Vergifnis het Hykie van dwelms bevry

0
1022
Hykie Berg

Hykie Berg vertel van sy gesin se vergifnis na sy wilde verlede, en God se liefde wat hom nuut maak.

Die “gat” wat dwelms in my lewe moes toestop

Dis maklik om ander mense of dinge te blameer vir wat in jou lewe verkeerd geloop het. Daar was seker ’n paar eksterne faktore wat ’n rol gespeel het, maar my dwelmmisbruik was my eie besluit. Ek het self daardie paadjie gekies.

Wat kon verder daartoe bygedra het? Dalk dat ek van kleins af ontoereikend gevoel het, asof ek nie goed genoeg was nie. Ek het dikwels eensaam gevoel, asof niemand aan my “kant” was nie. Vandag weet ek dit was nie waar nie. My gesin wás daar vir my, maar ek het op ander plekke emosioneel die seerste gekry.

Op skool was ek hierdie ronde, vet seuntjie met ’n spare tyre om die middellyf. Ek was glad nie sportief soos my ouer broer nie (met wie ek myself gedurig vergelyk het). Die groot, swart letters op my standerd 1-rapport kan ek tot vandag toe voor my sien: “Hy is ’n bietjie lomp.” In my vroeë laerskooljare het ek ook omtrent net een keer ’n rugbybal gevang, en toe seker in die verkeerde rigting gehardloop! Met atletiek was my grootste missie om net vir Gideon Joubert te klop, die outjie wat altyd laaste gekom het. Ek het dit gelukkig elke keer reggekry, en was dus die tweede stadigste in die klas.

Om die een of ander rede het die onderwysers gevoel hulle moet altyd op my skreeu en my vertel hoe useless ek was. Destyds het niemand twee keer gedink oor die krag van jou woorde of om kinders met meer sensitiwiteit te benader nie. Dalk was my gevoelens van ontoereikendheid deel van die sogenaamde middelkindsindroom. Ek het altyd na erkenning gesmag, en toe ek later jare soveel aandag begin kry het omdat ek die verkeerde goed gedoen het, het dit my ’n vreeslike kick gegee.

[pagebreak]

God, en my gesin, het my alles vergewe!

Dis die ongelooflike ding van die Here. As Hy iets regmaak, maak Hy dit totaal en al heel sodat dit selfs beter is as voorheen. Tog was daar baie dinge wat vergewe en vergeet moes word.

Ek was jare lank aan heroïen verslaaf en het as gevolg daarvan my ouers rot en kaal besteel. Ek praat van honderde duisende rande. Dis nie dat ek hulle doelbewus wou seermaak nie, dis net dat dwelmverslawing jou don’t care maak. Tot vandag toe kry ek nog ’n knop in my keel as ek dink hoe ek dinge wat vir my ouers kosbaar was en sentimentele waarde gehad het, vir ’n paar gram se dwelms verkwansel het. Soos my ma se duur ringe en my stiefma se peperduur oorbelle wat my pa spesiaal vir haar uit Spanje saamgebring het. Ek het lank oor die oorbelle gejok – selfs nadat ek skoon was – omdat ek te skaam was om dit te erken.

Vandag weet ek genesing kan slegs begin as daar erkenning en vergifnis is; daarom het ek my ouers doelgerig gaan vra om my te vergewe. Ons het ook ooreengekom op ’n bedrag wat ek moes terugbetaal vir alles wat ek by hulle gesteel het. Dié skuld is intussen afbetaal.

Tydens my optredes by funksies praat ek graag oor vergifnis, want dis só ’n kragtige gebaar. Die dag toe ek uiteindelik die moed bymekaar kon skaap en teenoor my pa erken: “Dad, dit wás ek wat die oorbelle gevat het”, het dit gevoel asof ’n rots van my skouers afrol. Hy het stil geantwoord: “Ek weet dit was jy”, en sy arms om my gesit en my ’n druk gegee. Onvoorwaardelike liefde.

Een middag het ek op my ma se sitkamerbank gaan sit, met haar op my skoot. Sy is ’n klein, fyn vroutjie. Ek het haar reguit in die oë gekyk en om verskoning gevra vir al die jare se droogmaak. Dit was ’n groot deurbraak in ons verhouding. Net om te bevestig hoe goedhartig my ma is: Met my en Melissa se eerste huweliksherdenking vanjaar het sy vir ons ’n klein toegedraaide boksie gegee. Binne-in was nóg ’n kosbare ring wat sy, ondanks al my stelery, vir Melissa gegee het as geskenk. Dit het my diep geraak.

Die heel moeilikste van vergifnis is om jouself te vergewe. Dít kon ek eers regkry toe ek besef het wat my identiteit in Christus is, hoe waardevol ek in Sy oë is. Ek weet vandag ek is meer werd as die somtotaal van al my foute en verkeerde keuses. Dis ook nie meer nodig om na ander se goedkeuring te smag nie, want ek weet hoe God oor my voel. Dís bevrydend!