Vergewe na ’n egskeiding en kom vry

0
188
catherine van heerden

“Ek is onlangs geskei en weet ek moet vergewe, maar die pyn lê nog vlak. Hoe maak ek my los van die verlede?”

“Ek is onlangs geskei en weet ek moet vergewe, maar die pyn lê nog vlak. Hoe maak ek my los van die verlede?”

Elke leser kan waarskynlik identifiseer met die worsteling om te vergewe wanneer jy diep seergemaak is. Solank as wat ons in verhoudings met ander mense staan, sal dit altyd nodig wees om te vergewe. Mense maak mekaar seer, stel mekaar teleur… soms doelbewus en soms onwetend. Veral waar ’n huwelik misluk het, loop ons met diep wonde wat soms jare neem om te genees. In sulke gevalle is die keuse om te vergewe baie meer intens en moeiliker, nie net teenoor die ander party nie, maar ook vergifnis vir jouself.

Verstaan wat dit beteken om te vergewe

Vergifnis is ’n doelbewuste besluit om jouself los te maak van gevoelens van bitterheid, haat of wraak teenoor iemand wat jou benadeel het.

As jy in ’n vaste verhouding met ’n ander persoon staan, moet jy jouself altyd voorberei dat jy beide positiewe en negatiewe belewenisse gaan hê. Dit is goed, solank as wat dit vir beide partye opbouend is en wedersydse respek die kompas bly. Indien jy egter voel jy word deurlopend onregverdig behandel, afgekraak of gekritiseer, geminag, gemanipuleer of gedomineer, is dit nie gesond nie. Miskien sien julle dinge eenvoudig net nie dieselfde nie. Die emosionele ontbloting en onvoorwaardelike vertroue wat daar in ’n huwelik behoort te wees, is dikwels die oorsaak dat mense seerkry. Dit is wanneer diep wonde ontstaan en vergifnis baie moeilik is, veral as jy die volste reg het om daardie persoon “so ’n bietjie terug te kry”.

Wanneer een of beide van die partye uiteindelik besluit om te skei, is vergifnis ’n belangrike deel van die helingsproses. Onvergewensgesindheid kan tot ernstige fisiologiese probleme lei, om nie eers te praat van die blywende emosionele wonde nie. Onthou, om te vergewe is meestal meer tot jou eie voordeel. God gee ons die vermoë om dit te kan doen, want Hy sê mos in Efesiërs 4:32: Vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.

Volg die pad na ware vergifnis

Daar is ’n aantal beginsels wat ek gevolg het tydens die genesingsproses ná my besluit om my huwelik te beëindig. Dit is belangrik dat jy jou ware emosies en die redes vir die pyn baie duidelik identifiseer, verstaan en ervaar. Wees kwaad, wees huilerig, wees reguit, wees eerlik, wees ten volle realisties. Neem jou tyd. Moenie die proses aanjaag nie en moenie probeer om sterk te wees nie. Dink na oor wat presies die waarheid oor jou mislukte huwelik is. Haal asem, en oorweeg weer jou siening oor jouself. Waar het jy jou waarde verloor? Waar het jou selfbeeld ’n knou gekry? Herstel jou siening van jouself en vergewe jouself. Verstaan jou verliese. Wat is die prys wat jy betaal het? Maar sien ook wat jy gewen het en wat jy geleer het. Daar is altyd lesse te leer. Laastens, bepaal vir jouself wat jy nodig het om gesond te word. Goeie en betroubare vriende wat jou nie oordeel nie, is belangrik. Wees dan genadig teenoor jouself.

Dit het vir my gewerk om hierop te fokus en uiteindelik by die punt te kom waar ek werklik – ten spyte van diep emosionele wonde – my vorige maat die beste kon toewens.

Kom vry om te leef soos God vir jou beplan het

Te veel mense hou vas aan die onreg van hulle egskeiding en beweeg nooit regtig na ’n beter plek nie. Sommige geskeides maak op dwase maniere hulle kinders of geliefdes seer, omdat hulle nog nie hulle eie pyn en woede verwerk het nie. Treur dus, aanvaar die onregverdigheid van die lewe en besluit om jou toekoms aan te gryp. Moet dinge nie erger maak as wat dit reeds is nie. Kom eerder vry.

Uiteindelik gaan ons lewens oor die stories wat ons leef. Vergifnis is maar net ’n storie van die verlede wat suksesvol op sy plek gesit word! Die genesende krag van vergifnis is die moeite werd om oor en oor te beleef, ter wille van jouself en jou pragtige toekoms. Wie weet, daar lê dalk mooi oomblikke vorentoe wat jy kan misloop as jy gevange bly.

Mag vergifnis aktief en lewendig in jou teenwoordig wees – vergifnis wat opreg en waar is. Dit is heilig. Kom ons vergewe soos Hy ons reeds vergewe het. Daardeur kan ons self vrykom.