Van negatief na positief

Daar is hordes mense wat in tamatiestraat is.

Dalk sit jy ook in tamatiestraat en die meeste van die kere is dit as gevolg van jou eie keuses. ’n Keuse wat jy gemaak het om anderkant die draad te gaan kuier. ’n Keuse wat jy gemaak het om saam met iemand in besigheid te gaan of vir ’n ander werk te skiet wat meer geld beloof. ’n Keuse wat jy gemaak het om woorde te uiter en nie te dink aan die impak daarvan nie.

Daar is honderde duisende voorbeelde van verkeerde keuses. Daar is selfs keuses wat ander gemaak het en nou sit jy met die gebakte pere. Nee, dit is nie God se straf nie. Nee, dit is nie God wat nou ’n streep getrek het en gesê het genoeg is genoeg nie. God werk nie so nie. Jesus sê so. Maar wat God wel doen, is dat Hy die situasie kan gebruik deur die negatief om te swaai in ’n positief.

’n Man en vrou hier in die Kaap sukkel om swanger te word. Groot was die vreugde toe sy hoor sy is swanger, maar op 6 maande verloor sy haar baba. Die seer, die swaar, die trane en die vrae (selfs verwyte). Die man maak so stukkie van sy hart oop: Ek het my trane uitgehuil en gebid, Waarom Here? Hoekom gee U ons iets en vat dit dan net so weg. Soos ek daar in die gange sit en bid het ek net vir God gevra vir ’n wonderwerk, ek het nog nooit so seer en gebreek in my lewe gevoel nie.

Drie dae later moes die vrou weer ingaan vir nog toetse. Hier vind hulle uit sy is ses weke swanger! Die dokters sê dis onmoontlik. Dit kan nie so gebeur nie. ’n Wonderwerk!

Die eerste baba het kanker gehad. Nee, dis nie straf vir iemand wat iets verkeerd gedoen het nie. God werk nie so nie. Dit is eenvoudig net nie in God se aard nie. Nee, God se aard is eerder om die negatief om te draai in ’n positief. Dit is God se styl!