Verander jou sienswyse

Om jou sienswyse oor sekere dinge in die lewe te verander, is nie altyd maklik nie. Soveel moeiliker hoe ouer ons word en hoe langer ons aan sekere sienswyses vasklou.

Ek onthou hoe ek as Sub A (vandag Graad 1) seuntjie saam met my vriende een weeksdag van die koshuis na die naaste kafee gestap het. Terwyl ons so speel-speel loop en gesels, vertel een outjie ons toe dat die aarde in die rondte draai. Die ander van ons was stomgeslaan oor dié bewering en ons het dadelik aan die stry geraak.

My argument was dat indien die aarde in die rondte sou draai, dan sou ons mos nie kon stilstaan nie. Ons sou moes vasklou vir al wat ons werd is. Op daardie stadium het die arme outjie nog niks van gravitasiekrag geweet nie, dus kon hy nie juis ons argumente weerlê nie. Die maatjie se bewering het my egter nuuskierig gehou en ek moes toe later uitvind dat hy inderdaad reg was.

Terwyl Jesus op aarde was, het Hy dikwels net so gesukkel om mense anders te oortuig. Wat Hy gesê het, het dikwels in die natuurlike nie sin gemaak nie.

Ek dink aan die keer toe Jesus in Lukas 5 vir Simon (Petrus) opdrag gegee het om sy net aan die ander kant van die boot laat sak ondanks die feit dat daar geen vis daardie nag gevang is nie. Simon (Petrus), ‘n gesoute visserman, weet mos dat as jy die hele nag niks gevang het nie, dan is daar nie ‘n kat se kans dat jy enige iets in die oggend sal vang nie. Wat het Petrus dan oortuig dat sy professionele opinie verkeerd kon wees? Ek lees dat Petrus gesê het dat hy sy nette sou laat saak op grond van Jesus se woord. Die resultaat was ‘n groot vangs.

Romeine 12:2 lees dat ons moet toelaat dat God ons denke vernuwe. Ons denke staan dus dikwels tussen waar ons ons huidiglik bevind en die waarheid wat God aan ons wil openbaar. Ons het dalk ‘n bepaalde denkwyse oor ons werk, besigheid, verhoudings, gebed, toekoms, ens. God wil egter hê dat ons ‘n ander sienswyse, ‘n hemelse perspektief daarop kry. Ons kan dit slegs doen as ons toelaat dat Hy ons denke deur Sy woord verander.

Spandeer ek dus genoeg tyd in Sy Woord, maar bowenal, glo ek die Woord en pas ek dit dienooreenkomstig toe sodat my verhoudings, die bestuur van my besigheid, houding teenoor my werkgewer/werknemers, hulp aan armes, hantering van konflik, ens. op grond van Sy Woord geskied en nie my op grond van my eie opinies nie?

Hoe nader en getrou ons dus aan God beweeg, hoe meer sal ons bewus wees van Sy sienswyse in Sy Woord, hoe makliker is dit om te verander sodat ons Sy wil doen en nie ons eie nie.