Vergeet van gemiddeld wees!

0
1451

Dit is dalk tyd om jouself uit daag om meer te doen en te bereik as wat jy tot dusver gedoen het. Wees dapper en waag die kans!

As jong meisies het ons almal van roem en sukses gedroom. Jy wou dalk ’n aktrise word met duisende bewonderaars of ’n suksesvolle sakevrou met invloed en ’n vet bankrekening. Nou is jy net ’n gemiddelde vrou met ’n doodgewone werk en saai lewe wat niemand (ook nie vir jou!) opgewonde maak nie.

Natuurlik waarborg roem en sukses nie geluk nie. Middelmatigheid is ook nie verkeerd nie, maar dit laat geen ruimte vir groei en verandering nie. Sonder voortdurende groei kan niemand hulle beste wees nie.

Jy sus jouself dalk met die gedagte dat die meeste mense maar so middelmatig leef. Dis egter eers as ’n mens uit jou gemaksone beweeg dat jy jou ideale kan bereik. Daar moet altyd iets wees om na uit te sien – dan sal jy nie bang wees om uniek jý te wees nie.

Jou gedagtes skep die werklikheid waarin jy leef

As jy heeltyd dink: “Dis nou maar hoe ek is”, sal dit nie snaaks wees as die lewe by jou verbygaan nie. Raak eerder bewus van die denkpatrone wat jou verhoed om beter te raak en wees bereid om dit te verander.

’n Praktiese manier is om dié soort gedagtes in ’n dagboek neer te skryf. Dink mooi hoe hierdie manier van dink verhoed dat jy jou volle potensiaal bereik. Vervang sulke gedagtes met iets opbouends soos: “Ek het wat nodig is om ’n sukses te maak.”

As jy tevrede is om net nog ’n gesig in die massa te wees, is dit presies wat sal gebeur. Dis egter belangrik om jou aan die regte mense te meet. Om na die bedelaar langs die pad te kyk sal jou tevrede laat voel en laat dink jy is darem beter daaraan toe. Dan is die versoeking groot om op dieselfde trant voort te gaan.

Kyk jy egter na iemand soos Charlize Theron wat uit hulle omstandighede losgekom en sukses behaal het, motiveer dit jou om dieselfde te doen.

Vrese en verskonings hou ’n mens op een plek

Vrees vir verandering en mislukking bly die hoofrede waarom die meeste mense nooit hulle volle potensiaal bereik nie. Wie sê daar wag nie ’n opwindende lewe buite die roetine van opstaan, werk toe gaan, kinders rondry, kosmaak en gaan slaap nie?

Bogemiddelde mense is bereid om te waag ten spyte van vrees. Hulle besef dat die voordele van verandering die sprong die moeite werd maak. Goeie raad is om jou doelwit in kleiner dele op te deel. Namate jy dit stukkie vir stukkie bereik, sal jou vrees al minder word.

Baie mense sê: “As ek maar net meer geld en geleenthede gehad het…” Richard Branson, hoof van die Virgin-groep, se disleksie het hom nie gekeer om op agtien ’n miljoenêr te wees nie. Sy swak skoolprestasie was eerder ’n motivering om te wys wat in hom steek.

Jou kans om ryk te erf of skielik deur iemand raakgesien te word, is skraal. Leer by die grotes en gebruik dit wat jou nog altyd gekeer het om sukses te behaal, as aansporing. Jy hoef nie vir altyd dieselfde mens te bly nie!

’n Gebrek aan visie kan jou laat stagneer

“Leef in die oomblik!” is deesdae die slagspreuk. Dit is nie noodwendig verkeerd nie, solank die hede jou help om vorentoe te beweeg.

As jy wil groei, moet jy die uitdaging raaksien en weet wat om te doen om dit te bereik. Moenie dink dat jou visie in lood gegiet is nie. Gaan sit elke maand rustig en kyk of jy nog op koers is en of jy dalk jou doelwitte moet aanpas.

Maak gereeld tyd om terug én vorentoe te kyk. Die belangrikste vraag is: Het ek ’n beter mens geword? Hoe gaan ek dit van nou af regkry?