Verbloem jou vlekke

1993

Met die regte produkte en aanwending kan jy merke en vlekke op jou vel verbloem sonder om dik lae grimering aan te plak.

1. Die eerste stap is altyd primer

Was jou gesig, wend jou gewone vogroom aan en volg dit dan op met primer voordat jy onderlaag aanwend. Dit is die geheim van grimering wat glad en natuurlik lyk, eerder as grimering wat dik aangeplak is.

Primer is perfek om akneeletsels wat ’n holte in die vel gemaak het, te bedek. Die produk vul daardie holte en gee jou ’n meer egalige oppervlak om op te werk en ander produkte aan te wend.

Kies ’n produk met ’n silikoonbasis om plooie sagter te laat voorkom. Dit vul die onegalige vel en fyn lyntjies in.

Kyk ook uit vir die bestanddeel titaanoksied op die etiket – dit weerkaats UVA- en UVB-strale en kan só die vel teen sonskade beskerm.

’n Produk wat ’n vogroom en primer kombineer, is ideaal, want dit is minder produkte wat jy op jou gesig gebruik. Wend dit met ’n onderlaagkwas of skoon hande aan.

2. Perfekte onderlaag is lig en vogtig

Wend onderlaag vóór verbloemer aan vir die beste resultate, nie andersom soos talle vroue dit doen nie.

Kies ’n ligte produk met baie vog, want swaar, mat formules laat die vel ouer lyk. Dit is nie veronderstel om donker kolle of vlekke te verbloem nie, daarvoor wend jy verbloemer aan, soos in stap 3. Onderlaag wat dik aangewend is oor fyn lyntjies en plooie, trek juis die aandag daarnatoe.

Om die regte formule te kies, werk jy volgens jou veltipe: mat onderlaag vir ’n kombinasievel of olierige vel, en bevogtigende onderlaag vir ’n droë vel. ’n Normale vel kan enigeen gebruik.

Gebruik ’n onderlaagkwas, sponsie of selfs die kussinkies van jou drie middelvingers om die produk aan te wend. Wend dit bietjies-bietjies in dun lae aan om te voorkom dat die grimering aangeplak lyk. Druk-druk dit as kolle aan op die areas waar jou vel onegalig is, en smeer dit van daar af uitwaarts.

3. Verbloemer, jou geheime wapen

Verbloemer word nooit oor die hele gesig gebruik nie, maar net om merke en vlekke te bedek. Dis in vloeibare of roomvorm beskikbaar. Roomprodukte werk die beste om puisies en donker kringe onder die oë te bedek.

As jy iets soos ’n puisie wil bedek, wend eers ’n ander produk aan wat dit behandel. Wend dan ’n verbloemer aan wat ʼn skakering donkerder is as die een wat jy gewoonlik sou gebruik om die kringe onder jou oë te verbloem. As jy dieselfde skakering gebruik, sal dit die plekkie beklemtoon in plaas van wegsteek.

Druk-druk dit met jou vinger aan eerder as om dit te smeer.

Só kan jy die hoeveelheid bedekking opbou. Dit kan ook met ʼn spesiale verbloemerkwas of ’n sponsie aangewend word.

Kleurverbloemers werk deur merke met komplementêre kleure te kamoefleer. Gebruik byvoorbeeld ’n groen verbloemer vir rooi littekens of aknee, of oranje vir blou skakerings soos are en donker kringe.