Vanessa du Toit: ’n Kous in my mond, hande en voete vasgebind …

0
16
image2.png

Vanessa du Toit het televisie gekyk, gebad en toe gaan slaap. Dit was ’n aand soos baie ander. Maar buite haar kamervenster het die boosheid geskuil. In die loop van die eindelose lang nag wat voor haar gelê het, sou sy hulpeloos na haar Beskermer roep.

Ek skrik wakker, totaal gedisoriënteerd. Iets … iemand … iets is verkeerd. Ek knip my oë vervaard, staar verstom na die verblindende lig wat in my gesig skyn. Wat op aarde …?

Ek steier orent, stap in die rigting van die skerp lig na die venster toe om na buite te kyk. Dan, skielik, doem hy voor my op – groot, lewensgroot, skrikwekkend groot.

Dit neem ’n vreesaanjaende oomblik om in te neem wat ek sien, om te besef dat die donker figuur voor my nie net ’n flitslig in die hand het nie, maar ook ’n vuurwapen. ’n Pistool? ’n Rewolwer? Ek weet nie. Ek weet net dis ’n skietding, ’n doodmaakding wat sekuur op my gerig is.

“Open the door!” bulder hy.

Wat?

“I’m going to shoot you. I’m going to kill you.”

Wie?

“Wat … soek jy?” My stem is skor, onseker. Bewend. Engels, dink ek. Hy verstaan my heel moontlik nie. Ek moet Engels praat.

Maar dan hoor ek dit – iemand is by my deur, iemand probeer inkom. Ek spring om, wil die deur toedruk. Maar ek hoor hoe daar teen die deur geskop word, hoe die deur meegee. Daar is drie van hulle, besef ek toe hulle ingestorm kom. Onder die balaklawas sien ek die donker oë – die angstigheid daarin, die aggressie. My seun! Dink ek vreesbevange. Ag hemel tog, wat van Francois? Is hy veilig? Weet hy wat hier aangaan? Die kind is sewentien jaar oud, aan die begin van sy lewe. Hy’s in sy kamer, weet ek. Sit met sy iPod se oorfone oor sy ore. Luister natuurlik weer na die musiek waarvoor hy so lief is. Hoe hy geleer kry met die musiek so in sy ore, in sy kop, weet ek nie. Hy skryf eksamen … ek kan skielik nie onthou watter vak hy skryf nie. Dis asof die werklikheid nie tot my wíl deurdring nie. Jy hoor van hierdie dinge, jy lees daarvan, om die braaivleisvure word daaroor gepraat. “Dis die regering se skuld, die polisie wat nie hulle werk doen nie. Bla, bla, bla.” Die hartseer storie van ons land. Indringers wat by jou huis inkom, wat roof en verkrag. Wat moor. Maar dit bly op ’n afstand, iewers daar buite, anderkant jou erf, weg van jou huis af, jou veilige hawe. Dit gebeur met ander mense, ander arme ongelukkige mense. Mense wie se huise miskien nie so goed beveilig is nie. Nie óns nie – ons het tog voorsorg getref met elke moontlik veiligheidsmaatreël wat daar is. Sekuriteitsmaatskappy, paniekknoppies, alarm, diefwering voor al die vensters. Oral… behalwe voor die klein venstertjie in die kombuis. Die kombuisvenster! Die Achilleshiel van die huis. Hoe is dit moontlik? Hoe sou hulle geweet het? Dis asof wat voor my gebeur, in stadige aksie plaasvind. Ek sien hoe my selfoon opgeraap word. My skakel met die buitewêreld. Dan hoor ek die voetstappe by my kamerdeur, sien ek hoe my kind ingelei word, sy hande agter sy rug vasgemaak. Alles in my wil uitroep, my moederinstink wil keer dat hy seerkry, wil hom beskerm, maar die magteloosheid oorspoel my. Ek word nader geruk sodat my hande ook agter my rug vasgemaak kan word.Dis ongemaklik – en seer.

[pagebreak]

“Where’s the safe?” vra een van die vier donker figure. “We want guns. Guns and money.”

Die kluis is in die gang, probeer ek beduie.

Die lange kom nader, kry my aan my hare beet en sleep my in die gang af. My verstand staan stil. Dit was tog ’n aand soos soveel ander. Ek het Boer soek ’n vrou gekyk, gewonder wie die gelukkige meisie gaan wees om uiteindelik die boer se hart te wen. Doodgewone, alledaagse dinge. Toe het ek gaan bad, my nagrok aangetrek.

