Verander hoe jy oor geld dink

1848

Jou finansiële situasie het eintlik niks met banknote te doen nie. Dit het alles te doen met hoe jy oor geld dink, praat en optree.

Een ding wat alle ryk mense gemeen het, is optimisme. Hulle weet as hulle al hulle geld vandag verloor, hulle dit binne ’n paar jaar sal terugkry. Die verskil tussen ryk en arm mense is eintlik net die hoeveelheid geld wat hulle in hulle gedagtes kan hou.

Hoe jy dink, beïnvloed die resultate wat jy kry

Die gemiddelde Suid-Afrikaner leef van betaaldag tot betaaldag en probeer net om elke maand te oorleef. Almal smag na iets beters, maar weet nie presies hoe om dit te kry nie. Te veel mense kla egter oor hulle finansies, maar doen niks om die situasie te verbeter nie.

Jy het nou gehoor jy moet anders begin dink oor geld. Jy moet natuurlik eers weet presies wát jy glo. Die maklikste manier om vas te stel wat jou houding teenoor geld is, is om te probeer onthou hoe jou ouers oor geld gevoel het. Daardie ingesteldheid het hulle weer by hulle ouers geleer. Jou houding teenoor geld word van geslag tot geslag oorgedra.

So, voor ons verder kan gaan, moet jy verstaan dat “arm” of “ryk” ’n gesindheid is. Dit geld natuurlik vir ander terreine van jou lewe ook. Mense met ʼn “arm ingesteldheid” glo of sê die volgende: “Geld groei nie aan bome nie. Dit is die oorsaak van alle kwaad. Ek kan dit nie bekostig nie. Dis te duur. Daardie ryk ou het sekerlik iemand ingedoen. Ek is dit nie werd nie.”

Baie mense glo dat rykes geldgierig is, maar ek is seker jy ken arm mense ook wat suinig en geldgierig is, net soos daar ryk én arm mense is wat vrygewig is. Heel eerste moet jy besef dit is jou gesindheid wat veroorsaak dat jy nog altyd die resultate kry wat jy kry. Klim dus uit daardie gat!

Vind uit hoekom jou finansies soos “suur” vrugte is

Harv Eker, skrywer van die topverkoper Secrets of the Millionaire Mind, het gesê dat ’n mens nie net in een wêreld leef nie. Jy leef eintlik in minstens vier “wêrelde” tegelyk: die intellektuele, die emosionele, die spirituele en die fisiese wêreld. Wat jy duidelik moet verstaan, is dat dit wat met jou in die een wêreld gebeur, die gevolg is van die ander drie wêrelde. Dink byvoorbeeld aan iets soos geld, gesondheid of siekte.

Eker vergelyk ook die lewe met ’n boom wat vrugte dra. Hierdie “vrugte” word resultate genoem. Jy kan na die vrugte aan jou boom kyk en besluit hulle is te min, te klein of hulle smaak sleg. Wat finansies betref, kan die “suur” vrugte dalk beteken jy het nie genoeg geld nie. Die meeste van ons gee egter te veel aandag aan die onaangename vrugte of die gebrek aan vrugte. Jy moet eerder vasstel wat hierdie “vrugte” veroorsaak waarvan jy nie hou nie. Dit wat onder die grond aan die gang is, veroorsaak dit wat bo die grond gebeur.

Verander jou gedagtes bietjie vir bietjie en word ryk

As jy ander vrugte wil hê, moet jy eers die wortels verander. As jy ander sigbare resultate wil hê, moet jy eers die onsigbare dinge verander. Geld is ’n resultaat, net soos rykdom en geluk.

As ’n gebrek aan geld die effek is wat jy kry, sal jy moet uitvind wat die oorsaak daarvan is. Dit maak nie saak watter resultate jy kry nie, onthou, dit het op ’n heel ander vlak begin. Jou lewe is die gevolg van dit wat in jou binnekant gebeur.

Dit wat jy moet verander, is jou gedagtes. Jy sien, die goeie nuus is dat ek en jy altyd beheer het oor ons gedagtes. Miskien voel jy nie so nie, maar plaas jouself in hierdie situasie: In Suid-Afrika kan daar enige dag ’n taxi voor jou inswenk. Dan het jy een van twee keuses: Dit kan jou negatief maak of jy kan voor die tyd besluit dit gaan geen invloed op jou hê nie.

Dit wat jy oor geld gehoor het toe jy klein was, is nie vandag meer relevant nie. Begin daagliks jou gedagtes verander en aksie neem. Klein treetjies elke dag maak uiteindelik ʼn groot verskil.

Wouter Snyman, attooh!

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Wouter.