Vandag voel ek vry

0
1349

Na ’n tydperk as agtergrondmusikant vir ander sangers, skitter Joshua na die Reën se eie loopbaan vandag, en het hy vrede in sy hart met wie hy nou is.

Ons kan mense maklik oordeel of veroordeel as ons hulle nie ken nie. Dan tree ons vanuit ’n heeltemal verkeerde persepsie teenoor hulle op. Hierdie persepsie kan natuurlik vinnig verander (meestal ten goede!) as jy eers tyd maak om daardie persoon beter te leer ken. As jy begin verstaan hoekom iemand op ’n sekere manier optree, het jy baie meer begrip vir hulle.

Ek het dit al dikwels in my eie lewe beleef. My vrou sê altyd grappenderwys dat ek net die positiewe in ander raaksien en juis daarom maklik teleurgestel word. Sy is reg, dit het al gebeur.

’n Tydjie gelede het ek ’n jong man wat op straat woon, in ons huis ingenooi. In ons woonkamer het ons saam gesit en huil oor sy ma wat dood is en die slegte omstandighede in sy lewe. Dit was hartroerend. Later het ek gesê hy moet net ’n bietjie wag terwyl ek geld en ’n ou selfoon in die kamer gaan haal.

Toe hy weg is, het ons besef dat hy ons iPad gesteel het. Dit skok ’n mens as so iets gebeur, maar dit moet jou nie afskrik om ander in die toekoms weer te help nie. So ’n teleurstelling raak ’n mens vir seker, maar omdat dit my hart is om iemand te help, probeer ek regtig om elke situasie op meriete te hanteer.

Die gevolgtrekking waartoe ek gekom het, is dat ’n mens oordeel en veroordeling slegs minder kan maak as jy begin besef wie jy self is en vrede maak daarmee. Op dié punt voel jy nie meer bedreig deur iemand wat op die oog af anders as jy is nie. Jy het dan baie meer genade vir en geduld met ander, en in dié proses ontdek jy soms iemand wat jou lewe ongelooflik verryk.

Voordat ek self voltyds in die musiekbedryf was, het ek maklik musikante geoordeel wat myns insiens “oppervlakkige liedjies” geskryf het. Dit het my afgesit om te dink dat hulle dit net vir die geld doen. Groot was my verbasing (en ek het baie sleg gevoel daaroor) toe ek hulle ontmoet en besef watter wonderlike mense hulle regtig is!

Hierdie ervaring het my laat dink. Ek is nou anders ingestel as ek gaan optree. Ek besef dat daar in die gehoor ook heel moontlik mense sit met ’n vooropgestelde idee oor my en my musiek. Onlangs het ’n man ná ’n vertoning na my toe gekom en gevra of ek ’n gelowige is. Volgens hom het ek nie genoeg oor geloof gepraat in die vertoning nie. Hy het gesê as dit nie verander nie, sal hy ongelukkig nie meer na my musiek kan luister nie.

Dieselfde aand het ’n vrou kom dankie sê omdat sy lanklaas die Here se teenwoordigheid só intens by ’n vertoning beleef het. Jy sien? Alles gaan oor persepsie. Ek moes leer om nie toe te laat dat hierdie tipe persepsies my raak nie.

My uitgangspunt is dat Jesus was wie Hy was. Dit was nie nodig om dit uit te basuin nie. Hy het dit geleef en almal het Sy karakter geken uit Sy optrede. My hart is vol liefde vir Hom en juis daarom probeer ek só leef dat ander dit in my lewe kan sien. Dit moet duidelik wees sonder dat ek ooit ’n woord hoef te sê.

Vandag kyk ek met minder oordeel in my hart na ander kunstenaars. Elkeen se reis en loopbaan is tog anders. Daar is plek vir almal, en elkeen moet doen wat hy of sy glo die regte ding is.

Minderwaardigheid is waarskynlik die kern van oordeel. Dit het ek mettertyd besef. As jy te min van jouself dink, is jy geneig om ander se foute raak te sien en uit te wys omdat jy onbewustelik jouself met hulle vergelyk. Wanneer jy iemand kritiseer, laat dit jou vir ’n rukkie beter voel oor jouself.

