Vergewe haar na die egskeiding

0
55
egskeiding.png

Wanneer die mat onder jou voete uitgeruk word help dit nie om daarteen te baklei nie. Vergewe en leef.

Ek kan getuig dat ek my lewe lank ’n geseënde mens was. Baie keer kon ek in verwondering sê die lewe wil nie sy rug vir my draai nie. My huwelik was geseën. Met ’n pragtige vrou aan my sy het ek vir baie kans gesien. My vrou was lief om die Bybelteks aan te haal wat lui: “Twee is beter as een. As een val, kan die ander hom ophelp.” Dis hoe ons ons huwelik gelewe het. Ons was ’n span.

Twaalf jaar nadat ons getroud is, het ons stad toe getrek. Die eerste jare in die stad was finansieel uitdagend. Dit het later finansieel beter gegaan en ons kon vir my vrou ’n eiendomsagentskap begin waarin sy haar kon uitleef. Die onderneming het so gegroei dat sy later ’n vennoot ingeneem het. Hy was ’n huisvriend, iemand met wie ek haar toe oë sou vertrou …

Die klein jakkalsies het aan die werk gespring! My vrou het geleidelik verander in iemand wat sonder om te bloos oor ’n buite-egtelike verhouding kon jok. Een van die grootste foute wat ons gemaak het, was om nie gereeld te bevestig of ons nog dieselfde langtermyndrome koester nie. In my geestesoog het ek in ons aftreedae die huis vir ’n maand toegesluit, in die kampeerwa gespring en die land verken met my vrou aan my sy. Sy het toe lank reeds van franchises en finansiële vooruitgang gedroom. Sy het ingekoop in ’n ander man se drome en teen die tyd dat ek dit besef het, was dit reeds baie laat …

Die lewe het sy rug vir my gedraai. Dit wat ek altyd as vanselfsprekend aanvaar het, was weg … Ek het nie die egskeiding teengestaan nie. Dit was pynlik en ek wou dit so gou moontlik agter die rug kry.

Die Here weet die beste. Hy het my uit die situasie geneem en op ’n lang projek in Zambië geplaas. Daar teen die Zambezi kon ek saam met Hom deur alles werk. Ek het myself leer ken. Dinge wat ek waarskynlik as getroude man eers in my aftreedae sou ervaar het, het Hy genadiglik vir my gegee op ’n oomblik wat Hy as meer tydig geag het.

[pagebreak]

Dit weet ek nou

Alles wat in die lewe gebeur, is nie noodwendig iemand se skuld nie. Partykeer gebeur dinge net, maar dit gebeur nooit sonder ’n doel nie. Alles pas in die groot Raadsplan in. Ek besef ook nou dat baie dinge nie eensklaps gebeur nie. Die meeste ondinge sluip stilletjies in ’n lewe of ’n verhouding in. ’n Mens verval in gedragspatrone wat, as jy eers kan terugstaan en dit beskou, jou koud laat word dat jy so op jou gemak kon wees daarmee. Die beste oefening wat jy van tyd tot tyd kan doen, is om jou lewe onder die vergrootglas te neem. Die Bybel is die enigste riglyn daarvoor.

Ek besef ook dat niemand alleen deur die lewe kan gaan nie. Ware vriende staan nader as dit laagwater is en as dit hoogwater is, durf jy nie daardie vriende misken nie. Ek het ervaar dat om daarteen te baklei as die lewe jou rondtrek, ’n vermorsing van energie is. Dit is ’n tyd waarin ’n mens “laag behoort te lê” en krag op te bou vir die goeie tye wat voorlê. Eet gesond en moenie jou fisiese welsyn afskeep nie. Jy sal die vrugte daarvan pluk.

Dit wil ek vir my vriend

Ek is jammer om te hoor dinge het nie vir julle uitgewerk nie. Onthou net dat dit maar ons perspektief van dinge is. Jou egskeiding vorm deel van ’n groter plan. As jy foute gemaak het, vra om verskoning waar dit nodig is, maar belangriker nog: Vergewe jouself. Dit neem tyd om aan te beweeg. Onthou die woorde: “It’s not the way you fall, it’s the way you bounce that counts.” May you bounce well, my friend! Ek is net ’n telefoonoproep ver.

Dit wil ek vir my seuns

Wees altyd opreg. Moenie uit die oog verloor dat daar eendag van jou rekenskap geëis sal word oor hoe jy die vrou in jou lewe behandel het nie. Hou in gedagte dat daar mense hier op aarde is wat in jou optrede ’n voorbeeld sien oor hoe ’n man se liefde vir ’n vrou moet lyk.

Wees versigtig om nie jou vrou se liefde te meet aan wat jy terug ontvang nie. Put jou vreugde uit wat jy kan gee. Bid elke dag dat jou hart onvrugbaar sal wees vir die saad van ontrouheid wat oral plek soek om te ontkiem.

[pagebreak]

Praat twee keer sagter met haar en raak dubbeld so sag aan haar as wat jy dink jy dit behoort te doen. Moet nooit vergeet dat almal dinge het wat vir hulle broos en heilig is nie. Moenie met jou vuil skoene in ’n oop hart trap nie.

Ons is almal vir mekaar geleen. Pas dié wat vir jou geleen is op. Moenie die pad alleen probeer stap nie. Neem die Here saam met jou in jou verhouding.

Dit wil ek vir my dogter

Die huwelik is soos wiskunde. As jy ’n week lank nie daaraan aandag gee nie, neem dit jou twee weke om in te haal. Later raak jy so ver agter dat jy nie eers meer probeer nie. Ons lewe nie in ’n volmaakte wêreld nie. Wees sag met en lief vir jouself. Die Bybel sê dat die Here ons harte moet ondersoek. Spaar jouself die moeite om mense van jou goeie bedoelinge en motiewe te probeer oortuig. Jy en die Here ken jou beweegredes en gesindhede. Dis genoeg. Laat dit daarby.

Dit wil ek vir my eksvrou sê

Hulle sê die vier ergste dinge wat ’n man kan tref, is egskeiding, die dood van ’n kind, die dood van ’n geliefde en om werkloos te raak. In daardie volgorde. Ek het gedink dis praatjies totdat ek dit self ervaar het. Ek glo dit was vir jou ook nie anders nie. Ek is jammer oor my aandeel daarin. Daar is dinge waarvoor ek altyd my hoed vir jou sal afhaal. Jy is ’n skitterende ma. Ek gaan nêrens sonder dat mense my op die kinders se gedrag en netheid komplimenteer nie. Dankie daarvoor. Ek sien elke dag hoe jou strewe om “onafhanklik” te wees steeds net ’n strewe bly. Jy het net een vorm van afhanklikheid vir ’n ander verruil … Jy sal jou siening moet verander anders gaan dit altyd vir jou voel of jy misluk het.

Dis vir my sleg dat jy nog met soveel skuldgevoelens rondloop nadat ek jou reeds vergewe het. Ek wil hê jy moet so daarna kyk: Partykeer kom twee mense wie se persoonlikhede eintlik onversoenbaar is, by mekaar uit. Dit maak hulle nie slegte mense nie. Dit maak net dat, hoe lomp ons ook al probeer het, ons nie goed vir mekaar was nie. Ons moet vergewe, want ons word vergewe. Die positiewe van ons huwelik is die kinders wat ons saam het. Ek kan die Here nie genoeg dank vir hulle nie. Dankie dat jy nie snaaks is as ek hulle soms “ontydig” wil sien nie.

Mag jy ’n mooi en geseënde lewe vorentoe hê.