Verhoudings, liefde en vertroue.. en wanneer die monster tande wys!

Hoekom gee ons baie maal voor in verhoudings, of dit vriendskappe of die huwelik is?

Die rede hiervoor is dat ons almal eintlik diep binne in ons harte weet, dat as die ander persoon ons sou sien vir wie ons is (wanneer ons by die huis is), hulle so vêr as moontlik van ons sal wil weghardloop.. Ja toe, dit sluit ons almal in.. niemand van ons het al “arrive” nie, jy ook nie en elkeen van ons het ons eie dinge.. en as jy eerlik is met jouself (en dit is seker een van die dapperste dinge wat enige mens kan doen), sou jy tien teen een die heel eerste een wees om wye draaie om jouself te hardloop.

Ons almal wil tog behoort, dit is seker een van die sterkste behoeftes van die mens. Dit is waarom ons doelbewus of soms onbewustelik voorgee en dit is ook vir hierdie rede waarom liefde en vertroue so belangrik is in enige verhouding.

Dit is daardie belofte wat jy maak aan die ander persoon wat sê, ek weet dat net soos ek, is jy nie perfek nie en dit is “okay”. Daarom onderneem ek om jou onvoorwaardelik lief te hê vir wie jy kan wees en die liefde wat ek vir jou het, ”Bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.” 1 Korintiërs 13:7

Vanuit hierdie liefde sal ek dan ook doelbewus kies om elke keer wanneer die monster sy of haar tande wys, hom of haar lief te hê vir die goeie, mooi en eerbare mens wat hulle kan wees en dit is ‘n belofte.

Dit is noodsaaklik nie net vir ander nie, maar ook vir onsself om toegewyd aan mekaar te wees, daardie belofte van liefde en vertroue in ‘n verhouding te maak aan mekaar en ten alle tye te eer.

Dit bied aan onsself en aan ander die veilige ruimte om ons beste self te ontdek, te ontwikkel en te wees. Ons is geskep om in liefde te funksioneer en dit is die oomblik wat ons gedwing word om buite liefde te funksioneer wat ons disfunksioneel optree. Wees die vriend, vriendin of lewensmaat wat jy wil hê. Verandering begin by jou, vandag, nou.