Toe ons in Israel was, het ek iets interessants gehoor. Die eerste gelowiges het weekliks bymekaargekom. In plaas daarvan dat een leier voor gestaan en preek het, het hulle beurte gemaak om hulle ervarings oor hulle geestelike verhouding te deel. Só het hulle by mekaar geleer en ’n dieper en ryker geloofservaring beleef. Juis in die verskille het hulle nuwe dimensies van die Vader se karakter leer ken.

Die ideaal is om ’n plek te bereik waar jy besef dat jy nie soos die persoon langs jou hoef te wees nie. Jy mag regtig net jouself wees! Vergelyk jouself ’n bietjie minder met ander en gun hulle om anders as jy te wees. Jy sal sien, dít maak jou vry.

As jongmens het ek vreeslik geklou aan wat my ouers my geleer het oor reg en verkeerd. As ’n mens onseker is van jouself, doen jy dit soveel te meer. Toe ek eers besef het dat ek nie in dieselfde raampie as ander hoef te pas nie, het alles verander.

Dit beteken nie dat jy die rug draai op wat bekend is nie. Dit beteken net dat jy self kan begin besluit oor hoe jy jou lewe wil leef. Namate jy dit doen, begin jy met groter vrymoedigheid en selfvertroue optree. Uit die aard van die saak het dit ook ’n positiewe effek op die mense om jou omdat hulle dieselfde begin doen.

Ek het vroeg-vroeg met boelies kennis gemaak. In die skool waarin ek was, was dit buite die norm vir ’n seun om ’n groter liefde vir kultuur en musiek as vir sport te hê. Omdat die kinders dit nie verstaan het nie, het hulle my vinnig veroordeel en selfs ’n “moffie” genoem.

Die uitdaging omtrent my seksualiteit het mettertyd vir my ’n probleem geword. In my hart het ek geweet dat ek nie was wat die etiket wat ander om my nek gehang het, verteenwoordig het nie. Deur die pyn en vernedering moes ek aanmekaar soek na wie ek regtig is.

’n Mens ervaar ’n klomp verskillende emosies as iemand jou aanhoudend iets noem wat jy weet jy nie is nie. As jy nie versigtig is nie, begin jy mettertyd wonder of daar nie dalk regtig fout met jou is nie.

Vandag kyk ek terug en besef opnuut die waarde van my ouers en familie. Deur al die stemme het hulle my ondersteun en aangemoedig om myself te vind en my talente en passies uit te leef. Die samelewing het intussen heelwat verander. In sommige skole sing die hele eerste rugbyspan in die koor en is daar oral bands. Toe ek daar was, was dit nie die geval nie.

Die pad wat ek gestap het, het my passie om jongmense te help om die verwarrende stemme van boelies te blokkeer, sterker gemaak. So ver ek gaan, moedig ek ouers aan om hulle kinders te ondersteun om hulle uniekheid uit te leef.

Dis belangrik dat ouers eerder positief as negatief oor hulle kinders moet praat. Ouers se ingesteldheid sal hulle kinders óf aanmoedig óf ontmoedig om te wees wie hulle bedoel is om te wees.

Traumatiese gebeure móét verwerk word, anders beïnvloed dit later jou hele menswees. Vir jare het ek byvoorbeeld gesukkel met allergieë. Een jaar met Huisgenoot Skouspel was dit so erg dat ek omtrent nie kon sing nie.

’n Paar weke voor Skouspel het iemand vir my ’n boek gegee met die titel No disease is incurable for God. Half geïrriteerd wou ek vra: “Dink jy nou regtig ek het nog nie gebid dat die allergieë weggeneem word nie?” Ek het die boek net neergesit.

By Sun City het nog iemand dieselfde boek vir my gegee. Dié keer het ek besluit om dadelik na die hoofstuk oor allergieë te blaai. Wat ek gelees het, het my soos ’n vuishou in die maag getref. Die skrywer het genoem dat die kern van allergieë in verwerping lê. Alhoewel ek gedink het dat ek die verwerping tydens die geboelie reeds hanteer het, het ek besef dat die saak nog nie afgehandel was nie.

