“Vandag is ek tevrede met myself”

0
1091
Rouchelle Liedemann

As jongmeisie was my grootste uitdaging ’n swak selfbeeld. My suster was altyd die “mooi een”.

Op skool het die seuns my gespot omdat ek so ontsettend maer was. Hulle het gesê dat hulle, weens my knopperige kniekoppe, eers my sweetpakbroek om die draai sien kom voordat hulle my sien. Vir die aantreklike ouens was ek nooit meer as net hulle “beste vriendin” nie. Dit was vir seker nie altyd lekker nie.

Ek het begin sing toe ek twaalf jaar oud was. Mense was verbaas oor die groot stem wat uit die tingerige meisie gekom het. Dit het aandag getrek en my laat goed voel oor myself, min wetende dat my sang vir my ’n ontvlugting van die realiteit van ’n minderwaardigheidsgevoel geword het.

My ma het ons van jongs af geleer het om nederig te wees. Die uiterste daarvan is om ’n “deurmat” te word wat altyd ander voor jouself stel uit vrees dat jy “te trots” sal lyk. Dit was ook nie ’n gesonde situasie nie.

’n Skrif uit Spreuke het my laat besef dat ons word waaroor ons dink. My gedagtes oor myself was uiters negatief. Met harde werk en ’n doelbewuste keuse het my gedagtes begin verander tot ’n punt waar dit meer positief oor myself was.

Die het vrugte afgewerp. ’n Tyd gelede het ek ’n ID-foto van my gekry wat in die 1990’s geneem is. As ’n mens dit vergelyk met een van vandag, lyk dit letterlik soos twee verskillende mense. Dit wys jou die krag van positiewe gedagtes oor jouself!

Om ’n televisieaanbieder te word, was nie my droom nie. Die dag toe die Groot Ontbyt-span my nader om die Kaapse korrespondent te wees wat insetsels vir die program lewer, het al my pogings om dit te probeer vryspring, misluk. Die gedagte daaraan het my oorweldig. Dit het gevoel asof ek nie mooi of goed genoeg daarvoor was nie.

Dit is talle jong meisies se droom om op televisie te verskyn. Met my swak selfbeeld het ek dit eenmaal vir my ma genoem, maar ook gou daarvan afgesien omdat dit so onbereikbaar gevoel het.

Op ’n dag by die huis waar ek besig was met voorbereiding vir die opnames vir die Groot Ontbyt, wou die twyfel in my vermoëns my weer oorweldig. ’n Stem binne my het my stilgemaak: “Rouchelle, hoekom glo jy nie in jouself as daar soveel ander mense is wat in jou glo nie? Wanneer gaan jy ophou om die leuen te glo dat jy nie goed genoeg is nie?” Op daardie oomblik was dit asof my lewe weer voor my verbyflits.

Dit meteens gevoel of alles in my lewe tot op hierdie punt my voorberei het vir die seisoen waarin ek tans is. Hy maak my meer as ’n oorwinnaar om te kan doen wat gedoen moet word. Hy lei my met wysheid en kreatiwiteit. Wanneer daar gevra word vir wysheid en guns voor ’n opname, is dit Hy wat dit voorsien en my daarby ook selfvertroue en krag gee wanneer dit die nodigste is.

Die manier hoe ek na myself kyk, het verander met die besef hoe lief God my het. Die besef dat ek niks daadwerkliks hoef te doen om meer waarde in Sy oë te kry nie en dat Hy Sy Seun vir my gestuur het – ten spyte van al my tekortkominge, insluitende my swak selfbeeld of minderwaardigheidskompleks – laat my baie waardevol voel.

By ’n konferensie oor aanbidding het een van die sprekers die vraag gevra: “Hoekom is ons as mense geskep?” Die antwoord wat ons gewoonlik gee, is: “Ons is geskep om ons God te aanbid.”

Die spreker se antwoord het my egter ’n heel ander perspektief gegee toe hy sê: “Ons is omdat Hy ons elkeen wil hê – nie vir wat ons vir Hom kan “doen” of “beteken” nie, maar net deurdat ons is wie Hy ons gemaak het.

Dit het my vrygemaak om my waarde in Hom te vind.

Rouchelle Liedemann is ’n gospelsangeres en TV-persoonlikheid van die Kaap.