Vergeet van perfek wees

1792

Kollegas en vriendinne vermy jou en selfs manlief en die kroos loop katvoet. Jy dryf almal tot raserny met jou hoë standaarde. Maar jy kán verander!

Nog voor die kuiermense se motor om die hoek verdwyn, is die lakens in die was, die matras omgedraai en die gastekamer gestofsuig. Gelukkig het jy jouself die hele naweek deur te pletter gewerk om te sorg dat die kombuis silwerskoon bly. Sodra iemand die badkamer gebruik het, het jy gaan opruim.

Jou gaste het ook nie die sitkamer omgekrap nie, want hulle was te senuweeagtig oor wat hulle gasvrou met hulle sou aanvang…

Hoe herken ons ’n tipiese perfeksionis?

Om altyd alles op hulle plek te hê is goed en wel, maar as jou verhoudings daaronder begin ly, moet jy dalk briek aandraai.

Die perfeksionis dink met haar linkerbrein. Dis maklik om iemand hieraan te herken. Haar koskas is dalk alfabeties georganiseer. Aan die binnekant van elke kasdeur is lysies wat vir jou verduidelik waar wat is.

Jy sal nooit deurmekaar raak in die linnekas nie, want alles is volgens kleur, lynreguit en in ewe groot opgevoude hopies gebêre. Organisasie is hierdie vrou se middelnaam – daar is geen gemorslaai in haar huis nie!

Hierdie dame herlaai terwyl sy ’n kas regpak of dokumente sorteer. Aan die einde van die dag wil sy kan wys wat sy alles vermag het.

Is perfeksionisme geneties of word dit aangeleer?

Die geleerdes sê dis aan die een kant geneties omdat sekere mense van patrone hou. Vasgestelde patrone maak jou lewe meer hanteerbaar en voorspelbaar en laat jou veilig voel, daarom skep jy graag sulke “patrone” op kantoor of by die huis.

Dalk was jou ma ’n perfeksionis, of was sy so slordig dat jy presies die teenoorgestelde wou wees. Dis bewys dat oordrewe drange en gewoontes gekoppel kan word aan iets wat vroeër in jou lewe gebeur het. Die gedrag word dus soms aangeleer.

Perfeksionisme ontstaan gewoonlik as ’n goeie voorneme. Niemand wíl obsessief raak nie, net meer georganiseerd.

Maar, en hier lê die probleem, ’n mens verval onbewustelik in ’n patroon om volmaak te wees. Jy kom nie eers agter hoe ander daaroor voel nie.

Gelukkig vir jou (en ander) is daar ook iets soos ’n snellergebeurtenis. Dit is ’n gebeurtenis of ’n persoon wat jou laat besef jy wil en moet verander.

Vergeet van perfek wees en ontspan ’n bietjie!

Probeer verstaan waar jou strewe na perfeksionisme vandaan kom. Dan kan jy beter en bewustelik teen ’n herhaling van dieselfde foute stry. Dis nie altyd maklik om te verander nie, maar dit kán gedoen word.

Maak heel eerste ’n lys van situasies wat al verkeerd geloop het omdat dinge by die huis of werk altyd perfek moet wees. Skryf ook die name neer van mense wat dalk in die proses seergekry het. Was dit toe al die tyd die moeite werd?

Nou het jy reeds die eerste treetjie gegee om onvolmaak, maar gelukkig te wees. Vergewe jouself, en vra dié wat jy seergemaak het, om verskoning.

Maak ’n lys van die dinge wat beslis moet verander en dink aan alternatiewe. As jy byvoorbeeld met hanekraai opstaan om jou huis te stofsuig voor werk, lê môreoggend ’n halfuur langer. Die plafon gaan nie op jou kop ineenstort omdat jy nie hard aan die swoeg is nie!

Leef van nou af meer bewustelik. Voor jy met jou vuil maar plesierige kind raas oor sy smerige bakkies, dink hoe die vreugde uit sy ogies verdwyn het die laaste keer wat dit gebeur het.

Beplan jou dag so dat dit nie te volgeprop is nie. Vat tyd vir jouself, en ruik ’n slag regtig aan die blomme in jou tuin.

Laastens, onthou: Geen mens kan oornag verander nie, dit neem tyd. Sê gerus vir jou oorblufte man, verbaasde vriende en verstomde kollegas dat die nuwe, meer ontspanne jy hier is om te bly!