Vergewe 101

Jesus vertel van die koning wat die oggend met ’n goeie voet uit die bed opgestaan het en skryf al die skuld van ’n ou of wat hom geld skuld. ’n Paar miljoen, sommer net so!

Die man het seker op die wolke daar uit die kasteel geloop. Maar terwyl hy so loop en spring, loop hy een van die ouens raak wat hom nege duisend rand skuld. Die rolle is nou omgedraai en hy sit nou in die rol van die skuldeiser, soos die koning so pas moes speel. Maar wat jammer is, is dat hy nie dieselfde doen as wat die koning gedoen het nie. Hy kan nie van dieselfde genade wat hy ontvang het aan die skuldenaar gee nie. Hy kan nie soos die koning die skuldbriefie van die arme man vat en in stukke skeur nie. Toe die man nie kan betaal nie, laat hy hom in die tronk gooi.

Dis nie reg nie en die koning het die amptenaar in die tronk laat gooi.

Maar as die storie nader aan die lyf kom, dan raak dit moeilik.

Ons ontvang soveel vergifnis. Hoeveel daarvan deel ons uit aan die mense om ons?

Dalk het dit tyd geword dat ons die goed teenoor mekaar sit. Dalk sal dit ons help om te vergewe en te vergeet. Wanneer ek besef hoe groot die genade is, hoe groot die skuld is wat God vir my afskryf, sodat ek tog ook eendag in die hemel kan ingaan, sal dit dalk vir my makliker wees om die een wat die klomp goed teen my gedoen het, ook te vergewe.