Ek is pynlik bewus van die skamele nagrokkie wat ek aan het, van hoe min daarvan my vrouefiguur bedek word. Hier waar daar vier vreemde mans, tot die tande toe gewapen, in my slaapkamer is. Hier langs my koningsgrootte bed. Flarde van gesprekke oor die modus operandi wat met voorvalle soos hierdie gepaardgaan, kom spook in my kop. Die predikant en sy vrou! onthou ek skielik. Sommer nou onlangs nog. Sommer hier naby. Die man is in die kop geskiet, die vrou verkrag. My meisiekind se beeld flits voor my geestesoog verby. My pragtige blonde dogter met haar potblou oë, sy met haar lang, slanke bene, netbalspeler van formaat. My kosbare kind wat ons soos ’n kleinood oppas, wat nie eens toegelaat word om uit te slaap nie. Behalwe vanaand.

“Ma, ons gaan te laat by die huis kom, ek slaap sommer by ’n vriendin, is dit oukei so?” wou sy vroeër vanaand weet. En dié keer was dit oukei. Ten minste is sy nie hier nie. Dankie vir daardie bestiering, dink ek toe ek voor die kluis neergegooi word.

“Open!” word ek beveel, die stem hard. Onverbiddelik. Genadeloos.

Ek ken nie die kombinasie van die kluis nie, probeer ek verduidelik. Dis die waarheid. Selfs al sou my lewe daarvan afhang, kan ek nie die kluis vir hulle oopmaak nie. En ek wil, ek sal enigiets doen, enigiets gee, enigiets, net om uit hierdie skrikwekkende nagmerrie te ontsnap, om weer veilig te wees. Ek steier geskok toe ek geskop word.

“Please,” smeek ek, “don’t hurt me.” Ek probeer kalm bly, probeer my aanvallers oortuig dat ek hulle wíl help, vir hulle wil gee wat hulle nodig het.

“I need R20 000,” lig die middelste man my in. Hy wil Maputo toe gaan – sy vrou is siek. Hy laat dit amper edel klink, dink ek. Die rede waarom ek nou hier op my knieë op die gangvloer sit terwyl ek my bes doen om my nagrokkie op sy plek te hou. Asseblief, vra ek geluidloos. Laat niemand se oë tog daarheen dwaal nie, niemand se gedagtes in dáárdie rigting beweeg nie.

[pagebreak]

In my gedagtes roep ek aanhoudend na die Here, pleit ek sy beskerming op ons neer.

Nee, besluit ek, ek sal nié verkrag word nie. Ek sal nie.

Wonderbaarlik genoeg kry hulle een van die kluise in die gang oop en word dit gestroop. Sal dit genoeg wees om hulle tevrede te stel? wonder ek. Maar eintlik weet ek goed genoeg wat die antwoord daarop gaan wees.

Ek word met die geweerkolf teen die kop geklap. “I’m going to shoot you now,” hoor ek.

Toe begin hy tel: “One, two, three … ” Dan is dit nou dit, besef ek, en daar is niks wat ek daaraan kan verander nie. Maar hy skiet nie – ek word weer slaapkamer toe gedwing, sien my seun op die bed lê. Hulpeloos. Ook ek word langs hom op die bed neergegooi.

Daar is woede in die lug, aggressie in die stemme wat op my begin skel. Op my én op my seun. Dis vuil woorde, woorde wat van haat getuig, woorde wat seermaak, woorde wat my as vrou en as mens verneder, aftakel, van my menswaardigheid beroof. Woorde wat soos swaarde in my siel steek.

Dis presies soos in die flieks, dink ek toe die kouse in ons monde geprop word. Dis aaklig! Ek kan nie asem kry nie, ek wil opgooi, maar ek weet ek mag nie, ek kan nie. Ons voete word aan mekaar vasgebind, ’n kombers oor ons gegooi.

 “Sleep!” word ons beveel. “Don’t look at us.” Ek haal skaars asem, sien hoe hulle my juweelkissie leegmaak, met gulsige hande daarna gryp. My pragtige juwele. Erfstukke van my ouma wat ek vir my dogter met haar mondigwording wou gee. Sodat sy dit eendag weer vir háár dogter kon gee. Waardevolle erfstukke wat ook swaar dra aan sentimentele waarde. Erfstukke wat vir hierdie mans bloot geldwaarde het, wat heel moontlik in ’n pandjieswinkel gaan beland waar dit vir ’n appel en ’n ui opgeraap sal word. Sonder dat daar waardering vir die familiegeskiedenis daarvan is.

