Verander jou denke, verander jou toekoms

My man kom twee jaar terug huistoe met ’n aaklige idee: “kom ons drink koffie sonder suiker!”

Ek dog eers hy grap, maar elke keer as hy koffie ingooi, is dit swart en bitter. Ek kan sien waarop hierdie oefening afstuur. Of ek gaan my koffie swart en bitter drink óf ek gaan van nou af self vir my koffie maak. Ek haal diep asem en besluit om te eksperimenteer. Dis ’n enorme uitdaging. Ek gril so erg dat ek met moeite die koffie binne my koppie hou. Na so ’n maand se gespook en gespartel is ek oortuig – koffie sonder suiker is eintlik lekker! Fase 1 van verandering is onder die knie.

Verlede jaar koekeloer ons by Montecasino se Coffee & Chocolate Expo na ’n ‘fancy’ koffie masjien. Sy is pragtig! En duur! Ons los vir haar op die rak. Maar so paar maande daarna danksy ’n ‘special’ by Makro en genoeg ‘e-bucks’ neem ons haar huistoe! Haar ‘cappucino’s’ is hemels! Ons raak regte-egte koffie snobs! Ons dink nou twee keer voor ons enigsins koffie drink. Hiermee saam is fase 2 van verandering ook nou bemeester.

En dan in Desember koop ’n vriendin vir ’n paar van ons vriendinne mooi tee-koppies met allerhande gegeurde tee en sê: ‘Dink aan my as jy hierdie drink’. Laat my dink aan Jesus en nagmaal. Omdat ek vir haar lief is word dit deel van my oggend ritueel en kort voor lank smag ek na my ou teetjie in die oggende. Dit ontketen ’n hele tee-rewolusie in ons huis. Fase 3 van verandering is dan nou ook vervolmaak.

Jy wonder nou wat het my koffie en tee gewoontes nou met enige iets uit te waai. Maar ek verstom my aan die mens se aanpaspaarheid, sy kapasiteit om te verander. Dit herhinner my aan Romeine 12:2 in die Boodskap: ‘Moenie tuis raak in hierdie wêreld met al sy boosheid nie. Nee, laat God julle van binne af nuutmaak. Laat Hy julle manier van dink verander sodat julle kan weet wat Hy van julle verwag. Dan sal julle ook weet wat sy wil is en hoe julle julle hele lewe elke dag aan Hom moet oorgee.’

Soms in ’n dag is daar so oomblik wat Heilige Gees jou attent maak op ’n waarheid. Of wat jy besef jou gedagtes reflekteer nie Syne nie. Of wat jy weet Hy verwag nou iets anderste van jou in ’n situasie. Ek besef as ek die kapasiteit het om so van koffie en tee gewoontes te verander, het ek die kapasiteit om in ’n oomblik Sy leiding te kies en my toekoms tree vir tree te sien verander!