Vee die plooie een vir een uit

0
55

Veroudering is vir die meeste vroue ’n bitter pil om te sluk. Wat werk régtig om jou vel jonk te hou?

Tipies vrou, begeer jy om mooi te lyk. En tipies vrou, sal jy selfs duur produkte koop en salonbehandelings ondergaan net om weer jou jong self te wees. Maar dis nie nodig nie, want met ’n paar basiese beginsels kan jy die plooie sommer vroeg nek-omdraai.

Kry jou vel se fermheid terug

As jy maar jou gesig met ’n toutjie kon styf trek! Alles sak af. Maar voor jy die hang van sake op gravitasie blameer, onthou dat daar baie faktore is wat jou vel se fermheid steel. Sonstrale, veral UVA, dring jou vel diep binne en los dan belangrike elastien op, maar elastien en kollageen is nodig vir ’n ferm vel. Dra daarom altyd ’n sonskerm wat jou vel teen UVA- en UVB-strale beskerm.

’n Stywe nek versterk jou nekspiere. As jy oefen, joga doen of stres, konsentreer daarop om jou nek te ontspan, want sterk nekspiere gaan jou gesig ondertoe trek. ’n Nekmassering is een van die bes-bewaarde jonkblygeheime!

Beenmassa gaan met die ouderdom verlore. Jou beenstruktuur verweer en met minder been wat jou vel ophou, begin dit ondertoe te hang. Drink ’n goeie kalsiumaanvulling om beenverlies te beperk.

Lees ook: Kul of kuur? Werk hierdie produkte regtig?

Vee die lyne, en die ouderdom, uit

As jou voorkop maar net ’n bietjie gladder was, sal jy al klaar jonger gelyk het. Of as die lyntjies om jou oë net minder was.
Jou gesigsuitdrukkings is een van die grootste faktore wat plooie veroorsaak. Elke keer wat jy frons of glimlag, versterk jy die spiere in jou gesig. En wat gebeur met groter spiere? Dit bult! So eintlik is ’n plooi die spasie tussen twee spiere wat bult.

Jou gewoontes soos om te rook of te sonbed, speel ’n rol. Rook laat jou gouer oud word as normaalweg. As jy vir tien jaar lank rook, gaan jou vel dit wys. Nikotien in sigarette laat jou bloedvate vernou. Dit beteken minder bloed kom by jou vel uit en so ook minder suurstof en voedingstowwe.
’n Dun vel lei ook tot plooie. Jou selle neem langer om te vernuwe en te vermeerder en dit beteken ’n dunner vel. Jy het nou ook minder elastien in jou vel en nou begin die plooie ook duideliker word.

’n Gesonde blos op jou vel

As iemand jou vra of jy moeg is, is dit soos koue water wat oor jou uitgegooi word, want selfs na agt ure se nagrus lyk jy steeds soos ’n uitgewaste ou waslap. Die kleur is uit jou wange en daar lyk jy net soos ’n bleek spook. Jou vel kan weer soos in die ou dae gloei, maar met ’n bietjie hulp natuurlik.

Gesonde eetgewoontes is seker jou beste medisyne vir ’n gesonde velkleur. ’n Gebalanseerde dieet met baie vrugte en groente en min verfynde koolhidrate doen jou vel die wêreld se goed. As jy gereeld sukkel met ’n sensitiewe, rooi of jeukerige vel, mag jy dalk ’n voedselsensitiwiteit hê. Besoek die dokter om vas te stel of dit so is.

Vergrote porieë beroof jou van ’n gladde, gloeiende vel. Dit laat jou vel grof en oneweredig lyk. Gebruik ’n kleimasker omtrent drie keer ’n week wat jou porieë sal laat krimp. Oefening verbeter bloedsomloop en dit help

weer dat meer suurstof en voedingstowwe by jou vel uitkom. Maar onthou dat te veel oefening ook sleg is vir jou vel, want baie voedingstowwe gaan deur jou sweet verlore.

Lees meer: Só pootjie jy jou eie skoonheid …