se kliënte is van Johannesburg af deur ’n voormalige werkgewer verwys. Wat het van hulle geword? het hy gewonder. Hy het tog nie só erg drooggemaak nie. Dalk moet hy gaan kyk wat gaan aan. ’n Groot skok het in die Goudstad op hom gewag.

[pagebreak]

Die man saam met wie hy sake gedoen het, was ook verslaaf en het sy hele maatskappy as gevolg van dwelms verloor. “Hy het so agteruitgegaan… Om een of ander rede het ek gedink ek kon hom help, maar dit was ’n baie groot fout. Een verslaafde kan nie ’n ander een help nie. Ons het saam dwelms begin gebruik. Een oggend kom die balju toe by sy huis aan. Hulle het alles gevat. Ook by sy kantoor. Daar sit die twee van ons in ’n massiewe, dolleë huis in Hyde Park. Dit was verwoestend. ’n Paar jaar vantevore het ek hom gehelp om sy maatskappy op te bou. En daardie dag moes ek toekyk hoe alles waarvoor ons gewerk het, by die hek uitgedra word. Stuk vir stuk.”

“Dit was vir my ’n baie groot les. Ek het besef dat ek dieselfde paadjie stap. Ek moes ’n plan maak.” Hy het êrens vandaan die krag gekry om een aand te besluit: Dis die laaste. Hy het heeldag voorberei vir sy laaste trip: Sy kar gewas, sy klere reggekry en drie gram kokaïen gekoop. “Ek het gerock asof daar geen einde is nie…”

Terug in Stellenbosch het Morné aanvanklik weggekruip. Skaam oor die toestand waarin hy was, en nog onseker oor hoe hy sy eie lot gaan verander. Tot hy een Saterdag ’n goedkoop Chinese konsertina in ’n musiekwinkel raakgesien het. “Iets het net vir my gesê ek moet dit koop. Ek het iets nodig gehad om myself mee besig te hou.” So het die mooiste liefdesverhouding begin.

“Ek was dadelik verlief! Aanvanklik het ek op my eie probeer regkom voordat ek by ’n boeremusiekgilde aangesluit het. Daar het ek oom Fanie le Roux leer ken. Twee jaar lank het hy my elke Dinsdagaand alles oor konsertina-speel geleer wat hy kon. Ek het dae aaneen deur die strate saam met my hond gestap. Hy kon oral waar ons gestop het, lekker rondhol, en dan het ek gesit en speel. Elke dag ’n bietjie beter. Soos die geluk dit wou hê, kon ek kort voor lank ’n ordentlike Wheatstone konsertina koop. Ek was absoluut verslaaf aan my nuwe, regte instrument – alles het net soveel beter geklink!”

Musiek het opnuut deur sy are gebruis. Maar Morné wou nie net musiek maak nie, hy wou dit verstaan. Na al die jare wat hy gesmeek het om musieklesse te neem, het hy uiteindelik die kans gekry om dit self te doen. “Vandat ek kan onthou, probeer ek die ‘som’ van musiek uitwerk sodat ek dit beter kan bewonder. Ek was so bevoorreg om by ’n wonderlike dame musiekteorie te studeer. Sy het my die ‘wiskunde’ van musiek geleer. Elke nuwe kadens en arsenaal van toertjies wat jy met harmonie kan doen, het ek een vir een op my konsertina begin toepas. Ek het elke akkoord en sy funksie begin verstaan en so het my musiek ’n baie dieper betekenis begin kry. Ek kon myself uitdruk sonder om ’n aar in my kop te laat bars soos voorheen!”

[pagebreak]

Morné het ’n besondere gawe om hierdie tradisionele instrument meesterlik met alternatiewe klanke te vermeng. Danksy sy voorliefde vir musiek en baie oorsese reise, het hy ’n geheuebank vol klanke wat net wag om te gebeur. Behalwe vir sy rou natuurlike talent, het hy indrukwekkende teoretiese kennis. Dis die perfekte kombinasie. “Ek sê altyd jy moet eers die reëls baie goed ken voor jy dit kan breek!”

Waar Morné se aande vroeër in ’n waas van beswyming verbygegaan het, kan hy nou elke optrede kristalhelder onthou. Veral daardie keer toe sy orkes, die Stellenboys, aan ’n boeremusiekkompetisie deelgeneem het. “Anders as moderne boeremusiek wat klawerborde, dromme en elektriese kitare vereis, het ons iets bymekaargesit met die oudste musiekinstrumente wat bestaan. Met ’n kontrabas, viool, konsertina en kitaar het ons progressiewe nommers met bestaande juwele gespeel. Almal in die groep was gesoute musikante met deeglike klassieke en teoretiese kennis. Ek was daardie aand so oneindig trots. Toe ons begin speel, het almal doodstil geraak. Dit was iets besonders.”

Tog het Morné se oomblik van musiekglorie nog nie aangebreek nie. “Maar dit kom. Ek glo dit met my hele hart. Destyds het ek ’n hewige stoeiery met die Here gehad. Ek was kwaad vir Hom en het Hom eenkant toe geskuif. Nou, tien jaar later, weet ek egter Hy het my nie eenkant toe geskuif nie. Hy was elke tree van die rowwe pad wat ek gekies het om te stap, daar. En het geduldig gewag vir my om hulp te vra. Dit het net ’n bietjie lank gevat!”

Intussen het Morné weer as grafiese ontwerper begin werk en stap vir stap sy lewe herbou. Dit gaan goed met hom. Hy reis baie rond vir sy nuwe werk en sy geliefde konsertina gaan oral saam, gereed om elke nuwe melodie of idee wat by Morné opkom, lewe te gee. “Baie van wat ek speel, is eintlik boeremusiek, ek jazz dit net op met interessante akkoorde. Ek probeer iets met die konsertina doen wat mense nog nie gehoor het nie. Dalk is die unieke klank ook te danke aan die tyd wat ek daaraan wy om die beste moontlike liedjie uit die konsertina uit te kry. Ek probeer duisende ‘paadjies’ tot ek op die regte frasering afkom.” Hy glimlag. “Sal dit nie wonderlik wees as ek nét musiek vir mense kan maak nie? Ek wonder of mense die waarde van musiek besef… Dit kan jou lewe red.”

Dan begin sy vingers weer met die instrument op sy skoot toor. Sekuur laat hy elke noot net lank genoeg aanhou. Met geoefende hande gee hy die nodige vibrasie aan die konsertina se stem. Hy lig se kop effens en sê: “Ek wil die beste konsertinaspeler in die wêreld wees,” voor hy sy oë toemaak en verder speel.

Eintlik is hy al klaar, dink jy wanneer die melodie in golwe oor jou spoel. Die wêreld weet dit nog net nie.

Luister hoe speel Morné konsertina