Vergewe. Vergeet. Laat gaan.

Hoeveel van ons leef met die pyn van teleurstelling in mense – en ons weier om daardie gewig af te laai?

Dalk het ’n onderwyser vir jou gesê jy sal nooit presteer nie. Of ’n afrigter het gesê jy is te stadig. Miskien het iets uit die verlede al jou selfvertroue gesteel. Woorde steek in ’n mens se hart vas en as jy nie “taai” is nie, word daardie woorde dikwels waar.

Laat staan die dinge wat verby is

Te veel mense word vasgevang deur die ankers van gister – daardie slegte, hartseer dinge wat jou keer om voluit te leef. ’n Skip is nie gebou om geanker te bly in ’n hawe nie! Hy is gebou om die wye oseaan in te vaar, op beide kalm sowel as stormsee! Dis wat die lewe ’n avontuur maak.

Ons praat maklik van die “goeie ou dae”. Waarna verlang jy terug? Wat was soveel beter dat jy dit sal wil terughê?

Dit lyk soms asof mense vasgevang is tussen die bekende van gister en die misterieuse van môre – en dit maak dat hulle nie weet wat om met vandag te doen nie. Die waarheid van vandag is dat vandag daardie “môre” is!

Moenie mense vertrou nie, wees net lief vir hulle

As jy ’n ander mens “vertrou” om te dink en te doen soos jy, kan hy jou net teleurstel. Elkeen van ons ken daai teleurstelling. Dis soos ’n dolk in die rug. Dit is dwaas om jou vertroue in mense te sit! Haal die dolk uit – vergewe daai persoon en word gesond!

Daar was talle hartseer oomblikke in my verlede. Vir te lank het ek ander daarvoor verantwoordelik gehou. Vandag weet ek dat alles wat mét my gebeur, ook vír my gebeur. As dit nie vir daardie teleurstellings en seerkry was nie, sou ek nie vandag so toegerus gewees het vir die werk wat ek doen.

Kommer oor die toekoms is ook dwaas. Vrees is een van die grootste wapens wat gebruik word om ons van ons geluk te beroof. Vind uit waarvoor jy hoop en skryf dit neer. Spreek jou hoop uit ten spyte daarvan dat jou realiteit dalk totaal en al anders is.

Daar word vertel van die bejaarde vrou wat langs die pad deur ’n donkiekar opgelaai word. Die drywer sit haar tas voor by haar voete neer. Sy buk af en sit die tas weer op haar skoot. “Hoekom, Tannie?” vra hy. “Die arme donkies trek reeds so swaar; ek wil dit nie vir hulle nóg swaarder maak nie,” sê sy.

[MENTORKLAS VIDEO] Gryp vandag en laat gister agter…

Doen vandag al die goed wat jy lankal uitstel

In ons onkunde besef ons nie dat die kommer en die vrees van die lewe nie deur ons hoef gedra te word nie. Te veel van ons sit op die wa met al ons bagasie op ons skoot.

Neem vandag daardie besluit: om te doen wat jy moet om jou te laat losbreek van die ankers van ongelukkigheid wat jou vashou aan jou gisters. Maak ’n afspraak om vir daardie vriend te gaan kuier wat jy lankal wou sien.

Spandeer ’n paar rand aan jouself of bederf iemand anders. Glimlag ’n slag. Sommer ook vir jou baas. Maak vandag iets met iemand reg, iets wat jy so lankal uitstel. Laat vandag tel. Laat môre vir môre en maak klaar met jou gisters.

Jannie Putter, Leierskaps- en persoonlike ontwikkeling en sportsielkunde

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Jannie.

Gebruik die afslagkode JANNIE om die boek VOLGENDE JAAR JONGER aanlyn te koop op voelgoedboeke.co.za teen 50% afslag. R99 R199