Tussen die twee vertonings by Skouspel het ek en my vrou op die gras langs ’n dammetjie gesit. Ek het net skielik ondervind dat die Heilige Gees my voorberei daarop dat ek sou moes praat oor wat my die seerste gemaak het. Dit was al manier hoe ek vry kon raak.

Twee weke later het ek in ’n onderhoud vir ’n artikel vir die eerste keer my storie vertel. Dit het gevoel asof my hart uitgehaal word, maar dit het terselfdertyd genesing gebring. ’n Maand nadat die artikel verskyn het, was al my allergieë heeltemal weg! Dit was ’n wonderwerk.

Dit was ’n moeilike en seer pad, maar dit het my empatie vir mense met pyn gegee. As my storie iemand anders kan help om uit te breek en hulleself te vind, sal ek enige dag weer daardeur gaan.

My siening oor kerk het oor die afgelope tien jaar redelik baie verander. Waar ek op ’n tyd die Rhema Bybelskool bygewoon het om self voltyds ’n pastoor te word, glo ek vandag dat daar daagliks geleenthede is waar ons instrumente kan wees. Ons kan elke dag “kerk” hê met iemand sonder om voltyds in die bediening te staan.

Dit is nie altyd maklik om gehoorsaam te wees as jy ’n opdrag in jou hart ervaar nie. Tog is dit altyd die moeite werd. Onlangs was ek byvoorbeeld een van die leiers op ’n jeugkamp waar daar redelik baie jongmense was.

Van die begin af het een van die meisies net vir my uitgestaan. In my hart het ek gevoel dat sy deur geweldige mishandeling in die verlede gegaan het en dat sy daarvan genees móés word. Om dié boodskap aan haar oor te dra was vir my ’n groot stap van geloof omdat ek hoegenaamd niks van haar af geweet het nie. Ek het glad nie geweet hoe sy dit sou hanteer nie.

Die gevoel het egter al hoe sterker geword, tot waar ek dit nie meer kon hou nie. Nadat ek al my moed bymekaargeskraap het, het ek na haar toe gestap en die boodskap met haar gedeel. Trane het oor haar wange gestroom. Niemand behalwe Hy het geweet dat sy as jong meisie gemolesteer is nie. Daardie dag het sy haar lewe volkome vir Hom gegee.

Die seer en vernedering uit my eie verlede het my meer sensitief vir ander se pyn gemaak. Die groot uitdaging is om aan te hou om met geloof en gehoorsaamheid op te tree, waar ek ook al is. Só is daar elke dag ’n geleentheid om “voltyds in die bediening” te wees, selfs al is ek nie ’n kerkleier nie.

Ná universiteit het ek lank vir gevestigde musikante in die bedryf as agtergrondmusikant musiek gemaak. Dit was ’n wonderlike leerskool. Ek het baie gereis en die land gesien, en konneksies opgebou by al die verskillende teaters en venues. Dit het ook my passie en roeping in die lewe opnuut bevestig.

In dié tyd het ek met nuwe oë na my ouers gekyk, wat deur die loop van die jare bankvas agter my gestaan het. Hulle het my nog altyd aangemoedig om my drome uit te leef. My ma het my al in die laerskool vir musieklesse ingeskryf omdat sy geweet het dat dit my passie is.

Hulle twee het ook reg deur my lewe soveel as moontlik van my vertonings bygewoon. Ná elke vertoning het hulle vir my gesê hoe goed dit was en hoe trots hulle op my is. Dis lekker om sulke komplimente by jou ouers te kry.

Dit was ook my pa wat op ’n dag, ná een van my vertonings as agtergrondmusikant, gesê het hy dink dit is tyd dat ek my eie loopbaan begin volg. In daardie stadium het ek gevoel dat ek nog vir vyf jaar so sou kon aangaan, maar die passie om my eie ding te doen het al hoe sterker geword. Danél het my ook onvoorwaardelik daarin ondersteun, waarvoor ek oneindig dankbaar is.

