“Verkeerde keuses het my na die Here gelei”

511

’n String verkeerde besluite het Shawn Edward Fortuin alles laat verloor, maar dit het hom ook gehelp om geloof te vind toe hy dit die nodigste gehad het. Hier is sy storie.

Met agt kinders in die huis het ons ouers glad nie sleg gevaar wanneer dit by opvoeding of liefde gekom het nie.

As die jongste lid van dié gelukkige gesin het ek al die kanse in die lewe gehad. Op hoërskool het ek uitgeblink in sport en was die kaptein van die eerste rugbyspan. Natuurlik het ek ook my provinsie in rugby en krieket verteenwoordig.

Maar eintlik beteken om gewild te wees op skool nie juis iets in die samelewing nie. Ek was gelukkig genoeg om werk te kry as laboratoriumassistent en my pad van daar af op te werk en kwalifikasies agter my naam te kry.

Na amper dertig jaar by dieselfde maatskappy het hulle ons eendag ingeroep met die nuus dat personeel verminder moes word. Ek het toe my werk verloor. Wat ’n skok!

Ongelukkig het ek die situasie nie goed hanteer nie en het ek verval in ’n lewe van drank- en dwelmmisbruik. My huwelik van vyftien jaar het ook op die rotse geloop in hierdie tyd. Daar was niks sinvols vir my oor in die lewe nie.

Skuldgevoel het my opgevreet. Ek het al hoe meer soos ’n nikswerd gevoel met geen respek vir myself of enigiemand anders nie. Toe ek my weer kom kry, was ek op straat met geen sent op my naam nie.

Dit was ’n donker tyd van los werkies doen, by familie oorslaap en skuiling soek by enige plek wat bereid was om te help. So het ek toe gehoor van MES en die GROW Werkrehabilitasieprogram en besluit om deel te word daarvan.

Hier het hulle my gehelp om my selfbeeld te herstel, geleer om weer in myself te glo en ook vir my ’n ordentlike werk gegee as opsigter van die Safe Space-nagskuiling.

Vandag kan ek die lewe weer vierkantig in die oë kyk en met my getuienis mense na die Here lei. Ek het besef dat God nog altyd lief is vir my, al het ek die verkeerde besluite geneem.

Deesdae is ek vol moed en kan ek met sekerheid my werk doen en uitreik na my medemens.

[divider style=”8″]

MES help behoeftiges om selfstandige lede van hulle gemeenskap te word. Die organisasie, wat deur ’n raad bestuur word, se hoofdoel is om hoop te bring deur skuiling te gee vir haweloses en seker te maak dat hierdie mense ten minste een of twee goeie etes per dag kry.

Die personeel, wat regoor die land versprei is, gee vir diegene wat deel is van die program, opleiding om vaardighede te ontwikkel en help hulle ook om werk te kry en ’n beter toekoms te verseker.

Jy kan help om vir behoeftiges ’n beter toekoms te verseker. Belê in Mould Empower Serve (MES) se doel en besoek www.mes.org.za vir meer inligting. Jy kan hulle ook skakel by 011 725 6531, e-pos by info@mes.org.za of volg op sosiale media by @Mold-Empower-Serve

 

Stories van hoop word aangebied in samewerking met Mergon.