“Vasgevang in Knysna se doodsvlamme”

706

Nadat Carin de Jager al haar gastehuiswerkers na veiligheid gestuur het, was sy vasgevang tussen vlamme. Vrees het haar in die gesig gestaar. Maar dié voorval het lewensbetekenis kom toevoeg. Vandag is daar ewigheidswaarde in elkeen wat haar pad kruis, vanaf die winkel tot by die huis.

Almal is al die vraag gevra: Wat sal jy eerste gryp as jou huis aan die brand is? Daar word nooit te diep aan ’n antwoord gedink nie. Dié oggend het soos ’n normale een begin.

Die voëls, wat elke oggend vroeg op is, was stil. Daar was reeds talle seeperdjies op die lagune. Die wind op ons stoepie was stormsterk, sodat jy omtrent aan die pilare moes vasklou. Daardie warm, stink wind voel nou nog tasbaar. Dit was verdag.

En enkele ure daarna vra jy jouself die angsvraag.

Volgens Sus se oproep moet ek my beursie, pille en ’n bietjie klere vat. “Sus, kom net uit, belowe my.” Ek het kantoor toe gehardloop om my hond, Ruffy, te gaan haal. Ook die kombi se sleutels en ons hardeskyf met data op.

Hoe kan ’n byna normale oggend so vinnig ontaard in die ding wat jy die heel meeste vrees? Dit is hier: omring deur vlamme.

Vroeër daardie oggend het ons gehoor dit brand in Plettenbergbaai. Jy begin ’n normale dag beplan.

Dan kom die skielike nuus: Dit brand by die wit brug. Die vlamme kom vinnig nader.

Die gastehuis se werkers is intussen almal huis toe gestuur.

Ek het besluit om my vriendin en haar gestremde seun oor te nooi vir ’n veiliger skuiling.

Die krag het afgegaan, maar die kragopwekker was tot hulp. Die bome rondom ons Villa moes natgemaak word. Tog twyfel jy, wat is die kans dat die vlamme so hoog op sal kom?

Die hitte wat saam met die wind gekom het, was so warm. Die natgemaakte dele was binne sekondes so droog soos chips. Om asem te haal het begin moeilik raak.

By die gastehuis was daar net vlamme om die eerste suite. Hier’s moeilikheid!

Mamma het gebel en gesê: “Carintjie, jy moet veilig wees, ek’s baie lief vir jou.” Hoe sê jy vir jou ma totsiens? Miskien is dit die laaste keer dat ons gaan gesels…

Die hitte was só erg, ek kon ruik hoe my hare skroei. Orals was daar net vlamme. Half aan die verstik sien ek hoe die vlamme net meer word. Vinnig word die voordeur toegemaak, ewe asof dit die angstigheid sou uitsluit. Heel verslae gaan sit ek op die trap. Ruffy moes beskerm word.

Die Villa was omring deur vlamme. Dit het oor ons glasdak beweeg. Die rook het dinge verdonker. Geluide van goeters wat val en breek, was hoorbaar.

Jy begin planne uitdink om te ontsnap, maar dit lyk onmoontlik.

Almal se stemme voel te ver vir onthou. Hulle gesigte moet vasbly in my gedagtes. Hulle het nog netnou gebel. Ammere en Zabastian, gaan julle oukei wees? Mamma wens sy kon nog ’n bietjie tyd saam met julle spandeer en net vir julle sê ek’s lief vir julle en alles gaan oukei wees.

Jy is alleen en niemand van buite kan jou bereik nie.

Ruffy word styf vasgehou. Daar word gebid. As dit Sy wil is, is dit reg. Dit was duidelik, vandag kom Carin se paadjie tot ’n einde.

My swaer, Dirk, het aanhoudend gebel. Hy het heeltyd gesê: “Dis hout op hout, hou aan beweeg.”

Dit was pikdonker, hy verstaan nie. Jy kan nie eens jou hande voor jou oë sien nie.