[pagebreak]

Daar is baie om weg te dra. Televisiestelle, DVD-spelers, skootrekenaars, selfone. Maar dis nie genoeg nie. Waar is die dubbelkajuitbakkie? wil hulle weet. Die witte? Goeie genade! Hoe wéét hulle so baie van ons af? Selfs van die dubbelkajuitbakkie? Word ons huis dan al lankal dopgehou sonder dat ek daarvan weet? Ons bewegings gevolg? Wat hét hulle al alles raakgesien? Maar ek kan nie die bakkie vir hulle gee nie. “My husband … ” Ek aarsel. My eks bly tydelik by ons. Hy is nie hier nie. Hy’s weg met die bakkie. By ’n mannekamp. Verstaan hulle my? Glo hulle my? Wat gaan hulle nou doen? Gaan hulle my laat wegkom? My lewe spaar? Hulle hoor die nuus aan, gesels onder mekaar, glo my blykbaar. Maar is nie van plan om hier weg te gaan sonder die bakkie nie. Hulle het die bakkie nodig om wat hulle gebuit het, te vervoer – die viertrekvoertuig is deel van die buit. Hulle sal vir hom wag, besluit die vier onder mekaar. Net hier in my slaapkamer waar ek en my seun hulpeloos langs mekaar op die bed lê. Ek in my nighty. Ek hoor hulle onder mekaar praat, hoor dat daar na Mamelodi verwys word. Daar word na my toe gedraai. Hoe ry ’n mens van hier af Mamelodi toe? wil hulle weet. Kan ek vir hulle verduidelik? Dis bisar! dink ek. Hulle wil hê ek moet vir hulle verduidelik hoe om met mý bakkie hier weg te ry Mamelodi toe. Maar ek doen dit – na die beste van my vermoë. Jy draai links aan die einde van die pad en dan weer regs. Ek verduidelik vir hulle presies hoe om te ry om van my af weg te kom. Dan sien een van hulle die ketting om my nek raak, duik soos ’n roofvoël daarop neer, en ruk dit met geweld af. Vat dit vir hom. Wat eers myne was, ’n goue ketting wat warm teen my hals gerus het, is nou syne. Daar is ’n gewerskaf dieper in die huis. Ons word beroof van alles wat deur die vier indringers begeer word. Ek bid. Tussen alles deur bid ek. Woordeloos.

En ’n vreemde kalmte kom oor my, amper ’n rustigheid ten spyte van die verskriklike posisie waarin ek verkeer. Ten spyte van die donker vreemdelinge wat my huis binnegedring het. Ek ruik iets. Dis rook. Ek skrik, adem die effense soet reuk in. Dis nie sigarette nie, weet ek. Dalk sigare? Dagga? Ek hoor die leier van die groep ook by die slaapkamer inkom. Hulle is al vier nou hier, al vier saam met ons in die slaapkamer. Die minute tik verby, die ure. Ons wag. Ek raak bewus van die lewelose gevoel in my hande. So ongemerk moontlik probeer ek my hande beweeg sodat die bloedsomloop kan terugkeer. Met my tong probeer ek die kous uit my mond wikkel. Dit raak stil om ons. Dan hoor ek dit. ’n Bekende geluid. Ek spits my ore. Dis ’n gesnork. Iemand snork! Nee! dink ek verward. Dit kán tog seker nie wees nie. Maar dit is. Een van die vier leun teen my dogter se rugsak. Tot my totale verstomming sien ek hoe hy langs my en my seun met sy lyf half op die bed neersyg.

“Hulle slaap,” fluister ek verby die kous in my mond vir Francois. Dit klink onwerklik. Hoe is dit moontlik dat vier rowers in die middel van hulle rooftog in my slaapkamer aan die slaap kan raak? Maar dan onthou ek my gebed. En besef ek dat ons ’n wonderlike Meester dien. Hy wat duisende jare gelede die leeus se bekke kon toemaak sodat hulle sy kind nie sou skaad nie, kan dit vandag nog doen. Ek ruk orent toe ek my eks ses uur later by die voordeur hoor. Maar nie net ék nie, die vier ongenooide gaste ook. Skielik is almal wakker, almal gereed vir aksie. Ook my eks word op die vloer neergegooi, verneder. Gelukkig ken hý die kode van die kluis en kan dit vir hulle oopmaak sodat daar verder geplunder kan word. Nou is hulle blykbaar tevrede. Met die bakkie swaar gelaai en met die sleutel in die hand, los hulle ons. Toe hulle wegry, hoor ons die skote klap. Skote van oorwinning!

Maar ook ons het oorwin – en dit strek verder as my seun wat hom losgewoel kry en ’n mes in die kombuis gaan haal om ons los te sny. Verder as die verligting om uiteindelik my hande te vryf en weer gevoel in hulle te kry. Ja, ek het met ’n berader gepraat. Maar ek praat ook met my Meester, my Beskermer, my Hulp. Bowenal is ek dankbaar dat ek vandag hier is om ’n verhaal van genade te vertel.

God het my beskerm en die leeus se bekke kom sluit.

Artikel Kristel Loots