Verdien so ’n ekstra inkomste

4818

As jy nie op die stadium is waar jy wil wees wat jou geldsake betref nie, is dit dalk tyd om jou eie besigheid te begin.

As jy ekstra tyd het, kan jy dit gebruik om jou eie onderneming op die been te bring. Jy sal nie net geld maak nie, maar ook baie leer oor rekeningkundige beginsels, administrasie en hoe om die beste diens vir jou kliënte te gee.

Oorweeg jou opsies voor jy ’n besigheid begin

Jy verdien ’n salaris elke maand, want jy voeg waarde tot die samelewing toe, of dit is om individue te help om probleme op te los of om oplossings te vind vir uitdagings binne jou werksomgewing. Hoe groter die probleem wat jy moet oplos, hoe groter is die inkomste wat jy daaruit kan maak.

Robert Kiyosaki praat oor die vier kwadrante waarbinne ons leef wat besigheid aanbetref. Jy is in diens van iemand anders, wat beteken jy ruil jou tyd vir geld. Dis ’n uitdaging, want ons het net soveel tyd tot ons beskikking in ’n dag. Of jy werk vir jouself.

Die persoon wat vir homself werk, sien ’n behoefte raak en reageer daarop. Hy beperk egter homself, want slegs hy kan dit doen. Die besigheidseienaar sit ’n span en ’n stelsel bymekaar en geniet dan die resultaat.

Nou kan jy ware vryheid beleef. Jy is natuurlik ook jou eie baas, maar die verskil is jy het ander mense wat vir jou werk. As jy besluit om ’n lekker lang vakansie te vat, maak jy nog steeds geld in daardie tyd en jou besigheid maak steeds ’n wins.

As jy weet waarvan jy hou, sien die besigheidsmoontlikhede

Nog ’n opsie is ’n besigheidseiendom. As dit net jy is, het jy net 24 uur ’n dag wat jy kan uitruil vir geld. Die meeste van ons kan nie sulke ure werk nie. Maar as jy 10 mense het wat vir jou werk, het jy skielik 240 uur ’n dag beskikbaar. As jy jou eie besigheid begin en jy het 10 mense wat vir jou werk, het jy 10 uur ’n dag van 10 mense wat jy kan uitruil vir geld. Dit is hoekom besigheidseienaars baie meer geld kan verdien as individue.

Jy kan dan nie net ander mense se tyd uitruil nie, maar jy kan ook die waarde in terme van hulle vaardighede gebruik. Maak seker dat jy in jou besigheid verskillende talente en vaardighede van mense het. Dalk is jy goed met finansies, maar nie met bemarking of verkope nie. Kry iemand wat goed is daarmee en begin hulle tyd uitruil en verkoop.

Die laaste kwadrant waarvan Robert Kiyosaki praat, noem hy die beleggingskwadrant. Dit is om meer as een besigheid te hê. Miskien het jy ’n klein aandeel in ’n besigheid waar jy letterlik geld verdien deur wat ander mense doen, en waaraan jy nie energie of tyd spandeer nie. Gaan kyk waarvan jy hou om te doen en waarin jy goed is om te bepaal of jy nie dalk ’n besigheid in daardie rigting kan begin nie.

Word ryk deur geld vir jou te laat werk

Baie mense dink hulle werk te hard vir iemand anders en begin dan hulle eie besigheid. Dan vind hulle uit dat hulle nou nog harder moet werk as voorheen! As jy nie opdaag vir werk nie, word jy natuurlik ook nie betaal nie, net soos toe jy vir iemand anders gewerk het. Dit geld ook vir dokters, tandartse en ander professionele mense.

Jy hoef nie noodwendig vir jou geld te werk nie, maar jou geld kan vir jou werk! Jy kan geld op die aandelemark of in eiendom belê. Daar is nog baie ander maniere ook. Jy kan byvoorbeeld vir ’n klein besigheid geld leen en dan rente verdien op die terugbetaling daarvan. Of jy kan geld beskikbaar stel vir iemand anders om in eiendom te belê en dan die bedrag, plus ’n sekere persentasie, terugkry.

Nie een van hierdie maniere is natuurlik beter of meer “reg” as die ander nie. Jy moet maar self besluit wat vir jou werk. Daar is ’n gesegde: Jy maak ’n bestaan met jou hande, maar jy word ryk met jou verstand.

Wouter Snyman, attooh!

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Wouter.