Elke keer as ek op die verhoog klim, kyk ek na die gehoor en besef ek hoeveel ek het om voor dankbaar te wees. Dis wonderlik om te weet Wie my voetstappe rig, my voorberei vir wat kom en my in elke seisoen beskerm.

Vandag noem ons my loopbaan spottenderwys ’n “family affair”. My vrou help met administrasie, my jongste broer is my dromspeler, my ouer broer my bestuurder en my ouers my grootste ondersteuners!

Ouerskap het my met nuwe oë na die lewe laat kyk. ’n Mens ervaar emosies wat jy nie geweet het moontlik is nie. Liefde is natuurlik die oorweldigende gevoel. As ek na my driejarige dogtertjie, Anán, kyk, is die een ding wat ek wil hê sy moet weet, hoe lief ek as haar pappa haar het. In my hart is ek oortuig dat ons Pa ook so oor ons elkeen moet voel.

Voor Anán se geboorte was ek en my vrou in die Wildtuin. Ons wou nie vooraf weet watter geslag ons ongebore baba is nie. Tog was ek nuuskierig oor die naam van ons kind omdat ek glo dat ons Vader reeds vooraf die identiteit van elke ongebore baba ken.

Terwyl ons op ’n kombers in die Skukuza-kamp na die wolke lê en kyk het, het die naam Anán net by my opgekom. Dit beteken “uit die wolke”. In daardie oomblik het ek weereens besef dat sy ’n geskenk uit die hemel is en dat Hy ons almal reeds voor ons geboorte ken. Ons lewenspad is lankal vooruit beplan.

Omdat ek kleintyd geboelie is, was ek lank onbewustelik ’n people pleaser. Wat mense van my gedink het, was belangrik en ek het presies geweet hoe om op te tree sodat hulle van my sou hou. Wat my egter vrygemaak het, was die besef dat ek maar kan wees wie ek is. Dit het my tonne meer selfvertroue en vrymoedigheid gegee. Dit spoel ook oor na die mense om my om dieselfde te doen.

As ouers wil ons Anán se egtheid by haar vestig en behou sodat sy van jongs af geliefd sal voel. Sy moet weet sy is goed genoeg sodat sy met vrymoedigheid sal wees net wie sy is.

Wanneer mense ’n onderskeid tref tussen musiek en gospelmusiek, voel dit soms of hulle die Skepper in ’n boks wil plaas. Alles is tog deur Hom gemaak, en dit is juis hierdie wonderlike skepping wat musikante inspireer om musiek te skryf.

My opinie is dat daar in elke stuk musiek iets is wat jou kan inspireer, nie net in gospelmusiek nie. Selfs mense wat nie gelowig is nie, besing die Een wat alles gemaak het wanneer hulle skryf oor iets moois rondom hulle.

Ek het al geweldig positiewe terugvoer gekry van mense wat getuig dat een van my liedjies vir hulle hoop gegee het in ’n tyd toe hulle hoop verloor het. Dit is vir my baie lekker om so iets te hoor. Net so was daar natuurlik al mense wat vir my gevra het of ek dalk ’n New Age-aanhanger is omdat ek so baie oor die natuur skryf.

My uitgangspunt is: Ek glo in die Drie-eenheid. Wanneer ek dus musiek skryf, skryf ek oor dinge in die skepping wat my inspireer. Ek hoef dit nie pertinent te sê nie, my geloof en waardes moet vanself duidelik word uit my musiek.

As musikant is my doelwit om ’n plek te bereik waar positiewe of negatiewe kommentaar en terugvoer my nie meer so baie beïnvloed nie. Dit beteken dat ek sal aanhou om my bes te doen om liedjies te skryf wat die wêreld ’n beter plek kan maak.

Terselfdertyd wil ek ook my passie vir musiek uitleef. Só word elke optrede ’n groot voorreg en ook ’n fees, selfs ’n bedieningsgeleentheid. Dan gaan dit oor een van die grootste geskenke wat in die skepping ingebou is en dit is musiek – iets waaroor ek totaal en al passievol is!