“Ek’s reg om te gaan, maar, Here, as dit nie tyd is nie, help my om hier uit te kom.” Dit was Sy besluit.

Toe kom daar ’n kalmte, ’n troos. Dit was doodstil. Die hitte, die rookreuk en die vrees was weg. Dit was soos ’n veilige bubble.

Die Here weet, Dirk sou nooit opgee tot ek veilig was nie. Asemhaal was ’n gesukkel. Garage toe was die volgende bestemming. Daar word gekruip met Ruffy en die bos sleutels. Daar word gebid vir die regte knoppie. En wéér gebid voor die garage oopgegaan het.

Met die uitrolslag het Ruffy weggeglip. Ek het omgekyk, en hy was weg.

Bome en struike het agterlangs aan die brand geslaan. Jy moet nou hardloop vir jou lewe.

By die nuwe gebou het drie van die bouers se manne gesit. Met trane word daar beduie dat Ruffy steeds agter die garage is. Die volgende oomblik spring die een jong man op en hardloop uit. ’n Paar sekondes later bring hy Ruffy daar aan.

Tot vandag kan ek nie onthou wie almal gebel het nie. “Wees net veilig, ons kom jou haal.” Daar het ons gesit, ongemaklik in ’n klein kamertjie, met hoop.

Angstig in stilte, is daar gewag. Hierdie is al wat dalk oor is. Die klere aan ons lyf. Jy wonder wat van jou gaan word. Jy verlang na jou geliefdes.

Later kom die nuus dat ek vir byna vyf ure vasgevang was in die angstigheid van dood.

Blou polisieligte het tot ons redding gekom. Dit voel soos die einde van die wêreld. Langs die pad staan halfgebrande motors.

Wat het vandag hier met ons gebeur?

Daar is voor die kruispad gestaan. Hy het my beskerm. Hoekom?

Daar is hulp van orals aangebied, maar die hartseer moes verwerk word. Jy staan in die stort en probeer die stank en seer tussen trane afwas, maar dit help nie. Slaap is min.

Dan tref die bekommernis jou: Is my vriendin en werkers almal veilig?

Die reuk van rook hang swaar in die lug en in die verte hoor jy hoe die gasbottels ontplof. “O Here, beskerm die mense, kinders en oumense.”

Nie lank hierna is my geselsmaatjie oorlede. Dit was toe nie ons laaste gesprek nie.

Mamma is met kanker gediagnoseer. En na ’n kort siekbed is sy huis toe. Die gemis hou nie op nie. Maar die Here vul vandag daardie geselskap.

Die voorval het my lewensuitkyk totaal verander. Daar is ’n doel met jou lewe. Vandag draai tyd om mense en nie dinge nie. Dis seer om te sien hoe ons mekaar soms behandel. Die lewe kan in ’n oogwink verander.

In die gasvryheidsbedryf word daar met talle jongmense gewerk wat op die punt staan om te trou. Oomblikke om hulle te kan bemoedig of om te sien hoe die Here jou op ’n misterieuse manier in ander se lewens gebruik, is soos goud. Die woorde van ’n bruidegom sal my altyd bybly: “Dit wat jy doen, doen jy met jou hart.” En hartswerk maak saak.

Die struktuur van die Villa het bly staan, al was die vlamme reusagtig.

Omstandighede word gebruik om ons te vorm. Soms voel ons klein om God se grootheid raak te sien.

Vandag is elke oggendtee op die stoep gevul met afwagting.

’n Nuwe gevoel is gebore om mense lief te hê. Daar is soveel wat in moeilike omstandighede staan. Om ’n vreemdeling wat swaarkry ’n drukkie te gee en ’n bietjie om te gee, kos mos niks.

Daar is ’n nuwe begeerte om dié getuienis met die wêreld te deel. ’n Passie om Sy waarheid te deel. Hy sal jou nie verlaat nie, Hy luister. Hy vang elke traan