Veilig verseël … of onhanteerbaar en ontoeganklik?

My semester in Thailand het tot ‘n einde gekom. Ek het nuwe betekenis geheg aan die konsep van “gemengde gevoelens” want my verlange na my mense tuis en my verwondering oor die ander wêreld waarin ek my bevind het, het soos twee treinspore langs mekaar geloop.

Ek het al vertel hoe ek my bagasie geleidelik minder gemaak het tydens my verblyf. Toe ek dus my terugtog vanaf die Suvarnabhumi lughawe in Bangkok aanpak, het my rugsak net 14 kg geweeg – in teenstelling met die reuse-tas van 23kg waarmee ek begin het. By die ingang van die lughawe is daar ‘n “baggage wrapping” punt. Ek mik eers verby, maar die jong man se opregte glimlag en vriendelike aanbod: “Lap your luggage, sir?” laat my van plan verander.

Dié gebruik om iemand wat jy respekteer as “Sir” aan te spreek, het ek in “The King and I” vir die eerste keer gesien, maar nooit besef dit bestaan vandag nog voort nie. Gelukkig is ek nie ‘n feminis nie …, wel, gewoonlik nie! Dit het my in Thailand elke keer soos Miss Anna in die musiekfliek laat voel.

Ek besluit om my rugsak maar toe te draai en kyk hoe hy om en om op ‘n groot draaiskyf tol terwyl hy deur ‘n reuse-rol plastiek ingesluk word. Al die gespes, ritssluiters en groot en klein bande word verswelg. Laag op laag, kruis en dwars word die plastiek-kokon gespin. Laastens kom daar nog ‘n laag stewige, groen plastiek bo-oor alles.

Ek besef skielik dat elke band of handvatsel nou verdwyn het. Ja, geen skelm sal by die inhoud kan uitkom nie, maar hoe op aarde gaan ek dit nou hanteer? Maar (het ek dan níks in Thailand geleer nie?) ek bekommer alweer verniet. Die toedraai-man maak ewe oulik ‘n nuwe handvatsel van plastiek en prakseer dit stewig vas met lagies taai kleefband.

By die vervoerband kry ek ‘n ekstra-vriendelike glimlag omdat my sak so lig is, en durf die res van die lughawe-doolhof net met my klein handbagasie-tassie aan. Skielik onthou ek – as ek in Johannesburg land, sien ek my kleinsus. Ek het vir haar ‘n beursie gekoop en dit in een van die maklik-bereikbare buitesakkies van die rugsak toegerits sodat ek dit maklik kan uithaal. Oeps. Daardie sakkie is nou nie meer buite nie, en glad nie maklik bereikbaar nie!

En daar tref dit my oor my laaste koppie Thai-koffie. Dit is presies wat die lewe ook met ons doen, en partykeer doen ons dit sommer self: ons versteek ons identiteit onder lae en lae – mededinging, roetine, konformiteit, mode, druk van buite en binne, en dikwels ook sommer giere en geite. Uiteindelik lyk ons nie meer soos ons moet nie; ons voel anders, vir ander én vir onsself. Erger nog, ons binnegoed raak onbereikbaar – niemand kan meer by ons uitkom nie. Boonop raak ons moeilik hanteerbaar – ons lekker sagte bande wat knus oor ons naastes se skouers moes pas, is weg, en hulle kan ons nie meer dra nie. Al die slim bandjies en gespetjies waarmee ons aanmekaar gezip was, verdwyn …

En dit, só glo ons, is hoe ons onsself en ons binnegoed beskerm.

Vorige artikelVerstik my die wals…
Volgende artikelDie Arme Tandemuis
Blogger - Christa Grobbelaar
Christa Grobbelaar is ‘n mamma van twee volwasse dogters en ‘n juffrou van honderde. Sy en haar man, Willem, is albei onderwysers. Haar onderwysloopbaan het grootliks daaruit bestaan om vir kinders Engels te leer, maar haar graad in Sielkunde het altyd handig te pas gekom. Sy het na ‘n vroeë aftrede vir een semester in Thailand gaan skoolhou en doseer nou deeltyds Afrikaans en Engels vir onderwys- en joernalistiekstudente. In Thailand het sy met ‘n blog begin as teenmiddel teen die verlange na Suid-Afrika, maar geniet dit steeds om met die blog voort te gaan. Dié persoonlike blog, Christastories, is te sien by christainthailand.wordpress.com