“Van partytjiegees tot liefdevolle man”

525

Maphelo Magodla moes sonder ’n pa grootword en sy eie kind het amper dieselfde paadjie gestap as gevolg van sy wilde leefstyl. ’n Verhoudingskursus het hom gehelp om op die regte pad te kom.

“Voordat ek getroud is, was partytjies, drank, vloek en rook deel van my daaglikse lewe. Ten spyte van my pragtige verloofde en babaseun by die huis, het ek verkies om al my tyd saam met vriende en vroue te spandeer in klubs en kroeë in ons area.

“Alhoewel ek nie ontrou was nie, het die teenwoordigheid van ander jong vroue my aangespoor om nog later uit te bly en meer drank te koop.

“Die drinkery was soms so erg dat ek nie eers kon onthou hoe ek by die huis gekom het nie. Dit het my dikwels skuldig laat voel en die vrou in my lewe baie hartseer gemaak.

“Sy het aande omgehuil en wakkergelê; doodbekommerd oor my veiligheid en my roekelose en kinderagtige gedrag. Al waarvoor sy gebid het, was dat ek veilig by die huis moes kom, en dit was meestal ’n groot wonderwerk dat dit wel gebeur het.

“Ek het sonder ’n vaderfiguur grootgeword. Dit was meestal net ek en my ma, en sy was net naweke by die huis wanneer sy nie gewerk het nie. Die enigste blootstelling wat ek ooit aan ’n ordentlike man gehad het, was toe ek vir twee jaar by my ousus en haar man gebly het. Dit was egter vir so ’n kort tydjie dat ek nie ’n benul gehad het hoe om ’n pa of ’n goeie man te wees nie.

“As verloofde paartjie, het ons toe besluit om een van Alpha SA se huweliksprogramme by te woon. Omdat ons nie getroud was nie, het ek gevoel dat baie van die inhoud nie van toepassing is op ons nie, maar ek het wel besef dat my leefstyl verkeerd was.

“Die besef dat my kind ook sonder ’n pa kon grootword omdat ek so selfsugtig was, het my geskok. Dit was tyd om drastiese veranderinge te maak. Skielik was daar ’n ondersteuningsnetwerk van mense wat ons kon bystaan met raad en omgee, en dit het my geïnspireer om ’n beter mens te word. Ek het ook begin werk aan my verhouding met die Here.

“Ná ons troue het ek my huwelik gekies bo vriende en partytjies; ek het nog nooit weer ’n voet in my voorheen gunstelingkuierplekke gesit nie. My fokus is om ’n voltydse pa en ’n liefdevolle en ondersteunende man vir my vrou te wees.”

Alpha SA is ’n internasionale organisasie, plaaslik bestuur onder die leiding van Jeremy Jobling, wat mense se vrae oor geloof deur middel van spesifieke kursusse beantwoord. Dit gee ook vir almal die kans om hulle menings oor verskillende onderwerpe te lug en word aangebied in koffiewinkels, kerke en universiteite. Die huwelik, gebed, lofprysing en wonderwerke is van die sake op die Alpha-agenda.

Jy kan help om programme in arm gemeenskappe te borg. Vir meer inligting hieroor, kliek op www.alphasouthafrica.org of stuur ’n e-pos aan info@alphasa.co.za.

Stories van hoop word aangebied in samewerking met Mergon.