Vergeet wat ander van jou dink

468
Liesel Krause-Wiid
Liesel Krause-Wiid

Ons oorskat die aantal ure wat ander mense oor ons foute dink en praat. Dan begin ons voorgee om te wees wie ons nie is nie.

As jy besef dat ander nie so ingestel is op jou lewe en mislukkings soos wat jy dink hulle is nie, maak dit jou vry. Hou op tob oor wat daardie kollega of onderwyseres van jou dink en leef jóú lewe voluit! Wees eg en wees jouself. Dit is in elk geval net God se opinie oor jou wat tel.

Aanvaar dat dit nie altyd oor jou gaan nie

Dit is nie altyd maklik om jouself te wees nie. In vandag se prestasie-gedrewe samelewing dink ons ons moet heeltyd meer wees en meer doen. Maar die belangrikste wat God van ons vra, is liefde vir Hom en ons naaste.

’n Tiener sê op ’n keer vir my dat sy nie deel van die “in”-groep by die skool is nie. Dalk voel jy ook party dae so. Die goeie nuus is dat Jesus gereeld met mense gemeng het wat in die oë van die samelewing nie goed genoeg was nie. Dit is menslik om ander te wil beïndruk, maar hulle goedkeuring gaan jou nêrens bring nie.

Ons optrede word te maklik bepaal deur die indrukke van mense oor ons. Jy stap by ’n groepie mense verby en hulle begin lag… jy dink dadelik hulle lag vir jou. As jy egter mooi gaan dink, is dit blote selfsug wat jou laat dink die wêreld draai om jou.

Leef sonder ’n masker en erken jou swakhede

Die waarheid is wanneer jy minder word en God meer, word jy vry. As jy minder begin omgee oor mense se opinies oor jou, begin jy eers werklik vry leef. Die eie ek moet gekruisig word sodat jy kan word wie jy bestem is om te wees.

Om opreg te leef begin by jouself. Erken jou eie gebrokenheid, maar weet dat God jou liefhet ten spyte van wie jy is!

Dit is swaar om dit te erken, maar ons elkeen het ’n stukkie skynheiligheid in ons. God het ons lief net soos ons is, maar Hy het ons te lief om ons te los net soos ons is.

Jy is uniek, want jou wonde vertel ’n storie

Die bekende skrywer Bob Goff vertel dat hy baie lank gespaar het vir ’n peperduur skildery. Toe hy dit uiteindelik kon bekostig om die skildery te koop, gee die kunsgalery vir hom twee kunsstukke: die ware meesterstuk en ’n afdruk daarvan om op te hang.

Bob was ietwat ontstig oor die feit dat hulle verwag het hy moes die oorspronklike toesluit en die afdruk ophang vir almal om te sien.

Hy het besluit om die meesterstuk op te hang en elke dag daarna te kyk. Dit het hom baie plesier verskaf. Op ’n dag het die pragskildery skade gekry toe hy ’n rekkiegeveg met sy kinders gehad het. ’n Rekkie het die kunswerk getref en ’n merk gemaak.

Bob was eers ontsteld hieroor, maar dit het later vir hom gevoel asof die kunswerk meer waarde gekry het omdat daar ’n storie agter die merkie was.

Ons Vader nooi ons uit om ons ware self te wys en teen die muur op te hang – eg, opreg en sonder pretensie.

Liesel Krause-Wiid, Geloofsgroei, berading en gesinsterapie

Kliek hier vir meer videos en artikels van Liesel.

Gebruik die afslagkode LIESEL om die boek NÓÚ IS DIE TYD te koop op voelgoedboeke.co.za.
R104 R149